Hannes Ollewagen
Jesaja 30:1 – 26
Wanneer ek besig is met ware Godsdiens en my Vader aanbid en liefhet soos wat Hy vir my voorskryf in sy Woord, sal ek daarna uitsien en verlang om op ‘n gereelde grondslag stil te word voor my God.
Die grootste probleem met kommunikasie tussen partye, is seersekerlik die feit dat die boodskap verkeerd oorgedra of verstaan word. Die hoofredes vir die foutiewe oordrag en vertolking van inligting kan aan die volgende faktore toegeskryf word:
- Geraas
- Haastigheid
- Ongeduld
Wanneer daar ‘n onaardige geraas rondom my woed terwyl ek met iemand anders probeer kommunikeer, vind ek dit moeilik om die boodskap korrek te vertolk. Dalk is ek die oorsaak van die geraas omdat ek nie wil stilraak om te luister nie. . .
Dalk is ek so haastig om my eie strewes na te jaag, dat ek nie regtig tyd het om te luister nie en dus net ‘n gedeelte van die boodskap wat aan my oorgedra word, ontvang? Of dalk is ek net ongeduldig van aard?In die lig van bogenoemde kan ons sien waarom dit so uiters belangrik is om stil te raak voor God op ‘n gereelde grondslag. Hoe sal ek sy Stem agter my kan hoor wat sê: “…Dit is die weg, wandel daarop! . . .” as ek nie stil raak en daaraan aandag gee of my nie daaraan steur nie? Wat help dit my dat ek God om hulp vra en Hy my selfs antwoord terwyl ek so haastig is om my eie koers in te slaan en aardse strewes na te jaag dat ek buitendien nie aandag gee aan sy raad nie? Watter wonderlike voorreg het ons nie om die Gees van God as rigtingwyser in ons lewens te hê om ons koers aan te dui wanneer ons regs of links wil afwyk nie!! Waardeer ons egter laasgenoemde voorreg regtig, en gebruik en koester ons dit deur die Gees gereeld te raadpleeg en voor Hom stil te word om te luister na sy Stem wat vir ons die rigting wil aandui?
Dalk wag die Here ook vandag met ongeduld om vir my en u genadig te wees en Hom oor ons te ontferm. Maar is ons dalk te besig om stil te raak voor Hom? Kom ons maak seker dat ons koers hou in ‘n rigtinglose wêreld deur tyd te maak vir Hom en stil te raak voor Hom sodat ons as sy kinders ook die stem van die Heilige Gees agter ons kan hoor wat sê: “…Dit is die weg, wandel daarop!...” wanneer ons regs of wanneer ons links wil gaan.