GOD SE EIENDOM

Hannes Ollewagen

1 Kor. 3:9-23

Vers 23:  “...maar julle behoort aan Christus, en Christus aan God.” 
Christus het eenmaal vir ons die volledige prys betaal deur Homself as offer te bied om ons as diensknegte van sonde vir ewig vry te maak.  Hy het die volle prys betaal en dus behoort elkeen wat waarlik in Christus Jesus glo, vir ewig aan Hom.

Elke mens het ‘n keuse of hy ‘n dienskneg van die sonde (waarin hy ontvang en gebore is) wil bly tot in ewigheid en of hy die Evangelie van Verlossing wil aanneem en vir ewig onder die juk van slawerny van sonde wil uitbeweeg!!  ‘n Keuse om eerder ‘n dienskneg van Christus te wees.  Ongelukkig beteken dit nie dat wanneer ons kies om Christus se diensknegte te wees ons ook vry sal wees van teëspoed, hartseer en ongeluk nie!  Inteendeel, wanneer ons kies om in die voorste linie vir Christus te veg in sy Koninkrykswerk, moet ons nie verbaas wees as die bose met alle mag sy aanvalle op ons sal laat afvuur nie. Dit is ook waar dat Christus ons al in sy tyd op aarde gewaarsku het dat hoe nader sy Koninkryk en Ewige Oorwinnig kom, hoe feller sal die stryd raak en hoe meer aanvalle sal ons moet trotseer.  Soos enige gedugte kryger wat nie eer ontvang indien hy nie met dapperheid enduit sy geveg voltooi nie, hoe verwag ons loon sonder om ons stryd enduit te veg?  Ons is egter verseker daarvan dat ons Aanvoerder selfs nie eers deur die dood gebind kon word nie, dus kan ons met dapperheid en selfveresekering stry in die wete dat ons aan die Oorwinnaarskant stry!!

So goed soos wat God geweet het dat die mens onmagtig is om homself te red en ook geneig is om die kwaad te doen en daarom ons verlos het deur sy enigste Seun, Jesus Christus, as ons Verlosser na die aarde te stuur, so goed het Hy ook geweet dat ons nie geestelik alleen die stryd teen die bose sal kan stry nie.  Hy het dus vir ons die Heilige Gees as trooster gestuur om ons geestelik te versterk en ook leiding te bied in ons lewens.  In vers 16 sien ons hoe Paulus ons daaraan herinner dat die Gees van God in ons bly – God is dus die heeltyd by my as ek my lewe vir Hom gegee het en Hom genooi het om in my lewe woning te maak en dus as ‘n tempel van God dien.  Hierdie is eintlik ‘n gedagte wat enige ware gelowige vir ‘n oomblik tot stilstand en inkeer behoort te dwing.  As ek net dink waarmee ek my besig gehou het tot dusver vandag, hoe ek dalk met ander mense gepraat het, die manier waarop ek my werk gedoen het of dalk nagelaat het om te doen en as ek dan dink dat God heeltyd aanwesig was en alles kon aanskou, sal ek dalk bietjie skaam kry oor sekere dinge?

As jy skaam voel oor jou verkeerde handelinge is daar beslis nog baie hoop vir jou, want dit beteken mos dat die Heilige Gees ‘n werklikheid in jou lewe is en jou dus oortuig van die sonde en die verkeerde in jou lewe.  Dit beteken dat God deel is van jou lewe, al voel jy daar is dinge wat jy dalk nie wil hê Hy moet deel van wees nie – daardie dinge wat ek moet regstel voor Hom en nie probeer wegsteek vir Hom nie! Nie een van ons sal op aarde volmaak wees nie, want as dit binne ons bereik was, sou dit onnodig vir Christus gewees het om ons te kom loskoop van ons sondelas.

Hierdie is die presiese rede waarom ek niks minder as my hele lewe aan Hom verskuldig is nie, want Hy het niks minder as sy lewe daaraan gewy om my Verlossing te bewerkstellig nie.  Die enigste verskil is dat die Verlossing wat Hy vir my en u bewerkstellig het, nie net van tydelike aard is nie, maar sal duur tot in alle ewigheid!!

Met hierdie wete kan ons uitsien daarna om ons Verlosser en Saligmaker te ontmoet en wil ons veral in tye van lyding ook die woorde in Openbaring 22:20 aanhaal:  “…Amen, ja kom, Here Jesus!”