Diensknegte van die Allerhoogste
Hannes Ollewagen
2 Kronieke 20:1 – 30
Vers 20: “…Glo in die Here julle God, dan sal julle bevestig word; glo aan sy profete, dan sal julle voorspoedig wees.”
God het nie vir ons mense beskik om sy Raadsplan aan ons bekend te maak d.m.v. profesieë om ons bang te praat oor die toekoms nie, maar eerder om ons te onderrig in die tekens van die tye. Hierdie mense (profete) het hul lewens daaraan gewy om ingestel te wees op die roepstem van God. Wanneer profesieë wel in vervulling gaan (veral teen die tempo wat dit deesdae gebeur), moet ons nie verward en bevrees raak nie, want dit is JUIS vir ons as gelowige kinders van God ‘n bevestiging van God se bestaan, die waarheid van die profesieë, sy onveranderlike Raadsplan, en ook dat Hy, te midde van al die chaos in die wêreld, steeds in beheer van alle dinge is.
D.m.v. van profesieë kan ons die tekens van die tye “lees” om te weet wanneer tye van onheil naby is, soos God ons daarteen waarsku. Dit help egter nie ons weet, besef en praat oor dreigende onheile wat om die draai is, maar ons maak ons nie gereed daarvoor nie. Dit is dus elke gelowige se plig om te verseker dat hy/sy verhouding met die Allerhoogte op ‘n gesonde vlak is sodat ons Hom kan aanroep in die dag van benoudheid wat oor die aarde sal kom. Ons moet onsself verootmoedig voor God en Hom aanroep in tye van benoudheid aangesien niemand van ons in staat is om ons eie heil uit te werk of stand te hou voor die toorn van die Almagtige nie. Was dit nie al lankal tyd dat ons as volk die Almagtige God van hemel en aarde moes aanroep en sy Aangesig moes soek om te smeek om verlossing nie?
Ons moet egter versigtig wees om God nie te probeer voorskryf nie. Hy is en bly die Almagtige God van hemel en aarde en het nie een van ons se raad of bystand nodig nie. Hy besluit wanneer die profesieë in vervulling gaan, wanneer oordeel uitgestel word, wanneer vergifnis vir sonde geskenk word, wanneer verlossing deur sy Hand bewerkstellig word en wanneer nie. Dit is immers God se stryd wat ons op aarde voer en nie ‘n stryd waaruit ons persoonlike gewin moet najaag nie. Vers15: “…want die stryd is nie julle saak nie, maar die saak van God.” Ons is bloot diensknegte van die Allerhoogste wat altyd moet streef daarna om as waardige knegte sy stryd voort te sit op aarde. Die regte dinge sal op die regte tye oor ons volk kom, soos wat God dit beskik het – en ons weet dat Hy nie foute maak nie.
Ons moet dus besef dat ons stryd eerstens teen ‘n goddelose regering in die mag van die Duisternis is, en dat dinge soos 'n ekonomiese stryd en ander fasette net die gevolge daarvan is. Ons dryfveer moet dus nie persoonlike gewin wees nie, want dan stel ons ons nie in diens van die Almagtige nie. Anders verwag ons eintlik dat Hy in ons diens moet wees aangesien Hy ons moet verlos sodat ons daarna ‘n “beter” lewe kan lei. Dít my liewe volksgenoot, is dalk die rede waarom God so geduldig op ons wag om ons eie harte te toets en ons ingesteldheid in orde te kry. Om te besef dat dit ons eer is om Hom te mag aanbid, om kinders en diensknegte van die Almagtige God van hemel en aarde te kan wees; om aan Sy kant van die geveg te kan staan. Ons moet gedryf word deur ‘n liefde vir God om ons vryheidstryd te stry, nie ‘n liefde vir “die beter lewe ná uitkoms hier nie”, want dan kan ons nie daarop roem dat ons sy Stryd stry nie.
Vers 29: “En die skrik vir God was op al die koninkryke van die lande toe hulle hoor dat die Here teen die vyande van Israel gestry het.” Laat ons met ‘n dapper, gedienstige en gelowige gesindheid ons Groot Koning toelaat om ons te gebruik in sy Stryd en ons daardeur van ‘n goddelose regering help verlos. Alleen dán kan die eer en heerlikheid van die verlossing tot in ewigheid aan Hom alleen kan toekom!