GIDEONSBENDE

Hannes Ollewagen

Rigters 7:1 -25

Wanneer ons vers 2 lees, klink die woorde van God geensins logies vir ons menslike verstand nie.  Hoe kan die manne wat optrek in die stryd te veel wees?  Is daar dan nie krag in getalle nie?  Daar mag dalk krag in getalle wees, maar in God se Hand is daar oorwinning!!!

God wou nie hê die volk moet optrek in die stryd met die gesindheid in hul hart dat hul nou hul eie verlossing gaan bewerkstellig nie.  Hy wou hulle herrinner dat dit hul uiteindelike doel is om sy Naam te verheerlik, daarom dat Hy die Gideonsbende (300 van die aanvanklike 32 000) van 0,94% van die aanvanklike manskappe wat wou optrek, uitkies vir die stryd.  Dit is nie toevallig dat dit God se eerste opdrag is dat die manne wat bang is en bewe moet omdraai en teruggaan nie.  Wanneer ons God waarlik ken, weet ons dat die gesindheid in ons harte vir Hom saak maak.  Die vermoëns en krag wat ons nodig het om in sy diens te staan, sal Hy self aan ons voorsien.

Ek is seker dat elke nasionalistiese Boere-Afrikaner in sy hart onmiddellik dink aan die “Gideonsbende” wat God uitverkies het om sy Naam by Bloedrivier te verheerlik.  ‘n Oorwinning wat bykans 200 jaar later steeds herdenk word en waarin ons kinders steeds vertel word van die Almag van ons God!!  Hoewel dit net ‘n Gideonsbende is wat steeds hierdie oorwinning herdenk en die geloftes wat daarmee gepaardgaan aan die Allerhoogste betaal, word dit steeds gedoen.  Gelukkig weet ons dat ons Vader nie na die getalle kyk van diegene wat hul geloftes betaal nie, maar na hul gesindhede!

Wanneer ons na die wêreld rondom ons kyk en omstandighede in ons land met ‘n gesonde, rasionele verstand beoordeel, weet ons dat daar swaar tye op ons volk wag.  Ons verkondig hierdie waarskuwings nie om vrees aan te wakker en mense moedeloos en teneergedruk te maak nie.  Inteendeel, dit is ‘n bevestiging dat die waarskuwings wat God gerig het, nie net geskiedkundige skrywes is nie, maar dat Hy werklik bestaan en werklik vir ons omgee.  Hy wil hê dat ons gereed moet wees wanneer swaarkry oor ons kom en ook ons krag en verlossing van Hom moet verwag en nie van mense nie.

Gedurig hoor ons oor die radio en lees ons in die koerante van politieke en ekonomiese kenners wat tientalle oplossings het om ons land te herstel, maar nie een van hulle sal waag om te sê dat ons na God om hulp moet roep nie.  Al hulle voorstelle is daarop gerig dat ons deur ons eie krag ons verlossing moet bewerkstellig of selfs d.m.v. onderhandeling met regerings wat openlik ons God se Heilige Naam belaster!!  Wat ons egter vandag nodig het, is ‘n Gideonsbende!! ‘n Bitter klein groepie volksgenote wat deur Hom in hul binneste gelouter is en wat diensbaar aan Hom wil wees - daardie groepie wat vir verlossing na Hom opsien, en nie om gemaksugtige redes nie, maar om vry te kan woon in ‘n land waar Hy as die Oppergesag en enigste ware God erken en aanbid word!  ‘n Land waarin sy Naam deurgaans verheerlik kan word  sodat dit as  getuienis vir die hele wêreld kan dien. ‘n Klein groepie wat soos die psalmdigter vandag saam met my sal uitroep:  “…Ek slaan my oë op na die berge:  waar sal my hulp vandaan kom?  My hulp is van die Here wat hemel en aarde gemaak het.”

Ons moet egter weet dat Gideon nooit probeer het om God voor te skryf oor hoe en wanneer Hy hul verlossing moet skenk nie.  Hy was bloot gehoorsaam aan die stem en opdrag van God en kon sodoende as waardevolle instrument in God se Hand gebruik word.

Terwyl daar nog genadetyd vir ons oor is, laat ons seker maak dat ons gesindheid teenoor God reg is, ons hart aan Hom behoort, sodat ons deel kan wees van die Gideonsbende wat Hy kan gebruik om sy Naam te verheerlik!!

Kom ons slaan ons oë op na Hom wat in die hemel troon en vestig ons oë op sy Almagtige Hand waarin nie net mag is nie, maar ook OORWINNING!!