...DEUR SELFONDERSOEK
PINKSTER 2013
Ds AE van den Berg
Lees reeks by Pinksterreeks 2013
“Daarom, my geliefdes, soos julle altyd gehoorsaam gewees het, nie in my teenwoordigheid alleen nie, maar baie meer nou in my afwesigheid, werk julle eie heil uit met vrees en bewing” - Filippense 2:12
Hoe vinnig verander die wêreld darem nie! Ongelukkig nie ten goede nie, maar ten kwade! Ons leef in ’n verworde samelewing wat met sy Handves van Menseregte en mense-verering niks van God of sy Gebod wil weet nie. Die meeste mense aanvaar nie meer die standaarde wat jare lank gehuldig is nie. Daar is vir eeue lank in God geglo, die Bybel as sy onfeilbare Woord aanvaar en in Jesus geglo. Vandag nie meer nie. Ja, alles het verander. Wie vandag nog die eertydse grondliggende Bybelbeginsels huldig, word as uit pas met die tyd geëtiketteer – oudtyds en bleeksielig!
Ons leef in ’n na-Christelike era. Dit raak nie net die gemeenskapslewe nie, maar het ook ’n negatiewe invloed op die kerklike lewe in Suid-Afrika. Daarom verander dinge gedurig op kerklike gebied. Vrouens beklee kerkampte, moffies word op kansels toegelaat en verdraagsaamheid word jeens afgodsdiens gepredik. Saambly en homoseksualiteit word deur groot kerke as alternatiewe leefwyses aanvaar.
Hoe oorleef gelowiges in so ’n verworde wêreld? Wat moet ons doen om die waansinnige rigting waarin ons land beweeg, effektief teen te werk? Moet ons dinkskrums hou en soos die Derdewêreld mens met politieke mag, boikotte en ekonomiese afpersing dinge probeer verander? Is die gebruik van geweld nie dalk tog ’n oplossing nie? Ons sal iets moet doen om die verrotting te keer en ons kinders te beskerm! Ons durf nie boedel oorgee en willoos saam met die stroom swem nie!
Wat moet ons doen? Die Bybel het ’n aksieplan. Paulus skryf in ’n voor-Christelike era aan die Filippense, gelowiges wat in ’n Griekse stad, Philippi, gebly het. Hierdie stad was ’n kookpot van heidendom met sy veelgodery en sedelose lewensgang. As Paulus vandag geleef het, sou hy heel waarskynlik oor dieselfde dinge aan ons geskryf het! Dit waaroor hy aan die Filippense skryf, vertel ons wat om te doen om die aanslag van Satan te oorleef en aan ’n krom en verdraaide geslag leiding te gee. As ons hierdie voorskrifte nakom, skyn ons vir Jesus soos ’n helder lig in ’n baie donker wêreld.
Om vir Jesus te skyn, moet ons eerstens introspeksie beoefen – hand in eie boesem steek. Hoe ons elke dag leef, getuig van Jesus se teenwoordigheid òf van sy afwesigheid in ons lewe. Ons trek mense na Jesus of ons stoot hulle weg. Jesus leer ons ’n groot waarheid in sake introspeksie: “En waarom sien jy die splinter in die oog van jou broeder, maar die balk in jou eie oogmerk jy nie op nie? Geveinsde, haal eers die balk uit jou eie oog….” (Mt.7:3, 5). Ons kan nie ander teregwys as ons eie lewe nie reg is nie. Om vir Jesus te skyn, begin by selfondersoek. Daarvoor moet ons oor ’n paar sake duidelikheid kry.
Eerstens: Dien ons Jesus met vrees en bewing? Is ons met eerbied en ontsag vir Hom gevul? Hy is nie ’n speelmaat nie. Om met Hom familiêr te wees, straal ’n negatiewe beeld na ’n verlore wêreld uit. So ’n lewe getuig allermins van ’n lig wat skyn; eerder van een wat kwyn! Die charismatiese bewegings maak hulle dikwels hieraan skuldig.
Jesus praat baie duidelik van die vrees vir God: ”En moenie vrees vir die wat die liggaam doodmaak, maar die siel nie kan doodmaak nie; maar vrees Hom liewer wat die siel sowel as die liggaam kan verderwe in die hel” (Mt.10:28).
Om suksesvol vir Jesus te skyn, moet ons Hom toelaat om in ons te werk. “En aan Hom wat mag het om te doen vêr bo wat ons bid of dink, volgens die krag wat in ons werk” (Efes.3:20). God werk slegs met gewillige mense wat uit hulle gemaksone tree en geestelike skouer aan die wiel sit.
Aan die Weskus van Amerika is daar ’n kolonie bruin pelikane wat eeue lank hul bestaan uit die see maak. Hulle het hard vir hul oorlewing gewerk. Toe daar later van jare ’n visfabriek in hul omgewing opgerig is, het hulle van al die afvalvis wat in die see gestort is begin leef. In plaas van daagliks vir hul kos te werk, het al hul kos op die water gedryf. ’n Hele paar geslagte pelikane het so gemaklik grootgeword, vet en lui omdat hulle nie nodig gehad het vir hul kos te werk nie. Toe die fabriek jare later sluit, was daar nie meer afvalkos nie en het die pelikane die dood in die gesig gestaar omdat hulle vet was en die vermoë om vêr te vlieg, verloor het. Hulle was in ’n lewensgevaarlike gemaksone. Al uitweg was om weer hard vir hul kos te begin werk. ’n Soortgelyke ding het op geestelike gebied in Suid-Afrika gebeur. Die Boerevolk het dit vir baie jare te maklik gehad. Ons sal moet opstaan en opofferings maak om vir Jesus te skyn!
Om vir Jesus te skyn, moet ons God se wil sonder teëspraak of murmurering in ons lewens aanvaar ….en ophou kla! Dis maklik om as dinge nie na wense verloop nie, te kla. Laat oud-Israel vir ons ’n waarskuwingsles wees. Hulle het God nie vir hul oorlewing in die woestyn vertrou nie en gevolglik gedurig gekla. En God het ’n hele geslag van die klakouse in die woestyn laat sterf. “En moenie murmureer soos ook sommige van hulle gemurmureer het nie….Maar al hierdie dinge het hulle oorgekom as voorbeelde en is opgeskrywe as ’n waarskuwing aan ons…” ( 1 Kor.10:10,11).
Om vir Jesus te skyn, moet ons onberispelik en opreg voor Hom en ons naaste leef. Dit beteken om nie opsigtelik te sondig nie. En as ons sondig, moet ons dit bely. Niks mag ons lig vir Jesus verdoof nie. Selfs nie lewensgevaar nie. “Kyk, Ek stuur julle soos skape onder die wolwe in; wees dan versigtig soos die slange en opreg soos die duiwe” (Mt.10:16).
Om vir Jesus te skyn, moet ons ook aan die woord van die lewe vashou. Die Bybel is die enigste aanvalswapen in die wapenrusting van God (Efes.6). Dis die instrument wat die Heilige Gees gebruik om die wêreld van sonde en geregtigheid te oortuig. “Want ek skaam my nie oor die evangelie van Christus nie, want dis ’n krag van God tot redding vir elkeen wat glo…” (Rom.1:16).
Ons moet self daaraan vashou en dit soos ’n reddingsgordel aan die drenkelinge van ons ontspoorde volk uitgooi. Esra het ’n mooi voorbeeld vir sy volk gestel en ’n sekere orde gevolg wat ons gerus ook kan volg: “Want Esra het sy hart daarop gerig om die wet van die Here te ondersoek en dit te betrag en om Israel die insettinge en verordeninge te leer” (Esra 7:10). Esra het die Woord gelees, dit goed oordink en Israel daarna geleer om dit te onderhou.
Fil.2:12-16 leer ons hoe om vir Jesus te skyn en begin by eerbied vir God. Wanneer ons Hom met vrees en bewing begin dien, sal ons Hom toelaat om in ons te werk. Wanneer Hy in ons werk, doen ons sy wil sonder om te kla en leef ons soos kinders van God sonder gebreke en hou aan die waarheid van sy Woordvas.
Om vir Jesus te skyn, bring ook beloning. Ons sal met die wederkoms ongekende vreugde ervaar en weet dat ons opofferings nie tevergeefs was nie! Dan sal ons ook Jesus se woorde aan die flukse diensknegte hoor:“….Mooi so, goeie en getroue dienskneg, oor weinig was jy getrou, oor veel sal Ek jou aanstel. Gaan in, in die vreugde van jou heer” (Mt.25:21). “….Wees getrou tot die dood toe en Ek sal jou die kroon van die lewe gee” (Openb.2:10).
Ons gaan in die volgende paar aflewerings by elkeen van hierdie stappe stilstaan en leer hoe om vir Jesus te skyn. Mag God ons genade gee om die oorblywende tyd op ons aardse parkeermeter reg te gebruik!