LAAT ONS SKYN VIR JESUS (4)

... SONDER TEENSPRAAK

PINKSTER 2013

Ds AE van den Berg

Lees reeks by Pinksterreeks 2013

“Doen alles sonder murmurering en teëspraak” Filippense 2:14

Jesus wil dat ons vir Hom soos ’n lig in ’n donker wêreld met sy krom en verdraaide mense skyn.   Ons het in die voorafgaande aflewerings gesien hoe dit gedoen moet word – deur selfondersoek, met vrees en bewing en deur ’n rein kanaal te wees waardeur God kan werk.   Die gelese gedeelte het ’n bedekte waarskuwing in vers 14: “Doen alles sonder murmurering en teëspraak”

Wanneer murmureer ’n mens?   As hy mompelend kla.  Nadat Israel uit Egipte verlos is, het hulle baie gekla en selfs na die slawerny in Egipte terugverlang.   Dit het God so kwaad gemaak dat Hy ’n hele geslag in die woestyn laat sterf het.   Gelowiges moet nooit oor dit wat God op hul pad bring, kla nie.   Dit maak Hom kwaad.  “En moenie murmureer soos ook sommige van hulle gemurmureer het nie en hulle het deur die verderwer omgekom, maar al hierdie dinge het hulle oorgekom as voorbeelde en is opgeskrywe as ’n waarskuwing aan ons …” (1 Kor.10:10,11).

Die Bybel waarsku dat murmurering valse leraars aan die einde van die tyd sal kenmerk.  “Hulle is murmureerders wat oor hul eie lot klae en volgens hul begeerlikhede wandel…” (Jud: 16).  Mense wat voorgee om Christene te wees, maar heeldag kla, kan nooit vir Jesus skyn nie.   Die teenoorgesteld is egter waar:  Mense wat swaarkry, maar die geloofspad sonder om te kla bewandel, is sterk getuies en skyn waarlik vir Jesus!

Murmurering moet plek maak vir danksegging.  Iemand wat murmureer is ontevrede.   Christene het te veel om voor dankbaar te wees.  “Geseënd  is die God en Vader van ons Here Jesus Christus wat ons geseën het met alle geestelike seëninge in die hemele in Christus” (Efes.1:3).

Maar waarom murmureer mense?   Omdat hulle hul kwel.  ’n Kind van God durf hom nie kwel nie: “Daarom moet julle jul nie kwel en sê :  Wat sal ons eet, of wat sal ons drink, of wat sal ons aantrek nie?  Want na al hierdie dinge soek die heidene; want julle Hemelse Vader weet dat julle al hierdie dinge nodig het.” Maar soek eers die koninkryk van God en sy geregtigheid en al hierdie dinge sal vir julle bygevoeg word” (Mt.6:31-33).

Ons hemelse Vader weet van elke behoefte en sal in ons node voorsien.  Al wat God vra, is dankbaarheid.   Paulus skryf aan die Kolossense oor dankbaarheid en sê dat gelowiges dankbaar vir hul hemelse erfporsie moet wees:  “en die Vader mag dank wat ons bekwaam gemaak het om deel te hê aan die erfdeel van die heiliges in die lig” (1:12).   Dankbaarheid bring vrede in die hart en laat mense baie helder vir Jesus skyn: “En laat die vrede van God….in julle harte heers en wees dankbaar” (3:15).

Ongelukkig het dankbaarheid ’n baie skaars item in gelowiges se geestelike mondering geword.   Wat sien mense in ons lewe?   Mense wat gedurig oor die ekonomie, politiek en baie ander dinge kla of mense wat bo-oor al die nare dinge kyk en nog steeds vir Jesus, aan Wie alle mag in die hemel en op aarde behoort, raaksien?   Dis die mens wat vir Jesus skyn!

Die oë van die wêreld is op gelowiges.  Hulle vind graag fout met gelowiges.   Daarom moet die onderlinge verhouding tussen gelowiges onberispelik wees.   Niks skaad die band tussen gelowiges soos twis en ’n bakleiery nie.   Dit was ’n probleem in die eerste kerk:

“As iemand iets anders leer en nie instem met die gesonde woorde van ons Here Jesus Christus …. dié is verwaand en verstaan niks nie, maar het ’n sieklike sug na twisvrae en woordestryd waaruit ontstaan afguns, twis, lasteringe, bose agterdog, nuttelose stryery van mense wat verdorwe is in hul verstand en van die waarheid beroof is…Onttrek jou aan sulke mense” (1 Tim.6:3-5).

Ongelukkig kon die kerk hierdie probleem nooit afskud nie.  Talle gemeentes het weens twis en bakleiery tot niet gegaan of andersins so verklein, dat hulle beswaarlik bediening het!  “Maar as julle mekaar byt en opeet, pas op dat julle nie die een deur die ander verteer word nie” (Gal.5:15).  Bakleiery in kerklike geledere vernietig gelowiges se vermoë om die wêreld van die redding in Jesus te oortuig.  ’n Bakleier kan nooit vir Jesus skyn nie, slegs vir Satan!

Gelowiges sal verskille hê.  Dit moet egter op ’n ander manier as die wêreld s'n bygelê word.   Ons het verskillende agtergronde en menings en dit neem tyd voordat ons optree soos Christus dit wil hê: “...maak dan my blydskap volkome deur eensgesind te wees en dieselfde liefde te hê, een van siel, een van sin” (Gal.2:2).

Feit bly staan - om vir Jesus te skyn, moet ons anders as die wêreld met ons verskille te werk gaan.   Met eienskappe soos goedheid, geduld, menslikheid en vergifnis, is ons anders en skyn ons vir Jesus in ’n bose, strydlustige wêreld.

Al verskil ons van mekaar, kan ons nog steeds vir Jesus skyn.  Dit hang net af van hoe verskille hanteer word!  Laat ons kennis neem van die Skrif se waarskuwing teen murmurering.  Doen dit wat God sê sonder teenstribbeling.

Hendrik die Derde was eeue gelede koning van Beiere en het by geleentheid so moeg geword vir die druk wat die koningskap op hom geplaas het, dat hy by die plaaslike klooster aansoek gedoen het om die res van sy lewe daar deur te bring.  Die biskop het hom gewaarsku dat hy ’n belofte van absolute gehoorsaamheid aan hom sou moes aflê, wat Hendrik toe gedoen het.  Daarna het die biskop hom beveel om na sy troon terug te gaan waar God hom geplaas het.   Op sy graf staan geskryf: Die koning het geleer om te regeer deur gehoorsaam te wees.

By geleentheid het ’n man verby ’n soldaat geloop wat vir geen goeie rede iewers wag gestaan het.  Toe hy hom vra waarom hy daar wagstaan, het hy geantwoord dat hy nie weet nie, hy voer maar net bevele uit. Toe die wag sy  offisier vra, het hy ook nie geweet nie.  En so het die navraag tot by die paleis gevorder.   Toe die koning ook nie weet nie, het hy sy raadgewers aangesê om uit te vind.   Navorsing het getoon dat koningin Katharina die Grote meer as ’n eeu tevore ’n roosboom daar laat plant en ’n wag daar geplaas het om dit op te pas.   Die roosboom was toe alreeds 80 jaar dood, maar die plek is opgepas omdat die koningin so gesê het!

Doen wat die hemelse Koning jou aansê om te doen, sonder teenstribbeling.  Al begryp jy dit nie, sal jy vir Jesus skyn!