GEBRUIK JOU GENADETYD REG

My Talente

Lees reeks  by Hannes Ollewagen

Matt. 25:14-30

Ons is van kleintyd reeds geleer: saam met ‘n bevoorregte lewe kom spesifieke verantwoordelikhede.  Daar is weliswaar altyd verantwoordelikhede wat hand-aan-hand met al jou handel en wandel gaan.

Wanneer laas het jy jou lewe in oënskou geneem om te besin oor die voorregte en talente wat deur ons Meester aan jou toevertrou is? Lees weer hoe die heer in die Skrifgedeelte talente aan sy diensknegte toevertrou het.  Is ons nie almal diensknegte van die Allerhoogste wat ook deur ons Meester  met wonderlike talente toevertrou is nie?

Hier is net 'n paar van die talle talente en voorregte waaroor ons kan besin:

  • Geloof : Is my geloofslewe WAARLIK ‘n prioriteit in my lewe?  Doen ek moeite om tyd daarvoor in te ruim, soos wat ek sal tyd inruim om rugby te kyk Saterdag – kom wat wil...  Soos wat ek sal tyd inruim om saam met my vriende te kuier wanneer die geleentheid hom voordoen)?
  • Verstand en gesondheid: Gebruik ek die verstand wat God vir my gegee het ook om sy Woord te oordink en Hom beter te probeer ken en verstaan? Sien ek na my liggaam om asof dit ‘n tempel van God is en bewaar ek dit van vuilheid – veral geestelike vuilheid?
  • 'n Suksesvolle besigheid; ‘n goeie werk; werksbevrediging; ‘n goeie inkomste:  Doen ek my werk met ywer, eerlikheid en integriteit?
  • ‘n Getroue en liefdevolle lewensmaat: Hanteer ek my lewensmaat as daardie spesiale persoon wat God net vir my gemaak en aan my toevertrou het en is ek so getrou aan my maat soos wat ek wil hê dat hy/sy aan my moet wees?
  • Pragtige, gesonde kinders: Voed ek my kinders op in die weë van die Here soos wat ek beloof het en hou ek aan stry vir hul beswil, ten spyte van moeilike tye? Of probeer ek aan my kinders gehoorsaam wees sodat hulle tog nie vir my kwaad sal wees nie en laat hul siel in die proses skade ly?

Waarom neem ons hierdie voorregte en talente in ons lewens vanselfsprekend – so asof God dit doodeenvoudig aan ons moet toevertrou? En ironies genoeg, hoe vinnig is ons nie om God te verwyt wanneer Hy die kleinste hiervan wegneem nie!

Hoe gebruik ek en jy hierdie talente?  Wat maak ons daarmee?  Tot wie se voordeel wend ons dit aan?  Net soos die drie diensknegte in die gelese gedeelte weet elkeen van ons presies wat ons Heer van ons verwag om daarmee te doen, maar doen ons dit?  Wend ons dit tot voordeel van ons Heer en Meester aan om as getroue dienskneg met blydskap te kan rekenskap gee met sy terugkeer? OF is ons dalk soos die derde dienskneg – deeglik bewus van wat Hy verwag omdat ons Hom ken (soos wat hierdie slegte dienskneg ook sy heer baie goed geken het), maar ons het nie genoeg waardering daarvoor om dit getrou te bestuur nie?  Ons probeer eerder verskonings uitdink om ons Heer te blameer vir ons foute en omstandighede, in plaas daarvan om getrou na ons talente om te sien.

Hoe sou ek en jy vandag vir Hom lyk as Hy besluit om skielik van ons rekenskap te kom eis?  Met dankbaarheid en blydskap om as getroue diensknegte verslag te kan lewer oor hoe getrou ons was oor die weinig wat God aan ons toevertrou het – om uiteindelik te hoor:  “…Mooi so, goeie en getroue dienskneg, oor weinig was jy getrou, oor veel sal ek jou aanstel.  Gaan in in die vreugde van jou heer.”

Of:

Sal ons ook ons hoofde in skaamte moet laat sak omdat ons onkant deur ons Heer se verkyning betrap is en verskonings sal moet uitdink om rekenskap te gee terwyl dít wat aan ons toevertrou WAS van ons weggevat word. . .

Bogenoemde is ‘n vraag wat elkeen in waarheid vir hom-/haarself moet beantwoord om jou die geleentheid te gee om reg te stel dit wat verkeerd mag wees, terwyl ons nog genadetyd oor het om dinge te kan regstel.