Hannes Ollewagen
Lukas 13:22 – 30
‘n Vraag wat so algemeen deur gelowiges gevra word is dieselfde as die vraag wat Dawid mee geworstel het: “Waarom gaan dit altyd goed met die goddelose en kom hul lewens so sorgeloos voor terwyl die regverdiges deurentyd in ‘n stryd van een of ander aard gewikkel is?”
Wil ons ‘n duideliker antwoord op ons vraag kry as die gelese gedeelte? Christus self kom sê vir ons dat ons deurgaans hard moet stry om in te gaan deur die nou poort, aangesien baie sal probeer om in te gaan maar sonder sukses. Die ewige lewe word nie net op ‘n skinkbord aan my en u gegee en nou kan ek totaal-en-al sorgeloos in ‘n goddelose wêreld voorleef nie.
Inteendeel, die feit dat ek weier om aan die huidige wêreld deel te hê aan die toenemende boosheid, sal my dwing om deurgaans hard te stry om op die smal weg te bly om my in staat te stel om in te gaan deur die nou poort. . . Ek stry hard om elke dag te doen wat reg is; nie wat reg is in die oë van die wêreld, my kollegas, vriende, die kerk of owerheid nie (laasgenoemde twee wat teen 'n angswekkende tempo afvallig raak); nee, wat reg is volgens die Woord van God en my Vader se oë, ongeag menslike opinies, opmerkings of selfs oordeel.Dit is wel waar dat ons ‘n lankmoedige en genadige God aanbid wat ons telkens ons oortredinge vergeef, maar dit is ook waar dat dieselfde God ons meer as genoeg waarsku dat wat ons ewige saligheid betref, ons net een kans kry. Wanneer die deur toegemaak word en jy ken God nie en Hy ken jou nie, is daar nie ‘n tweede kans nie. Geen geld, protesoptog, geheime organisasie, hof of enige ander mensgemaakte maaksel sal jou in God se Koninkryk en uit die ewige verderf kan red nie!!!
Is ek daagliks besig om te stry om te doen wat reg is in God se oë en sodoende te stry om in te gaan deur die nou poort, of hou ek my besig met soveel ander dinge en stel die stryd uit vir eendag wat dit dalk te laat mag wees? Getuig my lewe van ‘n Godsvresende lewe wat God se gebooie in my hart bewaar en dit deurgaans oordink om my lewe daarvolgens te leef omdat ek Hom liefhet en gehoorsaam wil wees aan die gebooie wat my sal dryf om deurgaans te stry teen sonde en ongehoorsaamheid aan God?
Kom ons maak vandag seker dat ons wel op die nou pad is wat lei na die ingang deur die nou poort en ook dat ons gefokus bly op ons reis om nie regs of links daarvan af te wyk en sodoende dalk nie deur die poort kan ingaan nie.
Laat ons die reis op die smal weg met waardigheid en ywer voltooi soos wat ons Meester, Jesus Christus, ook sy stryd op aarde voltooi en oorwin het en reeds besig is om vir elkeen van ons wat sy weg vind deur die nou poort, plek te berei om te deel in sy Ewige Heerlikheid!!