Hannes Ollewagen
Hosea 4:1 – 19
In vers 1 sien ons dat God ‘n regsaak het met sy volk en dat die aanklag is dat die volk geen trou, geen liefde en geen kennis van God het nie.
Daarom dan dat die hele land goddeloos leef en ook in die proses ten gronde gaan. Behalwe daarvoor dat mense leef soos wat hulle wil, sal hul selfs verder gaan om te weier om na enige teregwysing en berisping te luister. (Vers 4).
As gevolg van hierdie goddeloosheid en hardnekkigheid is ons volk besig om ten gronde te gaan, want ons het nie genoegsame kennis van God nie. Waarom nie? Omdat mense die kennis oor God verwerp. Daar is tyd vir allerhande onbenullige maniere van tydverdryf, maar om tyd in te ruim vir God en voor Hom stil te raak om ons kennis aangaande Hom te verdiep, is daar selde. Sonder hierdie kennis sal vers 6 van die gelese gedeelte nie vir jou as ‘n besonderse vers in die Woord na vore kom nie. As jy egter waarlik ‘n kind van God is en ‘n persoonlike verhouding met Hom het, sal hierdie vers jou verseker tot stilstand dwing vir dringende selfondersoek. Om deur God verwerp te word moet sekerlik die grootste vrees op aarde vir enige ware kind van God wees. Dit word egter gevolg deur ‘n verdere waarskuwing, dat God jou nie net sal verwerp nie, maar ook jou kinders sal vergeet as jy die wet van God vergeet!!!
As ons voldoende kennis van God het, sal ons Hom vrees en liefhê. Ons sal Hom liefhê deur die besef dat sy liefde vir ons soveel groter is as wat ons Hom ooit kan liefhê. Hy het dit vir ons bewys deur ons van ons sondelas vry te koop sonder dat daar enigsins verdienste aan ons kant was. Hy het ons vrygekoop deur die duurste prys te betaal, nl. met die lewe van sy enigste Seun, Jesus Christus. Ons sal met hierdie besef God vrees omdat Hy die belangrikste aspek van ons lewens sal wees en ons Hom dus nie wil teleurstel of selfs net daardie geringe risiko wil loop om Hom te vergeet en deur Hom vergeet en verwerp te word nie. Ons sal Hom liefhê en dien, want ons sal besef dat Hy vir ons soveel meer doen as wat ons ooit kan besef – selfs wanneer ons nie meer hier op aarde is nie, sal Hy steeds na ons nageslag en dierbares omsien, ter wille van ons wat Hom liefgehad het.
Wanneer ons wat wel ware kennis van God het na die lewenswyse van die goddelose wêreld kyk, of na diegene wat goddeloos lewe met die verskoning dat Jesus reeds vir almal se sondes gesterf het – besef ons dat die fout nie by ons lê wanneer ons onsself van die wêreld wil afsonder nie. Dit was nog nooit verkeerd om in die waarheid te volhard nie. Ons is wel in hierdie wêreld, maar nie deel (gelykvormig) daarvan nie. Ons kan nie ontrou teenoor ons God raak om mense ter wille te wees en Hom in die proses verloën nie. Wanneer ons doelbewus ontrou is teenoor God, hoe kan ons bely dat ons Hom waarlik liefhet?
Laat ons dus afgesonderd vir God leef uit liefde vir Hom, en in die proses ons kennis oor Hom verdiep om sodoende ook ons geloof in Hom te versterk, aangesien ons ‘n onwrikbare geloof in Hom sal moet hê in die stryd wat vir ons op aarde voorlê.
Soos ons kennis oor Hom vermeerder, sal ons liefde vir Hom al groter word, en sal ons dankbaarheid vir sy onuitspreeklike en onverdiende genade verdiep. Soos wat ons liefde vir Hom al groter word, sal ons ook al meer getrou aan Hom raak - getrou in my Godsdiens, die keuses van my vriende en/of lewensmaat, die opvoeding en onderrig van my kinders – getrou in my hele lewenswandel.
Met voldoende kennis van Hom, weet ons ook dat wanneer ons Hom liefhet en getrou is aan Hom, Hy ook getrou sal wees om ons teen die aanslae van die bose te beskerm.