...Vleeslik of Geestelik?
Hannes Ollewagen
Gal. 5: 16-26
Geen mens op aarde is volmaak nie, tog is dit vir elkeen van ons uiters moeilik om te erken dat ons foute het of soms verkeerd handel. Om hierdie rede is ons sommer onmiddellik op die aanval wanneer mense ons op ons foute probeer wys. Ons moet egter oppas dat ons nie mense wat ons uit liefde probeer vermaan as vyande beskou wat ons oordeel of lewenswyse kritiseer nie. Wanneer ons nie wil erken dat ons foute het nie, kan ons nie daardie foute regstel nie. Wanneer ‘n kind bv. te skaam is om te erken dat hy nie die Wiskunde in sy ouderdomsgroep verstaan nie, sal dit nie die nodige aandag ontvang om die probleem reg te stel nie. Dan sal hy vir die res van sy lewe oor daardie onvermoë beskik en mag dit hom dalk baie geleenthede in die toekoms ontneem.
Paulus vermaan ons dus ook in hierdie gedeelte om te leef volgens die gees en nie volgens die vleeslike begeerlikhede nie. In vers 16 sien ons dat Paulus ons waarsku dat ons wel versoekings sal teëkom wanneer ons na die gees lewe; inteendeel; dis juis dan wanneer die versoekinge deur Satan fel na ons kant gegooi word, maar dan is daar ook die wete dat die gees uiteindelik bo die vleeslike begeerte sal seëvier. M.a.w. my liefde vir God en daarom ook daardie geestelike drang in my lewe om Hom te behaag, sal verhoed dat ek uiteindelik swig onder die vleeslike begeertes wat in my woed.
Nou hoe sal ek weet of ek na die vlees of na die gees wandel? Paulus gee vir ons ‘n paar eienskappe wat aanwesig is in mense se lewens wat na die vlees wandel. (Vers 19 – 21). Hy sê ook vir ons dat ons teen hierdie eienskappe in ons lewens moet stry aangesien mense wat hierdie dinge doen en ook daarin volhard, geen deel het in die Koninkryk van God nie. Ons weet dat elkeen van ons van nature sondig is, en dat ons stryd op aarde ‘n ewige stryd van die vlees teen die Gees is, maar laat ons nie verskonings uitdink oor waarom hierdie vleeslike eienskappe in my lewe teenwoordig is nie. Laat ons eerder selfondersoek instel, ons foute erken en daadwerklik daaraan begin werk om dit uit ons lewens te verwyder. Dan eers kan ons leef soos ware kinders van God wat die vrugte van die Gees in hul lewens weerspieël. (Vers 22). En verblydend is die feit dat wanneer ons daarna streef om die vrugte van die gees in ons lewens voort te bring, dit outomaties ook tot gevolg sal hê dat ons die Wet van God uit dankbaarheid volbring.(Vers 23).
Laat ons nie wees soekers van ydele eer wat mekaar uittart of 'n ander op 'n vennyige wyse teregwys nie, maar laat ons deur die Gees lewe (Vers 25 & 26) en vir mekaar in nederigheid ‘n voorbeeld stel met ons lewens van hoe God wil hê ons moet lewe, want daardeur sal ons lewens welbehaaglik voor God wees en sal ons kan uitsien daarna om die Koninkryk van God met blydskap binne te gaan.