TOETS VAN MY GELOOF

Hannes Ollewagen

I Johannes 2:1-17

Ons sien in hierdie gedeelte hoedat Johannes vir ons ‘n riglyn gee om te weet of ons wel die REGTE God aanbid in ‘n wêreld wat wil voorgee dat elkeen God kan aanbid soos wat dit hom of haar pas.  Johannes sê vir ons in verse 3 – 5 dat as ons sê dat ons God ken en Hom liefhet, maar geen begeerte het om aan Hom gehoorsaam te wees nie, is ons leuenaars en is daar rede vir dringende selfondersoek in ons lewens.

Let mooi daarop dat Johannes nêrens sê dat ons wetties moet lewe, of wanneer ons sondig dat ons God nie liefhet nie!!  Inteendeel, in 1 Johannes 1:8-10 herrinner Johannes ons daaraan dat God se liefde vir ons so groot is dat Hy ons elke maal vergewe wanneer ons ware berou oor ons sondes het en dit voor Hom bely en omvergifnis vra.  Juis om laasgenoemde rede is dit waarom Johannes aanvoer dat die besef van God se groot liefde vir ons, ons nader aan Hom sal trek om ook te probeer om Hom bo alles in ons lewens lief te hê.  Dit omdat ons weet dat Christus se sterwe aan die kruis ons nie volmaak gelaat het nie, maar juis die losprys was vir al ons onvolmaaktheid.    Wanneer ons egter wil wegkruip agter Christus se Verlossing van ons sondes en dan beweer dat ons kan leef soos ons wil omdat ons sondes reeds vergewe is, is ons besig om onsself te mislei en God se genade en liefde goedkoop te maak.

Omdat ons te swak is om as mense volmaak te kan wees en deur goeie werke God se Koninkryk in te gaan, het God self vir ons die verlossing bewerk deur sy enigste Seun, Jesus Christus, as offer te gee om ons vry te koop.  Gedurende Christus se lewe op aarde het Hy ook vir ons die voorbeeld gestel van hoe God van ons verwag om te leef.  God verwag van ons ‘n gehoorsame lewe, gehoorsaam aan Hom bo enigiemand, ook ons familie, die owerhede, of watter mag ookal;  ‘n liefde vir Hom wat strek bo alle ander liefde vir ander dinge in ons lewens.  Ons moet God liefhê met ons hele wese.  Wanneer ons God liefhet met ons hele wese, sal ons aan Hom gehoorsaam WIL wees uit dankbaarheid en sal ons dus ook die res van die Wet onderhou, juis omdat die onderhouding daarvan gesetel is in die nakoming van die eerste twee gebooie daarin.

Ons moet as kinders van God daarna streef om te wandel soos wat Christus gewandel het (vers 6).  Net soos ‘n klein seuntjie sy aardsvader as sy grootste held sien en daarna streef om net soos hy te wees, moet dit vir ons ook nie anders wees met ons oë gevestig op ons Hemelse Vader nie – om elke dag daarna te streef om te word soos onse Jesus Christus.  Ons moet besef dat ons nie deur goeie werke iets by God kan verdien nie, want wat wil ons in elkgeval verdien wanneer Hy reeds ons verlossing vir ons GESKENK het?  Ons moet egter ernstig daarteen waak dat ons nie daardie liefde van God en groot geskenk van Verlossing in God se gesig teruggooi soos wat die Jode in die tyd van Christus gedoen het nie.

Laat elkeen van ons dus ons lewe voluit vir Christus leef en die gawes wat Hy aan ons toevertrou het, ten volle benut en nie ons talente onder die maatemmer begrawe nie, maar in die uitlewing daarvan altyd daarteen waak om nie die wêreld en die begeerlikhede van die vlees meer lief te kry as vir God nie.  (Vers 15&16).

Hoe swaar ons stryd teen die wêreld en sy begeerlikhede ookal mag wees, moet ons in liefde vir God en dankbaarheid teenoor Hom vasstaan teen die versoekinge, omdat ons weet dat die wêreld en sy begeerlikhede verbygaan, maar dat hy wat die wil van God doen(d.i. om God bo alles lief te hê en ook my naaste soos myself) vir ewig sal bly. (Vers 17).