TOETS VAN DIE TYD

SAL ONS DIE TOETS VAN TYD DEURSTAAN?

Hannes Ollewagen

2 Petrus 3:1-18

In verse 3 & 4 van die gelese gedeelte sien ons dat God ons duisende jare vooraf waarsku oor dinge wat nou in vervulling gaan.  Dit is weereens ‘n bewys dat God se Raadsplan vas staan en dat geen mens dit sal verander nie, selfs nie die magtigste man op aarde sal voor God kan standhou en Hom ook nie voorskryf nie.  God voorspel en waarsku ons dat daar ‘n tyd sal kom dat mense ons sal spot en sal beweer dat dit waarin ons glo “onsinnig” is, aangesien niks daarvan dan gebeur nie. Maar dit is omdat hulle wie se oë gesluit is, nie kan sien hoe die dinge wat voorspel is, wel in vervulling gaan nie.

Ons sien dan ook dat God sê dat hulle moedswillig sal vergeet dat daar ‘n Almagtige, lewende God is, aangesien die mens in sy eie oë, homself so belangrik sal begin ag dat sal hy reken dat hy God nie meer nodig het vir sy bestaan op aarde nie.   Laasgenoemde sal dan aanleiding gee tot ‘n toenemende verderf onder die mense, aangesien daar geen vrees vir God sal wees sonder die erkenning dat daar enigsins ‘n Almagtige God bestaan nie.  Daarom dat mense toenemend goddeloos leef en geen sin toon vir reg en geregtigheid nie;  hul vrees nie meer dat God se toorn oor hul sal kom nie; alhoewel ons in die gelese gedeelte sien dat daar ‘n verskriklike ontnugtering op hierdie mense wag (Vers 7).

Alhoewel ons as gelowiges soms moedeloos word oor die toenemende ongeregtigheid van die mensdom en voel asof ons die stryd gewonne wil gee, mag ons nie dieselfde fout as die goddelose maak deur te dink dat ons vir God kan voorskryf oor hoe en wanneer Hy moet ingryp nie.   Hy het reeds in sy volmaakte Raadsplan die dag van oordeel vasgemaak en ons vooraf gewaarsku van die moeilike tye wat op ons wag sodat ons nie daardeur oorweldig word nie.  Boonop herrinner die Skepper van alle dinge vir ons dat ons moet onthou dat tyd by die Skepper van tyd irrelevant is.  Een dag is vir Hom soos ‘n duisend jaar en ‘n duisend jaar is soos een dag.  (Vers 8).  Hoewel dit menslik is om soms moedeloos te word en die tye te wil verhaas (vers 12), moet ons altyd in gedagte hou dat “ek” nie die enigste mens op aarde is nie en dat my moeilike omstandighede en moedeloosheid nie genoeg rede is vir God om sy Raadsplan te verander nie.  Die lewe gaan nie net om myself nie, al is dit wat die afgodediens van humanisme ons elke dag probeer breinspoel om te glo.  Daar is ander siele wat dalk nog nie gered is nie en wat deur God nog genadetyd toegestaan word om hul van hul verkeerde weë te bekeer.  (Vers 9).

Ongeag wat die goddelose verkondig en of ek soms voel asof die genadetyd onnodig uitrek word of selfs soms wonder of dit tog ooit gaan gebeur, is een ding so seker soos wat u hierdie gedeelte lees – “…Maar die dag van die Here sal kom soos ‘n dief in die nag, waarin die hemele met gedruis sal verbygaan en die elemente sal brand en vergaan, en die aarde en die werke wat daarop is, sal verbrand.”  (Vers 10).  Die dag van oordeel SAL aanbreek en ek en u moet doodseker maak dat ons lewens in orde is wanneer dit eindelik aanbreek.  Ons moet seker maak dat ons lewens vlekkeloos en onberispelik voor Hom is (vers 14) wanneer die lankmoedigheid van onse Hemelse Koning tot ‘n einde kom sodat ons deel kan hê in die nuwe hemel en nuwe aarde wat Hy kom skep waarin geregtigheid sal woon. (Vers 13).

Ook waarsku God ons in sy Woord dat ons deurgaans op ons hoede moet wees om nie aan die wêreld gelykvormig te word terwyl ons wag op sy koms (en soms voel of dit onnodig vertraag word nie) nie, maar moet volhard in die vastigheid van ons geloof (vers 17) – aangesien dit feitlik die enigste aspek van ons lewens sal wees waarvan ons seker kan wees in die eindtye.

“Maar julle moet toeneem in die genade en kennis van onse Here en Saligmaker, Jesus Christus.  Aan Hom kom die heerlikheid toe, nou sowel as in die dag van die ewigheid. Amen.” (Vers 18)