DANKBAARHEID VIR GOD SE GOEDHEID
Lees reeks by Hannes Ollewagen
Jona 4:1 – 11
Vers 2: “Toe bid hy tot die Here en sê: Ag, Here, het ek dit nie gedink terwyl ek nog in my land was nie? Daarom het ek tevore na Tarsis gevlug; want ek het geweet dat U ‘n genadige en barmhartige God is, lankmoedig en groot van goedertierenheid, en Een wat berou het oor die onheil.”
Jona wil in hierdie gedeelte vir God daarop wys dat die rede vir sy ongehoorsaamheid (deur na Tarsis te vlug nadat God hom na Ninevè gestuur het), is dat hy geweet het God ‘n barmhartige God is en uiteindelik nie die stad sal verwoes nie. Hy kan egter nie verstaan waarom God hom dan nou sou stuur om te gaan voorspel en hulle te waarsku dat Hy die stad gaan verwoes as Hy dit dan nie gaan deurvoer nie (en sodoende Jona se kosbare tyd mors?) Met ander woorde, Jona probeer hier vir God voorskryf hoe Hy moet optree – ek was mos nou gehoorsaam om na Ninevè te gaan, nou móét U die stad verwoes soos U gewaarsku het. Die wonderbare feit dat ‘n hele stad met ongeveer 120 000 siele hulle tot God bekeer en hul ongeregtighede bely het, gaan ongesiens by Jona verby.
Vers 6: “Toe beskik die Here God ‘n wonderboom en laat dit oor Jona opskiet om te dien as skaduwee oor sy hoof, om hom van sy onstemdheid te bevry; en Jona was baie bly oor die wonderboom.”
Terwyl Jona sit en wag om te sien wat nou met die stad sou gebeur, beskik die Here God vir hom ‘n wonderboom, sonder dat Jona eers daarvoor vra. Ons sien dat Jona BAIE bly was oor die wonderboom, maar nêrens lees ons dat hy God daarvoor bedank nie. En toe God dit só beskik dat die wonderboom verdor, is Jona op die plek só kwaad dat hy verkies om te sterwe.
Is dit nie in my en jou lewe ook dikwels so dat ons God wil voorskryf oor hoe dinge in ons lewens moet verloop nie, sonder om te besef dat ons deel is van God se Raadsplan op aarde en dat sy Raadsplan nie rondom my lewe draai nie? Is ek bloot maar net bevoorreg om ‘n mikroskopiese deeltjie daarvan te kan wees? Dink ons ooit daaraan dat ons ook talle “wonderbome” in ons lewe van God ontvang omdat Hy ons liefhet, sonder dat ons daarvoor vra, daardie “wonderbome” van gesondheid, geliefdes, verstand, ‘n goeie werk, 'n veilige huis, kos, klere? Dinge wat ons alles as vanselfsprekend beskou totdat God dit dalk van ons wegneem! Dan raak ons net soos Jona óp die plek só ontstemd dat ons eerder wil sterwe...
God kan ook vir ons tereg vra, soos vir Jona in Vers 9: “Toe vra God vir Jona: Het jy rede om vertoornd te wees oor die wonderboom? . . .”
Laat ons opnuut vandag gaan sit en kyk na al die “wonderbome” wat God vir ons lewens aanplant en vir ‘n oomblik nie net bly wees daaroor nie, maar opreg DANKBAAR wees teenoor God vir die gawe daarvan – dankbaar wees dat Hy ons behoeftes beter ken as wat ons dit self ken en dan ook daarin voorsien, voordat ons nog kan vra.
Laat ons blydskap en dankbaarheid egter nie by lippediens bly nie, maar laat ons die Here God met ‘n welgevallige offer dankie sê deur Hom bo alles lief te hê en daarom sy gebooie en insettinge onderhou.