OM U WIL TE DOEN, O GOD

Hannes Ollewagen

Hebreërs 10:1-18

“Toe het Ek gesê:  Kyk, Ek kom – in die boekrol is dit van My geskrywe – om U wil te doen, o God.” (Vers 7).

Is hierdie nie die gesindheid wat in elkeen van ons as kinders van God moet heers nie?  Dieselfde gesindheid wat in ons Meester, Jesus Christus, se lewe geheers het met sy koms na die aarde om ons een maal te heilig en van ons sondes vry te koop!  Nie om Homself te verheerlik nie, nie om iets daardeur van die Vader te ontvang nie, maar juis omdat Hy berus het by die wil van ons Almagtige Vader en na die aarde gekom het om Homself te offer om sodoende die wil van God te doen.

Jesus het nie alleen vir ons sondes aan die kruis gesterf en daardeur ons ewige saligheid verseker nie, Hy het ook vir ons kom dien as Rolmodel en voorbeeld van hoe ons as God se kinders moet leef – soos wat God se eniggebore Seun op aarde geleef het.  Hy het vir ons kom wys dat daar in ons lewens versoekings sal wees, aangesien Hy self versoek  is.   Ons kan uit sy lewe op aarde leer dat die mense ons sal haat en spot wanneer ons doen wat reg is, dat elkeen van ons ‘n kruis in ons lewens sal kry wat ons moet opneem en Hom met waardigheid dra, dat God se kinders ook nie gevrywaar word van swaarkry en ellende, hartseer en vrees, ens. nie, maar dat ons wel bygestaan word deur die Heilige Gees in ons moeilike tye.

Ons leer uit Christus se lewe dat dit normaal is om soms bang te word wanneer ons deur die onheile van die lewe bedreig word – soos wat Hy self gepleit het dat sy lydensbeker van Hom weggeneem sal word, sou dit die Vader se wil wees.  Hy het egter nie die Vader verwyt omdat Hy Hom nie sy versoek toegestaan het nie, maar eerder in eerbied gehoorsaam en sy kruis gedra in gehoorsaamheid aan die Vader omdat sy hoofbegeerte in sy lewe was om God se wil te doen.

Wat is die hoofbegeerte in my en u hart en lewe vandag?

Om mense tevrede te stel of meer gewild te wees onder my vriende en kollegas?

Om meer geld te maak of nóg ‘n nuwe voertuig of strandhuis aan te skaf om sodoende my aardse besittings te vermeerder, waar mot en roes dit sal verniel en diewe sal inbreek en steel?

Om nóg meer tyd aan my sportondersteuning te spandeer of selfs net meer tyd daaraan te spandeer om TV te kyk in die aand? Laasgenoemde wat reeds tot so ‘n mate verafgod is dat dit die plek van die huisaltaar in die meeste huise ingeneem het!

Dalk is ek só uitermatig nasionalisties dat ek selfs my volk begin verafgod en belangriker as God beskou terwyl ek in my entoesiasme dink ek doen goed?

Daar is wel ‘n tyd en ‘n plek vir alles, maar dit is uiters belangrik dat elkeen van ons seker maak vandag dat God die HOOF-PRIORITEIT in ons lewens is.  Ons moet verseker dat Hy die middelpunt in my en u lewe is!! Ons moet seker maak dat ons die eerste gebod gehoorsaam om Hom lief te hê bo ALLES en sodoende my eie begeertes ondergeskik te stel aan sy Wil, want daardeur wys ek vir Hom dat die volgende ook die reël is waarvolgens ek lewe:  “…om U wil te doen, o God.”