AFKERIGHEID TOT GOD?
Hannes Ollewagen
Jer. 8:4 -22
In die opskrif van die gelese gedeelte sien ons reeds die waarskuwing van die straf wat onafwendbaar is en MOET kom omdat die volk van God afvallig geword het.
Nie alleen het die volk afvallig geword van God en gesondig teen Hom nie, maar hulle weier boonop om in berou na Hom terug te keer. (Vers 5). Dit is natuurlik nie net Jerusalem (die volk Israel) wat van God afvallig geword het om agter nietige gode aan te hoereer nie. Ons eie volk het ook van God afvallig geword om agter nietige gode (soos die geld-, sport- en genot-gode) aan te loop en dit is asof dieselfde weiering om na God terug te keer in ons volk se gees teenwoordig is as wat daar in die destydse volk Israel se gees teenwoordig was. Waarom is ons volk dan steeds afkerig?
As God die volk Israel dan gestraf het vir hul oortredinge teen Hom en hul verset teen bekering, is daar hoegenaamd 'n kans dat Hy ons van óns afvalligheid en afkerigheid sal verskoon en ons oortredinge ons nie toereken nie?
Waarom sal Hy maar net maak asof Hy nie ons afvalligheid en afkerigheid bemerk nie? Ons weet tog dat dit nie God se manier is om sulke afdwalinge totaal te ignoreer nie en dat dit een of ander tyd gestraf SAL word. Hoewel God medelye met ons swakhede het, is daar min dinge wat Hom so bedroef en ook kwaad maak soos die ongehoorsaamheid en voortgesette afkerigheid van sy kinders.Daar is ongetwyfeld diegene wat sal verkondig dat die mens vir God só kosbaar is, dat hy maar kan leef soos hy wil – God sal nooit kwaad raak of daaroor straf nie (humanisme). Hierdie dwaalleraars sal selfs God se Woord verwerp en dit vervang met hul eie vertalings wat by hul “godsdiens” (van menseverering) inpas om hul volgelinge van hul sieninge te oortuig (vers 8&9). Ek wonder net of diegene darem ook sal onthou om Openbaring 22:18 &19 ook liefs heeltemal uit hul “vertalings van die Bybel” weg te laat?
(Verse 11 &12): Is hierdie nie dan ook sò beskrywend van hoe die hele wêreld mislei word om te glo dat Suid-Afrika vandag in ‘n Utopiese staat van “vrede” verkeer nie, aangesien dit die beeld is wat die media die wêreld instuur en waaraan sommige van ons ook deel deur naweke in ‘n sportstadion saam met enige ander rasse 'vredevol en in harmonie' met mekaar deur te bring terwyl ons “ons span” met geesdrif ondersteun nie? Laasgenoemde wat dan self ook ‘n toonbeeld van die land se multi-kulturele en “vredevolle” naasbestaan is. . .
Terwyl ons onsself besig hou met soveel van nuttelose genietinge is die Here dalk ook besig om tussen ons deur te beweeg om te kyk wie vrug dra in sy Koninkrykswerk. Sal God dan van my en u ook moet vra, soos van die volk in vers 19: “…Waarom het hulle My geterg met hulle gesnede beelde, met vreemde, nietige afgode?” Sal ons onsself verder besig hou met nietige dinge terwyl die somer dan verbygaan sonder dat dit ‘n oes oplewer?
Sou ons verkies om aan te hou om sonder vrug voort te leef en nietige gode aan te hang in plaas van ons Almagtige Vader? As dít die geval is, kan ons mos nie verbaas wees oor Hy nie ons afvallige volk genees nie! Sou ‘n pasiënt sy geneesheer met reg kan verkwalik as hy nie gesond word terwyl hy nie die voorskrifte van die geneesheer uitvoer en die geneesmiddels getrou gebruik nie?
Daar is wél ‘n geneesmiddel vir ons volk: VEROOTMOEDIGING.
Ons het ook ‘n Geneesheer wat met ‘n brandende liefde van ons verwag om sy voorskrifte na te kom sodat Hy deur sy Wonderhand ons kan genees! Mag elkeen van ons in eerlikheid al ons gebreke (en moontlike afkerigheid) voor ons Geneesheer bely om só deel te hê in die genesingsproses wat op ons volk wag!!