Adam
Lees volledig by Leer jou vrese hanteer
Kom ons stel liefde en vrees teenoor mekaar:
Liefde soek na geleenthede om te gee; dit vra: "Wat kan ek vir iemand anders doen?"
Vrees is bang vir die moontlike gevolge wat betrokkenheid by ander mense kan meebring en daarom vra dit: "Wat sal hy aan my doen?"
Liefde dink nie kwaad nie, terwyl vrees omtrent net kwaad bedink.
Die liefde 'glo alles';
vrees is altyd agterdogtig.
Die liefde is so besig met vandag se take dat dit nie tyd het om oor môre te kwel nie.
Omdat vrees op môre konsentreer, versuim dit om vandag se verantwoordelikhede na te kom.
Liefde lei na groter liefde – om verpligtinge na te kom bring vrede, vreugde en bevrediging en groter liefde en toewyding.
Vrees veroorsaak meer vrees, want deur te versuim om verantwoordelikhede na te kom, word ekstra vrees veroorsaak oor die gevolge van onverantwoordelike optrede.
Daar is 'n groot waarheid: Die vrees van God verdryf alle ander vrees.
Dit is interessant dat die liefde van God en die vrees van God feitlik gelykgestel word. Hulle staan nie teenoor mekaar nie maar werk saam. Diegene wat God vrees en sy Woord ernstig opneem, vind dat hierdie vrees in liefde ontwikkel. Die vyand van alle sondige vrees is liefde; liefde vir God en jou naaste. Om van vrees ontslae te raak moet 'n mens dus liefhê.
Daar is geen krag wat vergelyk kan word met die krag van God se liefde wat deur die Heilige Gees in ons harte uitgestort word nie. Dit beteken dat as jy ontslae wil raak van vrees, jy al daardie take moet doen wat jy netnou neergeskryf het – met 'n liefdevolle gesindheid.
Jy mag nou redeneer dat dit juis die probleem is; elke keer wanneer jy daardie dinge probeer doen, verhinder jou vrees jou om dit uit te voer. Maar kom ons kyk presies wat gebeur elke keer:
Vrees is nie 'n monster wat jou beetkry en waaroor jy geen beheer het nie. Dit is nie die geval nie want jy bewerkstellig self die vrees. Geen mens, geen krag van buite, kan die vrees in jou veroorsaak nie. Daarom is jy altyd self verantwoordelik vir vrees, net soos wat jyself verantwoordelik is vir liefde. God gebied ons om lief te hê en belet ons om te vrees. God beveel ons nie om ons gevoelens te reguleer nie maar Hy wil hê dat ons hierdie dinge doen wat voorkom dat vrees ontstaan. En ons weet wat dit is:
'n Verantwoordelike gesindheid en optrede teenoor God en teenoor ons naaste. Kortom: dit beteken om dié dinge te doen wat jy vroeër op daardie lysie geskryf het.
Dalk redeneer jy nou dat jy al reeds alles probeer het maar dat niks gehelp het nie; dat dit jou nie traak of jyself die vrees laat ontstaan het nie omdat jy glo jy kan nie die dinge doen wat jy neergeskryf het nie – net omdat jy bang is! Daar is 'n oplossing daarvoor:
Die probleem is nie dat jy nie daardie liefdestake kán verrig nie; jy is báng jy kan dit nie verrig nie. Jy is so vreeslik bang, dat jy dit uit bangheid nie kan verrig nie. Met ander woorde, jy veroorsaak self die vrees wat jou daarvan weerhou om die liefdevolle take te verrig. Let op hoe jou gedagtes kan verander: in plaas daarvan om te sê: "Ek is bang daarvoor", kan jy met reg sê: "Ek is lief daarvoor." Net soos wat jy die woorde kan verander kan jy die ooreenkomstige feite verander. As jy vrees vervang met liefde in jou lewe sowel as in jou taal kan verwoord, sal jy kan doen wat die liefde jou aanspoor om te doen.
Nou tot die kern van die saak:
Jy dink dat jy al alles gedoen het om vrees in jou lewe te keer.
Dit is presies waarom jy sukkel om jou vrese te oorwin. Jy het probeer om dit te keer – dit was jou hoofdoel. Maar jy moet ophou om jou vrese te probeer keer. Dit is die eerste stap. Dit beteken nie dat jou vrese sal ophou net omdat jy besluit het om nie te vrees nie, nee, jy moet eers al jou besorgdheid wegkeer van jou vrees en van die situasie wat jy vrees. In plaas daarvan moet jy jou besorgdheid volkome daarop toespits om die liefdevolle dinge te doen wat God van jou verlang. Net soos wat jou aandag in beslag geneem is deur te dink aan jou vreeservaring, moet jy nou jou tyd en aandag daaraan gee om te beplan en uit te sien na die uitvoer van jou pligte. Soos jy altyd met vrees wonder wat dalk gaan gebeur om jou in 'n verleentheid of in gevaar te stel, so moet jy nou leer om gretig te wonder wat jy kan doen om God en jou medemens te behaag.
Jy dink dalk nou: maar dit is presies wanneer ek begin vrees – wanneer ek begin dink aan 'n situasie wat vrees veroorsaak.
Nee, self jou taal moet verander (onthou, 'n mens dink eers wat jy later sê). Jy moet nie meer aan die ervaring dink of daarvan praat as 'n vreeswekkende ervaring nie. In plaas daarvan moet jy jou instel op die liefdevolle sy daarvan; fokus jou gedagtes en woorde op die weldaad wat jy aan iemand anders kan verrig. Die liefde kyk nooit na homself nie, of na die gevolge wat 'n handeling vir homself kan bring nie; die liefde het altyd die welsyn van 'n ander persoon ingedagte. Daarom is die liefde gewillig om risiko's te waag.
Dalk het jy 'n sekere vreeservaring in die verlede gehad wat jy nie kan vergeet nie. As voorbeeld: Jy het moontlik beangs geraak tussen 'n skare mense. Die ervaring was so skrikwekkend dat dit jou nou nog bang maak net om daaraan te dink. Jy dink: Ek wil nie hê dit moet ooit weer gebeur nie. Maar terwyl jy daaraan dink, besef jy dat dit moontlik weer kan gebeur en word jy op daardie oomblik so bang dat dit weer sal gebeur. Wat is nou aan die gang? Jy word bang deurdat dievrees jou beetpak dat jy bang sal word. Dus is jy bang vir die bang, nie vir die gebeure nie. Op hierdie manier neem die vrees steeds in intensiteit toe. Sien jy die kringloop? Jy het dalk tevore tussen mense bang geword omdat jy te min geslaap het, dalk was jy besig met eksamen, en toe die angs kom het jy dit verbind met die skares mense. Nou bly jy weg van skares mense uit vrees dat jy weer 'n vreeservaring gaan hê. Die voorsorg wat jy tref, is dus uit vrees. Hoe meer voorsorg jy tref, hoe meer besorg is jy, en hoe erger word die situasie. En hoe meer jy mense vermy, hoe vreesaanjaender word hulle. Hoe meer besorg jy oor sulke dinge is, hoe meer vrees roep jy op. Dit is nie die skares wat die vrees veroorsaak nie – skares het nie daardie krag nie. Jy is bang vir 'n groot klomp mense omdat jy 'n vreeservaring met betrekking tot skares gehad het. En sedert daardie eerste ervaring was jy telkens beangs tussen mense omdat jy bang was dat jy beangs sou word tussen mense. Sien jy nou dat dit nie die mense is wat die vrees veroorsaak nie? Dit is jou vrees vir vrees wat dit veroorsaak. 'n Groot klomp mense herinner jou aan die vreeservaring wat jy in die verlede gehad het.
Nou kan jy ophou om jou vrees te vrees en kan jy begin om God en jou naaste lief te hê.
As jy besluit en begin om God en jou naaste lief te hê sal jou lewe wat tot dusver deur vrees oorheers is, verander in 'n lewe wat oorheers word deur liefde. Dit is die enigste manier om vrees te bowe te kom. Dit was die weg wat die vroeë Christenmartelare gevolg het. Dit moet ook jou uitweg wees. Jy sien nou dat om te probeer om nie te vrees nie nie, net meer vrees veroorsaak. Die poging is dus heeltemal teenproduktief. Wanneer jy probeer om nie te vrees nie, is jy alreeds bang dat jy bang sal wees, anders sou jy nie so hard probeer om op te hou vrees nie. In plaas daarvan moet jy leer om jouself in gebed te verbind om te doen wat God van jou verlang, of jy op hierdie manier 'n vreeservaring sal hê of nie. Dit is die enigste sleutel tot die pad na vryheid – vryheid van vrees.
Konsentreer nou op die liefdestake wat jy aan diegene wat naby aan jou leef gaan doen. Gaan neem deel aan die bedrywighede van jou kerk, bied jou hulp aan waar dit nodig blyk. En boweal, dank God vir die vordering wat jy maak met jou take. Moenie jouself toelaat om weer aan jou vreeservaring te dink en dit te probeer keer nie, dink aan hoe jy God met jou talente kan dien deur ander te help. Wanneer jou gedagtes na daardie verbode terrein terugkeer, en dit sal totdat jy geleer het om jouself te dissiplineer en lief te hê, verander dan doelbewus jou gedagtegang. Vra dan vir God met beslistheid om jou te help om jou gedagtes weer te fokus op daardie dinge wat aansluit by Paulus se lys in Fil 4:8,9: "...alles wat waar is, alles wat edel is, alles wat reg is, alles wat rein is, alles wat mooi is, alles wat prysenswaardig is – watter deug of lofwaardige saak daar ook mag wees – daarop moet julle julle gedagtes rig."
Ontwikkel die gesindheid van: Wat maak dit saak as ek weer 'n vreeservaring kry? Dis onaangenaam, hinderlik, maar ek sal daardeur kom – ek het nog elke keer heel uitgekom. En dit was met die hulp van Christus, of ek dit wou weet of nie. Hoeveel te meer sal Hy my dan in die toekoms daardeur help wanneer ek my verantwoordelikhede nakom!
Volg die Bybel se riglyne om liefdevolle verpligtinge na te kom, hou op om jou te steur aan u gevoelens van vrees wat daartoe lei dat jy jou verantwoordelikhede ontduik, en jy sal vind dat ou gewoontes mettertyd verander. Gaan doen dit, en ervaar die vredevolle werking van Christus in jou!
SLOT