Hannes Ollewagen
Psalm 62
Vers 2: “Ja, my siel is stil tot God; van Hom is my heil.”
Wanneer laas het ek my siel waarlik laat stil word voor God? Is my lewe dalk so gejaagd en vol spanning, werk, verantwoordelikhede en probleme dat die beste wat ek kan doen is om gou in die oggend ‘n paar Bybelversies deur te jaag en ‘n gebed af te rammel om so gou moontlik met my druk skedule te kan begin?
Dalk het ek soveel verantwoordelikhede, probleme en hartseer in my lewe dat AL my “stiltetyd” daaraan bestee word om God om hulp te smeek en my klagtes voor Hom uit te stort. Natuurlik mag ek my probleme na God neem, maar is daar darem ook tyd om voor Hom stil te wees sodat Hy met my kan praat en ek na Hom kan luister? Hoe kan ons raad en leiding van ons Vader verwag as ons nie stil word voor Hom om sodoende sy Stem te hoor nie? Ons moet altyd in gedagte hou dat ons veronderstel is om besig te wees met Godsdiens, m.a.w. dat ons vir God dien en nie Hy vir ons nie. Ons stiltetyd moet nie bestaan uit ‘n paar minute waarin ons bloot vir God probeer op datum bring van ons menslike begeertes nie. Stiltetyd is ook nie bedoel om Hom te herrinner aan die versie wat ek gelees het waarin Hy beloof om my behoeftes te verwesenlik nie, wat daarop neerkom dat ek God wil voorskryf. Ons stiltetyd is veronderstel om ‘n tyd te wees om werklik stil te raak voor Hom om sy Aangesig te soek en na sy Stem te luister.
Natuurlik moet daar ruimte wees in my stiltetyd om my hartseer en probleme voor God uit te stort (vers 9). Ons moet egter daarteen waak dat laasgenoemde nie die enigste doel van my tyd met God word en dit sodoende ontaard in ‘n selfsugtige “eie-ek-tyd” waar net my persoonlike probleme en begeertes van belang is nie. Dan moet ek weer die Bybel in geheel gaan bestudeer om te verseker dat ek wel besig is met ware Godsdiens gedurende my stiltetyd. Ek vind dit interessant dat wanneer ek stil raak en met God oor belangriker dinge as net my eie begeertes praat (bv. sy Koninkrykswerk, ons volk, my naaste se probleme en hartseer), my eie begeertes skielik baie minder belangrik raak. Terselfdertyd lyk my eie probleme en hartseer soveel kleiner en sien ek dit as die onbenulligheid wat dit meestal is, maar uit ‘n selfsugtige oogpunt het dit ‘n heel ander voorkoms. . .
Ons mag nooit uit die oog verloor dat die sterkte aan God behoort en dat Hy Almagtig is nie. (Vers 12). ‘n Probleem wat vir ons vreeslik oorweldigend kan lyk, is vir God nie eers ‘n faktor nie. Hy kan, soos dit Hom behaag, my lewensomstandighede in ‘n oogwink verander. Dink u nie dat wanneer eie my eie begeertes en probleme begin “afskeep” om meer tyd daaraan te spandeer om met die dinge van my Vader besig te wees dat Hy getrou sal wees om my te help met daardie probleme waaroor ek geen beheer het nie? Wil ek só besig wees met die dinge van my Koning, dat ek nie eers tyd kry vir my eie selfsugtige begeertes nie?? (Ek bedoel nie dat ek al my verantwoordelikhede moet versaak om net heeldag te sit en Bybel lees nie. Ek bedoel, dat ons waarlik tyd moet maak om die prioriteite in ons lewens reg te kry. Is dit wat ek as belangrik beskou, regtig so belangrik, of dalk net ‘n selfsugtige begeerte wat vir niemand anders as myself enige voordeel inhou nie?).
Kom ons elkeen probeer opnuut stil raak voor God in ons persoonlike stiltetyd met Hom, sonder die geruis van selfsugtige menslike begeertes en probleme in ons ore om sodoende die Stem van ons Vader helder en duidelik in ons lewens te kan hoor.