... SOOS KINDERS SONDER GEBREK
PINKSTER 2013
Ds AE van den Berg
Lees reeks by Pinksterreeks 2013
“...sodat julle onberispelik en opreg kan wees, kinders van God sonder gebrek te midde van ’n krom en verdraaide geslag onder wie julle skyn soos ligte” Filippense 2:15.
Om vir Jesus te skyn, gee Paulus vir gelowiges nie net rigting en hoop nie, maar ook ’n waarskuwing. Rigting deur selfondersoek, hoop deur ons daaraan te herinner dat God ons die nodige krag gee en ’n waarskuwing om nie te kla nie. Maar, waarom al hierdie voorskrifte? Sodat ons soos dit kinders van God betaam, onberispelik en opreg in ’n verworde wêreld kan leef.
Ons moet anders as die wêreld wees, omdat die wêreld nie onberispelik en opreg is nie. Kinders van God bevind hul onder ’n krom en verdraaide geslag. Mense wat anders leef, het ’n positiewe invloed op hul gemeenskap.
Wat beteken dit om sonder gebrek te wees? Die Griekse woord amemptos beteken blaamloos in die sin van om geen fout/afwyking te toon nie; in Engels flawless. Pilatus sê vir die Jode dat hy geen fout in Jesus vind nie.
Om sonder gebrek te wees, beteken nie om sondeloos te wees nie, maar om op so ’n wyse te leef, dat ons geen uitstaande foute het nie. “Betoon jou in alles ’n voorbeeld van goeie werke, met onvervalstheid in die leer, waardigheid, opregt-heid. Laat die woord gesond en onweerspreeklik wees, sodat die teëstanders beskaam kan word en niks slegs kan hê om van julle te sê nie” (Tit.2:7,8).
Indien ons uitstaande sondes het, sal mense ons boodskap nie ernstig opneem nie. Veral as ons hulle op hul foute wys! Ons moet leef soos ons sê. Om dit te vermag, moet ons daaglikse selfondersoek instel. En as ons sondig, onmiddellik ons skuld bely. En as ons ander vermaan, moet dit in die gees van opregtheid, geduld en menslikheid doen.
“...en ’n dienskneg van die Here moet nie twis nie, maar vriendelik wees teenoor almal, bekwaam om te onderrig en een wat kwaad kan verdra. Hy moet die weerspanniges in sagmoedigheid teregwys, of God hulle nie miskien bekering sal gee tot die kennis van die waarheid nie en hulle weer nugter kan word, vry van die strik van die duiwel, nadat hulle deur hom gevang was om sy wil te doen” (2 Tim.2:24-26).
Wie vir Jesus wil skyn, moet niemand benadeel nie. Hy moet onberispelik en derhalwe skadeloos wees. Die Griekse woord vir skadeloos is akeraios wat beteken sonder ’n mengsel van boosheid, vry van skuld, onskuldig, eenvoudig. Wat jy sien, is wat jy kry. Hierdie woord kom slegs drie maal in die NT voor. Die eerste keer wanneer Jesus die dissipels op hul eerste Sendingtog stuur en vir hulle sê: “Kyk, Ek stuur julle soos skape onder die wolwe in; wees dan versigtig soos die slange en opreg soos die duiwe” (Mt.10:16). Die tweede keer wanneer Paulus die gelowiges in Rome vermaan om “onskuldig teenoor die wat sleg is” te wees (Rom.16:19). Dit beteken om eenvoudig en reguit te wees. Die derde keer in ons bg teksvers.
Gelowiges moet vry van enige vlek of vermoede van boosheid wees. Ook nie uit twee monde praat nie. Om vlekkeloos te wees is belangrik omdat dit die teenstanders beskaam maak. Hoe verskil gelowiges nie van ongelowiges wat mense intimideer, pla en soms geweld gebruik om hul doel te verwesentlik nie! Dis dwang! In die politiek word vuil wasgoed uitgehang om ’n teenstander die loef af te steek. “Ons lê nie die minste hindernis in die weg nie, sodat die bediening nie beklad kan word nie” (2 Kor.6:3). “...want ons bedink wat goed is nie alleen voor die Here nie, maar ook voor die mense” (2 Kor.8:21).
Om kwaad met kwaad te bestry, plaas gelowiges op die vlak van ongelowiges. “..vergeld niemand kwaad vir kwaad nie; bedink wat goed is voor alle mense; as dit moontlik is, sovêr as dit van julle afhang, leef in vrede met alle mense. Moenie julle wreek nie, geliefdes, maar gee plek vir die toorn; want daar is geskrywe: Aan My kom die wraak toe, Ek sal vergeld, spreek die Here” (Rom.12:17-20).
Om anders as die wêreld op te tree, is ’n uitdaging. Ons is so geneig om kwaad met kwaad te vergeld, of om nie met die Woord van God rekening te hou nie. As ons die harte van mense wil verander, moet dit in ooreenstemming wees met God wat harte verander deur die Evangelie van liefde, opoffering en genade. As ons kinders van God is, sal ons die Hemelse Vader na-aap deur aan ander goed te doen.
Leef onberispelik want sonde verwoes ’n lewe.
Leonardo da Vinci was besig om sy Laaste Avondmaal te skilder en het na ’n model vir die Christusfiguur gesoek. Uiteindelik het hy Pietro Bandinelli’n koorknaap in Rome gekies, ’n mooi jongman met ’n skoon lewe. Die jare het verbygegaan maar die skildery nooit voltooi nie. Al die dissipels is geskilder behalwe Judas Iskariot. Da Vinci het iemand gesoek met ’n harde gesig wat deur sonde verwronge is. Uiteindelik het hy ’n besope bedelaar in Rome se agterstrate gevind met ’n harde misdadigergesig en nie eens sy naam gevra nie. Toe Da Vinci klaar met die man was, het hy sy identiteit openbaar – Pietro Bandinelli en aan Da Vinci gese: “Ek was ook jou Christusfiguur. Dit is wat sonde aan my gedoen het!”
Skyn vir Jesus met jou onberispelike lewenswandel!