HOE LANK NOG?

HOE LANK NOG SAL ONS VOLK VAN SY GOD AFVALLIG BLY?

Lees reeks  by Hannes Ollewagen

Dat ons volk van God afvallig geword het, is nie te betwyfel nie.  God stel dit vir ons onomwonde in sy Woord (Jesaja 1:4) dat dit ons as volk is wat Hom die rug toegekeer en van Hom weggedraai het agter ander gode aan; en dat dit nie Hy is wat ons verlaat het nie.  Maar nog is ons so verwaand dat ons die Heilige God wil blameer omdat dit met ons sleg gaan - dit is mos God se skuld dat ons volk in hierdie land tans in hierdie haglike toestand verkeer...

Ons het deur die humanistiese propaganda van die moderne eeu ons in ons eie oë só verhef, dat ons onsself begin wys maak het dat ons God nie in elke faset van ons lewens nodig het nie.  Ons (oftewel die moderne media) het onsself laat glo dat ons heel goed sonder Hom kan klaarkom.

Ons weet ook dat God ons onderrig soos wat ‘n vader sy seun onderrig.  Daarom dat Hy ons toelaat om hierdie saak (om sonder Hom te probeer leef) vir onsself uit te maak.  Hy het ons dus die “geleentheid” gebied om te beproef wat ons lot sou wees wanneer ons reken dat ons Hom nie nodig het as Leidsman en Verlosser nie.

Deur ons menslike, “wonderlike goedheid”  het ons dit reggekry om ons eie heil só goed uit te werk dat ons volkie vandag selfs internasionaal beskou word as ‘n volk wat op die rantjie van uitwissing (deur ANC/Kommunisties-georkestreerde volksmoord) staan.

Waar ons eens onder die regerende Hand van ons Almagtige God een van die kleinste, dog geestelik standvastige volke op aarde was, word ons nou so vinnig uitgemoor en verniel dat totale uitwissing van ons volk nie meer as onmoontlik is nie.  Om nie eers te praat van die mate waarin ons politieke en ekonomiese mag ons reeds ontneem is nie. Daarby word diegene wat wel nog 'n werk het met hoë belasting aan die owerheid belas dat ons feitlik nie met dit wat oorbly 'n bestaan kan maak nie. So word ons uitgebuit deur diegene wat te sleg is om eerbare werk te doen.

Wat gaan ons ou volkie doen om te oorleef? Gaan ons wag soos in die jaar 1838 totdat daar van ons feitlik weer net ‘n Gideonsbende oor is voordat ons antwoord gee op God se roepstem?  Sy GENADIGE, LIEFDERYKE roepstem in Jesaja 1:18 – 19:  “Kom nou en laat ons die saak uitmaak, sê die Here:  al was julle sondes soos skarlaken, dit sal wit word soos sneeu; al was dit rooi soos purper; dit sal word soos wol.  As julle gewillig is en luister, sal julle die goeie van die land eet.”

Waar God ons so genadig is om ons steeds uit te nooi om na Hom terug te keer in WAARHEID van ons verkeerde weë en afgodery, moet ons versigtig wees om nie daardie liefde en lankmoedigheid van Hom in sy aangesig terug te gooi nie. Want dis nie Hy wat ons nodig het nie, maar ons vir Hom. Sou ons kies om die liefde en genade van God in sy aangesig terug te gooi en Hom weereens die rug keer, moet ons nie vra waarom ons so deur die wêreld se ongeregtighede verswelg word nie, want ons ken reeds die antwoord en WAARSKUWING in Jesaja 1:20:  “Maar as julle weier en wederstrewig is, sal julle deur die swaarde geëet word; want die mond van die Here het dit gespreek.”

Laat ons dan nou as Afrikanervolk die saak met Hom uitmaak; alleen dan het ons 'n moontlikheid op volkome herstel as volk en genesing van ons pragtige land wat Hy aan ons gegee het.