... DEUR AAN DIE WOORD VAN DIE LEWE VAS TE HOU
PINKSTER 2013
Ds AE van den Berg
Lees reeks by Pinksterreeks 2013
“...deurdat julle die woord van die lewe vashou, my tot roem teen die dag van Christus, dat ek nie verniet geloop of verniet gearbei het nie” Filippense 2:16.
Om vir Jesus se skyn deur selfondersoek (1), met vrees en bewing (2), deur God in ons toe te laat (3), sonder teëstribbeling (4) en soos kinders sonder gebrek te wees (5) is iets baie belangrik nodig, iets waarsonder ons lig nie kan skyn nie; die woord van die lewe. Soos wat ’n lamp nie sonder olie kan skyn, kan ons lig nie sonder die olie van die Woord van die Here skyn nie. Soos olie vir die lamp, is die Woord van God vir getuienis!
Die Bybel leer ons om ons lewe te ondersoek. “Deurgrond my, o God en ken my hart; toets my en ken my gedagtes; en kyk of daar by my ’n weg is van smart en lei my op die ewige weg” (Ps.139:23, 24). Die Bybel leer ons die vrees van God. Dit word ook die swaard van die Gees genoem en ’n onontbeerlike element om God toe te laat om in ons te werk. Deur die Bybel te bestudeer, sien ons hoe gevaarlik dit is om te kerm en te kla – en met behulp van die Woord kan ons vlekkeloos soos kinders sonder gebrek leef.
Om al hierdie dinge te laat gebeur, moet ons aan die woord van die lewe vashou. Leer uit die lewe van Esra, ’n jong priester in die OT wat sy volk uit die Babiloniese ballingskap gelei het. Wat het ’n geestelike leier van hom gemaak? : “Want Esra het sy hart daarop gerig om die wet van die Here te ondersoek en te betrag en om Israel die insettinge en verordeninge te leer” (Esra 7:10). Ja, die vrees van die Here is vir leiers die beginsel van wysheid. ’n Leier wat misluk, vrees God nie!
Hoe hou ’n mens aan die woorde van die lewe vas? Deur studie. Moenie net die Bybel lees nie, leer dit ook. Kan ’n mens ’n eksamen slaag deur die werk net deur te lees? Nee, dit moet bestudeer word. So ook met die Bybel. Wie die Bybel wil bestudeer, moet ’n begeerte daarna hê. “...en verlang sterk soos pasgebore kindertjies na die onvervalste melk van die woord, dat julle daardeur kan opgroei” (1 Pet.2:2).
’n Liefde vir en kennis van die waarheid van die Woord vestig dit in jou lewe. Antwoorde kom by jou op soos saad wat in goeie grond val: “Daarom, doen afstand van alle vuilheid en oorvloed van boosheid en ontvang met sagmoedigheid die ingeplante woord, wat in staat is om julle siele te red” (Jak.1:21). En dis net moontlik deur daaglikse studie.
Hoor wat sê God vir Josua toe hy as opvolger van Moses aangewys word: “Hierdie wetboek mag uit jou mond nie wyk nie; maar bepeins dit dag en nag, sodat jy nougeset kan handel volgens alles wat daarin geskrywe staan; want dan sal jy in jou weë voorspoedig wees en dan sal jy met goeie gevolge handel” (Jos.1:8).
Kennis van die Woord verhoed dat jy dwaal of in sinnelose gesprekke beland. “As iemand iets anders leer en nie instem met die gesonde woorde van ons Here Jesus Christus …. dié is verwaand en verstaan niks nie, maar het ’n sieklike sug na twisvrae en woordestryd waaruit ontstaan afguns, twis, lasteringe, bose agterdog, nuttelose stryery van mense wat verdorwe is in hul verstand en van die waarheid beroof is…Onttrek jou aan sulke mense” (1 Tim.6:3-5).
Om vir Jesus te skyn, moet ons die regte voorbeeld stel. Daarvoor moet ons optrede Skrifgetrou wees: “Betoon jou in alles ’n voorbeeld van goeie werke, met onvervalstheid in die leer, waardigheid, opregtheid. Laat die woord gesond en onweerspreeklik wees, sodat die teëstanders beskaam kan word en niks slegs kan hê om van julle te sê nie” (Tit.2:7,8).
Die grootste gevaar wat gelowiges se lig kan verdof, is om net hoorders van die Woord en nie daders te wees nie. Dit wat ons hoor, moet ons toepas. As ons dit nie doen nie, mislei ons onsself. Die Satan soek net hoorders, nie daders nie.
Die wêreld het genoeg mense wat praat, maar nie doen nie. Alhoewel alles wat hul sê waar is, pas hulle dit nie in hul lewe toe nie. Niks skaad ’n getuienis soos iemand wat sê dat hulle Christene is, maar dit nie is nie. Laat ons nie net God se wil leer nie, maar dit ook soos ’n Esra van ouds toepas: “Want Esra het sy hart daarop gerig om die wet van die Here te ondersoek en te betrag en om Israel die insettinge en verordeninge te leer” (Esra 7:10).
Daar word dikwels van die sewe wonders van die wêreld gepraat, maar wat van die sewe wonders van die Bybel?
- Die wonder van sy ontstaan. Die wyse waarop dit ontstaan en oor ‘n tydperk van 1500 jaar gegroei het, is een van die wonders van alle tye.
- Die wonder van sy eenheid. Alhoewel dit net een boek is, is dit in werklikheid ‘n biblioteek van 66 boeke.
- Die wonder van sy ouderdom. Dis die oudste van alle boeke.
- Die wonder van sy verkope. Dis die wêreld se topverkoper.
- Die wonder van sy belangstelling. Alle mensegroepe lees dit.
- Die wonder van sy taal. Alhoewel dit hoofsaaklik deur ongeletterdes geskryf is, getuig dit van hoogstaande literêre gehalte.
- Die wonder van sy bewaring. Dis die mees gehate boek, desondanks bly dit vir ewig bestaan.
Ons het ’n groot taak om God se Woord aan ’n dwase wêreld te bring: “Maar julle is ’n uitverkore geslag, ’n koninklike priesterdom, ’n heilige volk, ’n volk as eiendom verkry, om te verkondig die deugde van Hom wat julle uit die duisternis geroep het tot sy wonderbare lig, julle wat vroeër geen volk was nie, maar nou die volk van God is; aan wat toe geen barmhartigheid bewys is nie, maar nou bewys is” (1 Pet.2:9-10).
Die hoop van die wêreld lê daarin dat die lig die duisternis verdryf. Daarom het God ons deur die Evangelie uit die donker na die wonderbare lig geroep en wil ons gebruik om ander te help. Moenie nalaat om jou lig met ander te deel nie. God het jou genoeg daarvan gegee!