OM GOD TE DIEN IN MOEILIKE TYE

Hannes Ollewagen

Ons gelowige Christen Boere-Afrikaners praat gedurig van ‘n dreigende rewolusie, anargie en geweld wat aan die kom is, maar dan is daar dae wat dit vir ons voel asof ons dalk miskien God se Woord misverstaan.  Het ons die reg om sulke aannames te maak op bloot die tekens wat ons om ons sien, en is daar Skrifgefundeerde gronde daarvoor?

Soos enige gelowige veronderstel is om te doen in tye van angs en twyfel, moet ons die antwoorde op geen ander plek as by God en sy Woord gaan soek nie.  So antwoord Hy dan ook op bogenoemde vrae in Esegiël 12:21-28.  Vers 22-23: “Mensekind, wat is dit vir ‘n spreekwoord wat julle het in die land van Israel, naamlik:  Die dae gaan voort, en van al die gesigte kom niks nie.  Daarom, sê vir hulle:  So spreek die Here Here:  Ek maak ‘n einde aan hierdie spreekwoord, sodat hulle dit nie meer as spreekwoord in Israel sal gebruik nie.  Maar sê vir hulle:  Die dae is naby, en die woord van elke gesig.”

In hierdie gedeelte lees ons in die Woord van die komende oordeel. Ook in Matthéüs 24 lees ons in die profetiese rede oor die tyd van die groot verdrukking dat daar tekens is waarop ons ag moet slaan.

Vers 15: "Wanneer julle dan die gruwel van die verwoesting, waarvan gespreek is deur die profeet Daniël, sien staan in die heiligdom – laat hy wat lees oplet – dan moet die wat in Judéa is, na die berge vlug..." Daar word ook tien tekens in Matt 24 gegee wat die groot verdrukking vooraf sal gaan waarop die volk moet ag slaan. Ons kan dus met sekerheid sê dat die HERE ons duidelike tekens gee van dinge wat aan die kom is, en dat ons nie soos Israel mag sê dat gesigte en profesië geen waarde het net omdat dit nog nie gebeur het nie – God alleen ken die tyd.

So het ons ook in vandag se tye ons eie profete soos Siener van Rensburg wat lank gelede reeds voorspellings vir ons tyd gemaak het, maar voel dit soms of die dag nooit gaan aanbreek wat die res van die wêreld sal aanskou dit wat ons glo moet gebeur en waarvoor ons ons daagliks voorberei nie. Hierdie voorbereiding verg baie geestelike dissipline, 'n geestesinstelling op dit wat ons verwag gaan gebeur, iets wat so ontwrigtend en ontstellend blyk te wees dat dit ons dwing om ons van die wêreld af te sonder.

In afsondering met God gereeld in gesprek is die enigste plek waar dit moontlik is om jouself waarlik voor te berei op dit wat te wagte is in ons  land. En omdat ons nie die tyd wanneer dit alles in vervulling moet gaan ken nie,  wonder ons soms of dit die moeite werd is om so in afsondering te leef, soveel harde geestelike bearbeiding deur te gaan, en talle van die wêreld se plesiere en genot op te gee vir die saak waarin ek glo.

Maar ons moet besef dat dit volharding eis indien ons in daardie laer van God wil staan waar Hy sy kinders tydens hierdie dinge sal beskerm. En jy het 'n keuse. Jy kan tou opgooi en besluit jy wil nie langer so in afsonderling leef nie en eerder met die wêreld saamspeel, of jy kan getrou aan God en sy Beloftes bly.  Die regte keuse verg voortdurende selfdissipline en suiwering van jou hart.

Een ding  moet jy egter besef : daar is nie 'n middeweg nie; jy kan nie soos die wêreld leef en dan staat maak op God se redding nie – jy kan God nie halfhartig dien nie.  Hy is ‘n jaloerse God.  Net soos ‘n man nie sal toelaat dat sy vrou se liefde met 'n ander man gedeel word nie, so is God nie tevrede met halfhartige liefde en trou nie.

Wat staan in Matt. 22:34-40?:

  1. Dat jy God moet liefhê met jou hele hart, jou hele siel en met jou hele verstand.
  2. Dat jy jou naaste moet liefhê soos jouself.

Jy moet m.a.w. God liefhê met jou hele wese en liewer as wat jy jouself het – dit wil sê met en in jou menslike begeertes, drome, vrese, liggaam en gees,  alles aan sy Wil ondergeskik stel – dán dien jy God soos wat Hy van ons vra.

Eers daarná moet jy jouself en jou naaste liefhê maar dit mag nie God se plek inneem nie; nie méér liefgehê word as wat ons Hom het nie want dan is ons besig met afgodediens. Soos wat dit ‘n eggenoot en pa bitter seer sal maak wanneer sy huismense nie waardeer wat hy vir hulle doen nie, so sal ons God diep bedroef wanneer ons sy “goedheid en guns” meer liefhet as vir Hom.

Daar is ook geen ander Ewige, Lewende, Ware God tot wie jy jou sal kan wend wanneer die storms losbars nie. Laat ons Hom dus met die nodige respek en vrees aanbid en dien, en weet dat Hy ons sal lei en uitred uit elke moeilike situasie, maar op sy eie tyd. Hou moed, volhard met geduld, want die tyd sal aanbreek dat ons volk weer bevry sal word van die huidige knel waarin ons tans verkeer – God slaap nie!