ONDERWYSING DEUR ONS MEESTER

Hannes Ollewagen

Johannes 15:1-27

Ons sien in die opskrif van die gedeelte dat hierdie laaste onderwys ook ‘n innige vereniging van Jesus met sy dissipels is.  Die boodskap was dus vir Hom ‘n baie belangrike onderwysing.

Wanneer ons onsself kinders van God noem, is ons mos ook veronderstel om sy dissipels (volgelinge) te wees?  Moet ons onsself dan nie ook deur sy Woord laat onderrig soos wat die dissipels in die Nuwe Testament gedoen het nie?  Moet ons nie ook die boodskap met dieselfde erns aanneem as wat hulle gedoen het nie?

In verse 1 en 2 begin Jesus sommer onmiddellik sy dissipels daarop wys dat God ondersoek instel in sy wingerd.  Hy kyk gedurig of daar lote is wat nie vrug dra nie, die grond onnodig onvrugbaar maak en kap hulle dan uit.  Die wat wél vrug dra, word skoongemaak sodat dit meer vrug kan dra.

Watter een van die lote is ek en u vandag?  As ons Landbouer nou sou kom ondersoek instel, sal Hy ons laat staan, ons skoonmaak of ons dalk uitkap omdat ons nie vrug dra nie?  Maar hoe sal ons dan voldoende vrug kan dra waardeur ons Vader verheerlik kan word?  Dit is mos maklik om vir myself te lieg en myself te oortuig dat ek voldoende vrug dra.  Hoe weet ek dat die Landbouer tevrede sal wees met my oes?  Is daar ‘n maatstaf waaraan ek myself kan toets?  In verse 10 sien ons hoe Jesus vir sy dissipels sê dat hulle in sy liefde moet bly en om laasgenoemde reg te kry, moet ons sy gebooie bewaar.  Ons moenie bloot sy gebooie slaafs nakom om daardeur iets te verdien nie – inteendeel, ons moet uit dankbaarheid sy gebooie leer en dit in ons HARTE BEWAAR vanwaar die Heilige Gees ons gedurig aan hierdie gebooie sal herrinner om sodoende ons lewenswandel te rig tot welvalligheid van God.   Hierdeur sal sy Naam dan ook verheerlik word.

Weer sien ons in vers 16 dat Jesus ons daaraan herrinner dat ons Hom nie uitverkies het om Hom te aanbid nie.  Hy het ons uitverkies sonder enige verdienste van ons kant en daarom dat ons dankbaarheid teenoor Hom so geweldig groot moet wees!!  Hy het ons egter nie net met woorde gesê dat ons vrygekoop is van sonde omdat Hy ons liefhet nie.  Hy het ook sy liefde vir ons (en sy gehoorsaamheid aan die Vader) bewys deur die mees vernederende en pynlike dood aan ‘n kruishout te sterf terwyl Hy totaal en al sondeloos was. Dit opsigself moes sy lyding soveel erger gemaak het!  Daarom dat Hy ook van ons verwag om nie net met die mond te bely dat ons Hom liefhet nie, maar om ook met ons leefwyse te toon dat Hy ons enigste Verlosser en Koning is.  “…en julle aangestel om vrug te gaan dra…”

Wanneer ons gehoorsaam is aan God, meer as aan mense, is die kanse goed dat ons deur die mensdom en wêreld eenkant toe geskuif gaan word omdat ons nie vir die wêreld aanvaarbaar is nie.  Ons is nie modern of charismaties of “cool” genoeg nie.  Ons kry egter die versekering van ons Leidsman, Jesus Christus, dat die wêreld dieselfde met Hom gedoen het.  Die wêreld het Hom nie net eenkant toe geskuif nie maar die wêreld het Hom gehaat.  (Vers 18).  Wanneer ons in die voetspore van ons Heiland wil volg en in sy heerlikheid wil deel, moet ons nie ook bereid wees om dieselfde lyding te verduur wat Hy verdra het ter wille van ons nie?  Omdat ons God se eiendom is en nie dié van die wêreld nie, sal die wêreld ons haat, maar Hy sal ons liefhê!

Die keuse is elkeen se eie, maar ek weet dat ek veel eerder verkies om deur die wêreld gehaat en deur my Vader liefgehê te word as om die wêreld se guns te probeer wen en aan my Vader ongehoorsaam is, Hom teleur te stel en te verloën.  Wat sal jou keuse wees?