WAT IS DAN DIE GROOT GEBOD?

Hannes Ollewagen

Matt. 19:16 – 30:

Vers 16:  “En daar kom een na Hom en sê vir Hom:  Goeie meester, watter goeie ding moet ek doen, dat ek die ewige lewe kan hê?"

Jesus se onmiddellike antwoord op bogenoemde vraag is dat die jongman die gebooie van God moet gehoorsaam (Verse 17 – 20).  Maar interressant genoeg laat Jesus met beantwoording van hierdie vraag doelbewus die eerste gebod uit.  Die jongman antwoord dadelik met selfvertroue dat hy al hierdie gebooie wel getrou onderhou van sy jeug af, maar voel steeds dat iets skort met die onderhouding daarvan, daarom dat hy vir Jesus in vers 19 vra:  “…Wat kom ek nog kort?”

Vers 21:  “Jesus antwoord hom:  As jy volmaak wil wees, gaan verkoop jou goed en gee dit aan die armes, en jy sal ‘n skat in die hemel hê; en kom hier, volg My.”  M.a.w. onderhou die eerste gebod (nl. om die Here jou God lief te hê met jou hele wese en ook meer lief te hê as al  jou aardse besittings – en jy sal “volmaak” wees.  Daardie gevoel dat iets in jou lewe kort, sal nie meer daar wees nie, aangesien jou gesindheid in die onderhouding van God se gebooie reg is, ”volmaak” is).

As ek die gebooie in God se Woord onderhou om iets daardeur te verdien, of om deur mense gesien te word of om die ewige lewe te beërwe, wat baat dit my?  God vra nie ‘n wettiese en slaafse navolging van sy gebooie nie, inteendeel Hy vra dat ons sy gebooie moet onderhou uit dankbaarheid vir ons verlossing deur Jesus Christus.  Ons kan onsself nie red nie, al probeer ons ook hoe “heilig” lewe, maar omdat God deeglik bewus is van ons tekortkominge en swakhede, het Hy reeds ons verlossing deur Christus vir ons bewerkstellig en vra dat ons uit dankbaarheid hiervoor, gehoorsaam aan Hom moet lewe.  (Vers 24 – 26).

En in vers 29 word dit weer vir ons beklemtoon dat ons die Here ons God moet liefhê bo alles in ons lewens, want as ons hierdie gebod kan onderhou, sal ons, met die regte gesindheid, ook al die ander gebooie nakom aangesien die onderhouding van die eerste twee gebooie die vervulling van die Wet is.

Wanneer ek dus God se Wet onderhou, moet dit wees uit liefde vir Hom.

Wanneer ek God se Woord verkonding, moet dit wees uit liefde vir Hom.

Wanneer ek my lewensmaat kies, moet dit ‘n lewensmaat wees wat my liefde vir Hom deel.

Wanneer ek my verset teen regerings van die dag en selfs dinge soos oorlog en geweld voorstaan en verkonding, moet dit wees uit liefde vir Hom – m.a.w. om te stry teen wette en regerings wat indruis teen God se Wet en verordeninge en my te beywer vir ‘n regering wat God se gesag as die hoogste gesag sal erken en eerbiedig en dienooreenkomstig sal regeer.

Laat elkeen van ons se lewens en keuses in die lewe gelei word deur ons liefde vir die Almagtige, Drie-enige God van hemel en aarde sodat ons nie eendag bedroef hoef om te draai voor sy Regterstoel nie.