2012 IN RETROSPEK

Volg My – Elke Dag

Hannes Ollewagen

Lees reeks by Hannes Ollewagen

Waar ons pas die jaar 2012 vaarwel geroep het en met opgewondenheid die jaar 2013 betree, is dit tyd om 2012 in oënskou te neem voordat ons die nuwe jaar aanpak.

Almal van ons het seker die afgelope jaar reeds beoordeel op grond van prestasies wat ons by die werk behaal het, persoonlike suksesse en daarvolgens besluit of die jaar suksesvol was al dan nie.  Het enige van ons ook tyd afgestaan om ons geestelike vordering (of tewel agteruitgang) te beoordeel?

Wanneer ons kyk na die begin van 2012 en die dinge wat eerste belange in ons lewens in die begin van 2012 was, en die uitkoms daarvan. . .   My werk, my geliefdes, my aardse rykdom. . . Hoeveel daarvan het werklik tot voordeel gestrek?  Hoeveel daarvan het my nie teleurgestel en seergemaak nie?  Hoeveel daarvan was die tyd en energie wat ek daaraan spandeer het werd?

  Hoeveel daarvan het EWIGHEIDSWAARDE? Hoeveel daarvan was onveranderlik?

Maak nie saak hoe die resultaat van persoon-tot-persoon verskil nie, maar een ding is seker in elke ware gelowige se lewe – die enigste vaste en onveranderlike, onwrikbare deel van jou lewe, God Drie-Enig.  Hy het ons aan die begin van die jaar belowe Hy sal met ons wees en wanneer ons die jaar beoordeel, was sy Woord weereens waarheid.  Hy het ons nie begewe en ons nie verlaat nie.  Hy het dalk toegelaat dat sommige van ons in hoë mate beproef word, maar Hy was saam met ons in al die storms van die afgelope jaar.

Kan ons dieselfde van ons geestelike lewens sê?  Kan ons met trots sê dat ons die begin van die jaar dit ons doelwit gemaak het om elke dag nader aan God te leef?  Om Hom elke dag beter te leer ken?  Om Hom ‘n 'n eerste plek in ons lewens te maak?  Kan ons sê dat ons elke dag ons kruis sal opneem het en Hom gevolg, soos wat Hy van sy kinders in Luk. 9:23 vereis? “En Hy sê vir almal:  As iemand agter My aan wil kom, moet hy homself verloën – en sy kruis elke dag opneem en My volg.”

Of was ons soos die diegene waarvan gepraat word in Luk. 9:59 – 61 wat altyd aan die een of ander verskoning dink waarom ek nie NOU vir God tyd het nie.  Waarom ek net gou iets anders moet doen wat meer belangrik as my tyd met God is? (59) “En Hy sê aan ‘n ander een:  Volg My.  Maar hy antwoord:  Here, laat my toe om eers my vader te gaan begrawe. “ (61)”En ‘n ander een het ook gesê:  Here, ek sal U volg, maar laat my eers toe om afskeid te neem van die wat in my huis is.”

Is ons nie maar soos bogenoemde mense wat bereid is om God te volg en te dien nie, maar op MY voorwaardes?  Here, ek sal u gehoorsaam wees, maar wag net so bietjie.  Ons moet net gou seker maak hierdie gehoorsaamheid aan U gaan my nie te veel verontrief nie?

Wanneer het diens en gehoorsaamheid aan God so geweldige straf geword?  Om die Ewige God van hemel en aarde te dien, die enigste ware God, die Heerser oor alles, die enigste wonderbaarlike Koning?  Dit wat veronderstel is om vir ons die grootste VOORREG te wees, word in ons lewens bykans beskou as ‘n groot taak en dit alles omdat ons prioriteite nie reg is nie.

Waarom sal God Hom aan ons eil steur en na ons gebede luister om ons van hulp te wees as Hy nie eerste in ons lewens staan nie?    As Jesus vandag voor my en jou moet staan en sê: “Volg My”, aan watter verskonings gaan ons nie alles dink nie?

Laat ons in die jaar wat voorlê seker maak oor wat ons belangrikste voorkeure is, en onsself en ons lewens inrig op so ‘n wyse dat elkeen van ons bereid is om ELKE DAG ONS KRUIS OP TE NEEM EN JESUS TE VOLG op sy voorwaardes. Laat ons sonder verskonings regmaak om te groei tot eer van die koninkryk van God en só geskik sal wees vir Hom.

Luk 9:62:  “En Jesus antwoord hom:  Niemand wat sy hand aan die ploeg slaan en agtertoe kyk, is geskik vir die koninkryk van God nie.”