GOD SE ONVRUGBARE WINGERD

Hannes Ollewagen
Jes. 5:2: “En Hy het dit omgespit en die klippe daar uitgehaal en dit beplant met edel wingerdstokke; en Hy het ‘n toring daar binne-in gebou en ook ‘n parskuip daarin uitgekap; en Hy het verwag dat dit druiwe sou dra, maar dit het wilde druiwe voortgebring.”
God het nog meer moeite met ons volk se “planting” en vestiging hier aan die Suidpunt van Afrika gedoen as wat daar beskryf word in Jesaja 5:2.  Hy het ook omgespit, klippe uitgehaal en reggekap en gearbei aan ons volk (sy wingerd) in die hoop dat ons sou vrug dra.  Hy het omgespit en reggekap by Bloedrivier, by Majuba, gedurende die hele Groot Trek, gedurende die Vryheidsoorloë, gedurende die rebellie, om maar net ‘n paar te noem – dit alles in die hoop dat ons sal vrug dra.  Ongekende arbeid en liefde het Hy in hierdie wingerd ingesit in afwagting op daardie veelvuldige en belowende oes wat dit sou oplewer.  “…en Hy het verwag dat dit druiwe sou dra ...” Dieselfde teleurstelling en nog groter, wat daar in die hart van ‘n landbouer is wanneer hy ure se swoeg-en-sweet, duisende rande se insetkoste, onmeetbare hoeveelheid tyd aan ‘n land spandeer wat tog só belowend lyk, maar op by oestyd geen vrug oplewer nie, is daar seker ook by God.    Al die moeite, arbeid, tyd, liefde, insette, dit ALLES vir niks anders as teleurstelling nie?  Al die verlossinge uit doodsgevare, al die beantwoorde gebede wanneer ons Hom aangeroep het in benoudheid, al die wonderwerke aan ons bewys, al sy liefde, genade en oorvloedige seën – was dit ALLES dan vir NIKS?
Toe ons Hom aangeroep het in benoudheid soos ook in 1838 as ‘n swak en nietige volkie, het ons tog so opreg voorgekom.  Ons het soveel mooi beloftes aan Hom gemaak oor hoe getrou ons Hom sal bly aanbid; hoe ons dankdae ter ere van sy Naam sal uitroep; hoe ons huise tot eer van sy Naam sal bou; hoe ons ons kinders tot eer van sy Naam sal grootmaak en aan hulle sou leer om net soos hulle voorgeslagte die geloftes aan Hom te onderhou, as Hy tog net tot ons redding intree!
“…Waarom het Ek verwag dat dit druiwe sou dra, en dit het wilde druiwe voortgebring?”  
Daarby lewer ons nog ‘n VERKEERDE oes op.  Die huise wat ons beloof het om tot eer van sy Naam op te rig, word gebruik as sinagoges van Satan om valse propaganda aan mense te verkondig.   Daar word in daardie “huise van God” gewoel en gewerskaf na WINSGEWENDHEID veel eerder om te streef na die eer van God!  Ons laat ons taak ná om ons kinders op te voed in die vrese van die Here.  ‘n Mens sou amper kon dink dat die vyfde gebod só sou lui:  “...ouers wees aan julle kinders onderdanig” wanneer ‘n mens sien hoe kinders deesdae besluit oor hoe die huishouding regeer moet word.  Dit is seker net ‘n kwessie van tyd voordat hierdie aanpassing in die Bybel gemaak word, aangesien die Bybel deesdae vertaal en oorgeskryf word sodat dit by ons mense kan pas. Want ons kan mos nie ons lewens verontrief om by God se Woord en riglyne in te pas nie, ons is te besig daarvoor.  En waarmee is ons so besig? Is dit die dinge waarmee God ons wíl besig vind wanneer Hy weer kom om sy oordeel oor die mensdom te voltrek en sy kinders te kom haal?
Hoe lank sal ons volk aanhou om wilde druiwe voort te bring?  Hoe lank sal ons voortgaan om daagliks onsself besig te hou met ALLES BEHALWE DIT WAT GOD WELBEHAAGLIK IS? “…maar op die dade van die Here gee hulle geen ag nie …”
Solank as wat ons aanhou om afvallig en moedswillig voor God te leef en wilde druiwe voort te bring, het ons geen reg om te verwag dat dit met ons in hierdie land beter sal gaan as tans nie. Maar as ons in ootmoed voor Hom buig en ons opreg bely en laat staan wat verkeerd is, wag daar vrede en seën vir die Afrikanervolk in Suid-Afrika.
Mag God ons daartoe help!