OM TE LEEF IN DIE GELOOF

Hannes Ollewagen

2 Pet. 1:3-21

Deur sy goddelike krag het Jesus ons in staat gestel om God te ken.  Hy het ons lewens nie alleenlik só gerig dat ons van Hom kennis dra en bewus is van sy bestaan nie, maar ook só dat ons kon kies om Hom as ons Verlosser en Saligmaker, en ons God en Vader, aan te neem.

Omdat ons gekies het om Hom aan te neem en te dien as ons God, verkies ons ook om die verdorwenheid te ontvlug en nie deur die wêreld se begeerlikhede oorweldig te word nie.  (Vers 4).  Ons sien uit hierdie gedeelte dat Petrus ons leer dat die bevestiging dat ek waarlik glo, gesien kan word wanneer ek die keuse maak om my rug te draai op die slegte wêreldse begeerlikhede en kies om agter Jesus aan te loop.

Wanneer ek hierdie keuse gemaak het, beteken dit nie dat ek nou my deel kant-en-klaar afgehandel het en agteroor kan sit omdat ek reguit op ‘n geplaveide paadjie oppad hemel toe is nie.  Dit beteken bloot dat ek my Leidsman gevind het saam met wie ek my lewenspad verder gaan stap.  Nou begin die werk in my geloofslewe, want by my geloof moet ek voeg, die deug, m.a.w. ek moet my Leidsman se lewenswandel probeer nastreef.  Hierby moet ek die kennis byvoeg, want hoe sal ek sy Wil kan doen en Hom kan behaag as ek Hom nie goed ken nie?

Namate my kennis van my Leidsman en God uitbrei, sal ek natuurlik leer dat een van die magtigste wapens wat ek moet opneem teen sonde, selfbeheersing is.  Wanneer ek nie beheer het oor myself nie, sal Satan onmiddellik van die geleentheid gebruik maak om beheer van my lewe, of dalk net aspekte van my lewe, te neem vanwaar hy sy vernietigingswerk kan doen.  Indien ek egter die uitdaging van selfbeheersing bemeester, beteken dit mos dat ek oor die vermoë beskik om te besluit of ek die pad saam met my Leidsman end-uit wil stap; andersyds of ek wil afdraai agter wêreldse begeerlikhede aan.  Dit is wanneer ons lydsaamheid by ons goddelike deugde moet voeg sodat ons ook voluit kan volhard onder beproewinge soos wat ons Leidsman, Jesus Christus, end-uit kon volhard onder sý sware beproewinge.

Wanneer ons die toets van lydsaamheid geslaag het, kan ons begin om godsvrug te dra, want dan is dit mos ‘n bewys dat ek God wil dien en Hom waarlik liefhet in goeie en in slegte tye en dat ek Hom nie bloot aanbid vir wat Hy vir my kan doen nie.  Wanneer ek godsvrug dra, moet ek in my lewe werk aan broederliefde en naasteliefde, want God leer ons uit sy Woord dat ons selfs die taal van engele kan praat, maar sonder die liefde sal dit ons niks baat nie.  Dit beteken m.a.w. dat al dra ek die “mooiste godsvrug” in my lewe, maar die liefde is nie aanwesig nie, sal dit my niks baat nie.

Sodra ons dink dat ons bitter naby aan volmaak is wanneer ons die laaste gedeelte van die liefde onder die knie gekry het, lees ons in vers 8 dat die aanwesigheid van bogenoemde eienskappe nie is waar ons verantwoordelikheid stop nie.  Bogenoemde eienskappe moenie net in my lewe aanwesig wees nie, dit moet ook toeneem, want dan laat dit ons nie onvrugbaar tot die kennis van onse Here Jesus Christus nie.  Verder word ons gewaarsku dat ons moet aandag gee as hierdie eienskappe nie in ons lewens aanwesig is nie, want dan sal daar geen opregte dankbaarheid in ons hart wees vir Jesus se Verlossingswerk nie.

Laat elkeen van ons onsself vandag beywer om as uitverkore kinders van God ons weë vas te maak sodat ons nie sal struikel nie en ook, deur die leiding van ons Leidsman, toegang tot die ewige koninkryk van onse Here en Saligmaker, Jesus Christus, verleen mag word.