STILLE GEHOORSAAMHEID
Hannes Ollewagen
Exodus 14:1 -31
In die gelese gedeelte sien ons hoe God die volk Israel doelbewus in ‘n lewengevaarlike en doodsbenoude situasie inlei tot eer en verheerliking van sy groot en heilige Naam.
Vir die kinders van Israel is die gevaar waarin hulle verkeer so oorweldigend dat hulle nie eers dink aan die betrokkenheid van God se Hand in hul toestand nie. Al waaraan hulle kon dink in hul tyd van benoudheid, was die vrees wat hul in die gesig gestaar het en ook aan iemand wat hul kon blameer vir hul situasie en dreigende ondergang. (Verse 10-12).
Moses verseker egter dadelik die volk Israel dat hul moet weet dat God deurgaans in beheer van elke situasie is – hoe onmoontlik en hopeloos dit ook mag lyk. Hy sal mos nie sy volk deur ‘n sterke Hand uit Egipte uitlei net sodat hulle in die woestyn kan sterwe nie? Moses verseker die volk met die volgende woorde wat elke kryger en kind van God sal bemoedig om man-alleen in die stryd op te trek en elke vyand sal laat terugdeins van vrees: “Die Here sal vir julle stry, en julle moet stil wees.” (Vers 14). Die Almagtige God sal self vir julle stry!!
Weereens kan ons in ons eie volkslewe aanskou hoe ons tans onsself in ‘n situasie van benoudheid bevind. Ons volk word uitgemoor en verdruk op elke denkbare, dog slinkse en agterbakse manier, maar ons mag nie terugveg nie!! Wat sê die Here vir ons in sy Woord om te doen wanneer ons onsself in sulke ONMOONTLIKE situasies bevind? Moet ons beter planne probeer uitdink? Moet ons harder probeer werk om ons eie verlossing te probeer bewerkstelling? Moet ons die stryd gewonne gee en op die vlug slaan? Moet ons maar ons geloof laat vaar en by die meerderheid inval omdat ons bang is die meerderheid oorweldig ons? Nie een van hierdie “menslike oplossings” word vir ons voorgeskryf nie. Eerder dieselfde opdrag as wat die volk Israel gekry het: “Die Here sal vir julle stry, en julle moet stil wees.” (Vers 14). Het ons vyande nie ook rede om te sidder soos wat Farao en sy leërmagte moes gesidder het voor die waters van die Rooi See (God se Hand) hulle oorweldig het nie?
Beteken hierdie opdrag dat ons nou maar passief agteroor kan sit en kyk waar eindig ons as volk eendag? Alles is mos in God se Hand? Verseker nie! Vers 14 word direk gevolg deur ‘n OPDRAG in vers 15 aan die volk. Die opdrag van GEHOORSAAMHEID. Die Here vra dat ons moet STIL wees sodat ons sy Stem baie mooi en duidelik in ons lewens kan hoor, want om verlos te word uit ons huidige omstandighede gaan gehoorsaamheid verg, en saam met gehoorsaamheid, ‘n onwrikbare geloof in ons Verlosser.
Ons moet dus besef en erken dat ons in die situasie in ons vaderland verkeer omdat God dit toelaat en nie omdat enige party, mens of instansie so sterk en magtig is om ons aanhoudend te kan verdruk nie. Net soos wat God die magtige Farao met sy hele leërmag in ‘n oogwink vernietig het, soos wat Hy die Zoeloe-krygsmag by Bloedrivier verbrysel het, so kan en sal Hy ook, op sy tyd, die mag wat ons tans onderdruk en probeer verkneg en verneder, verbrysel en vernietig.
Ons moet egter intussen verseker dat ons harte stil is voor Hom om noukeurig na sy Stem te luister en gehoorsaam te wees aan sy opdragte – sonder enige verskonings. Al lyk die opdragte van God se kant ook soms hoe vreesaanjaend of haas onmoontlik (soos om op droë grond deur die see te trek of dat 400 man ‘n oormag van 20 000 die stryd aansê), moet ons onthou dat Hy vir ons stry en ons in geloof en gehoorsaamheid moet saamtrek in die stryd.
Wanneer ons in stille gehoorsaamheid saam met God trek, weet ons dat geen mag ons sal kan verower nie en sal ons vyande ook aan die einde van die dag moet erken dat niemand voor God se Hand kan standhou nie. Dan kan ons ook in stille dankbaarheid die verlossing van God aanskou soos wat Israel van ouds asook ons voorsate die voorreg gehad het om te kon doen.
Mag die Almagtige God van hemel en aarde, die Ewig-Lewende, gee dat ons Boere-Afrikanervolk ook weer spoedig sy verlossingswerk mag aanskou en die Here sal vrees en in Hom glo, soos wat ons gelowige, strydende voorsate dit gedoen het.