VERLOSSING UIT GENADE

Hannes Ollewagen

Efesiërs 2:1-10

Vers 8&9:  “Want uit genade is julle gered, deur die geloof, en dit nie uit julleself nie:  dit is die gawe van God;  nie uit die werke nie, sodat niemand mag roem nie.”

Watter wonderlike gawe het ons as kinders van God om die GAWE van geloof van ons Vader te kon ontvang, en dit sonder enige verdienste! Dit alles net oor Hy ons eerste liefgehad het en ons hierdie gawe wóu skenk!

Wat maak ek en u met hierdie gawe wat ons van Hom ontvang?  Waardeer ons dit opreg en probeer ons dit koester en laat groei om meer soos ons Meester, Jesus Christus, te word of is ons slegs bewus van die gawe wat ons ontvang het, en dit is waar dit eindig?   Enige volwasse persoon met ‘n bietjie insig in die lewe, sal vroeg in sy/haar lewe reeds die volgende goue reël aanleer:  Hoe groter die voorreg, hoe groter die verantwoordelikheid wat daarmee saamgaan.

Ek is ‘n baie bevoorregte mens met soveel gawes wat ek van God ontvang het, maar ek kan aan geen een groter gawe dink as die gawe van geloof nie!  As ek nie kon glo nie, sou my lewe doelloos wees.  As ek nie glo dat daar ‘n beter lewe ná die huidige volg waarin ek my Vader van aangesig tot aangesig gaan ontmoet nie, waarvoor sou ek lewe?  Sou ek vroeg opstaan, myself dag vir dag vermoei en tot laataand opbly om bymekaar te maak vir iemand wat dit dalk nie waardeer nie en net sou verkwis?  Omdat ek egter glo dat dit wat ek doen, alles vir my Vader is, probeer ek in alles my bes vir Hom lewer.  My Godsdiens is nie ‘n tradisie wat ek elke Sondag beoefen om kerktoe te gaan omdat dit ‘n gewoonte is nie.  Ek ontvang mos nie net die “Sondag-geloof gawe” nie?  Ek ontvang die gawe van geloof in Jesus Christus wat so oorweldigend is dat ek Hom wil deel maak van my hele bestaan!!  Omdat ek niks besit wat ek as dank aan God vir sy onuitspreeklike genade kan teruggee nie, is al wat ek Hom kan bied, my lewe op aarde.  Ek wil hê my kollega’s by die werk moet die getuienis van Jesus in my lewe kan sien, dieselfde vir my familie en vriende en selfs die vreemdelinge waarmee ek te doen kry.

In vers 10 lees ons dat ons God se maaksel is, geskape in Christus Jesus tot goeie werke.  As ek dan geskape is soos Jesus Christus, sou ek nie daarna streef om te leef soos wat Hy geleef het nie?  Nie ‘n skynheilige vroom lewe nie, maar ‘n lewe wat getuig van die eienskappe wat God welgevallig is.  Sal ek nie daarna streef om te wees ‘n Godsvresende, regverdige, vredeliewende, opregte, eerlike, sagmoedige man wat graag die wil van sy God wil doen nie?

 

My wens vandag is dat ek en u vir ‘n oomblik sal stil raak om opnuut tot die besef te kom watter wonderlike gawe ons van God ontvang het en met hierdie besef in ons harte ons lewens opnuut sal inrig om te lewe as kinders van God waarvan Hy ook kan getuig (soos van Dawid in Handeling 13:22): “…van wie Hy ook gesê en getuig het:  Ek het Dawid, die seun van Isai, gevind, ‘n man na my hart, wat al my welbehae sal doen.”