GOD IS WAARHEID

Hannes Ollewagen

Lees reeks by Hannes Ollewagen

Psalm 12:1-9

Reeds in die opskrif van hierdie gedeelte sien ons geskryf staan dat leuens onder die mense heers, terwyl God waarheid is.  M.a.w. die leuen (en Satan wat die vader is daarvan) heers in die meerderheid mense, hoewel hulle dalk skynheilig kan voorgee dat hulle God liefhet en Hom dien.  As die mensdom God waarlik liefgehad het, sou hulle sy Wil gedoen het en sou hulle ook die waarheid liefgehad het, want God IS waarheid.

Dit voel vir ons as Godvresende mense dat die goddeloosheid en leuens daagliks vermeerder en dat dit ondraaglik vir ons raak om daarmee saam te leef.  Wanneer ons doodeerlik met onsself moet wees, voel dit vir ons onregverdig dat ons geslag só erg gebuk moet gaan onder ‘n samelewing wat floreer op leuens en bedrog, maar dan sien ons dat dit in die Ou Testamentiese tye vir Godsvresende mense alreeds so gevoel het.  Wanneer ons dan gaan kyk wanneer hierdie boosheid begin het, om eintlik vas te stel wie die laaste regverdige mense op aarde was wat die “lekker gehad het”, besef ons dat leuens, en die verwoesting wat daarmee saamgaan, reeds sy oorsprong in die Paradys gehad het waar Satan vir Eva gelieg het.

Ons sien in vers 2 van die gedeelte hoe Dawid na God roep om hulp, want volgens hom is daar geen vrome meer nie.  Dit voel vir hom asof niemand in sy tyd die aardbodem bewandel met ‘n vrees vir God in hulle harte nie en hulle gaan om met leuens, vleiende lippe en dubbelhartigheid en hy kan amper nie verstaan hoe ons Almagtige Vader, wat ‘n God van waarheid is, dit kan gadeslaan en ongestraf laat verbygaan nie.  Deel ons nie baie keer dieselfde gevoel nie?  Is dit nie vir ons tot in ons siel ontstellend wanneer iemand ons bedrieg of vir ons lieg en daardie persoon dan “skotvry” daarvan afkom en die persoon wat die waarheid gepraat het gewoonlik aan die kortste end moet trek nie?  Laasgenoemde ‘n kenmerkende eienskap  van die verwronge sin van reg en geregtigheid wat in ‘n goddelose regstelsel bestaan.  Ons moet egter nie moedeloos word nie, want ons weet dat God waarheid is en dat Hy altyd sal seëvier.  Waarom Hy baiekeer eers ‘n saak totaal en al verlore laat lyk voordat Hy triomfantlik ingryp om dan as Oorwinnaar met sy volgelinge uit die stryd te tree, kan seker doodeenvoudig toegeskryf word aan die feit dat sy volgelinge hul dan nie skuldig kan maak deur vir hulself enige lof of eer toe te eien nie,  dat hulle al die lof en eer van die oorwinning aan Hom moet gee.

Wanneer ons moedeloos raak en voel dat ons die laaste eerlike en Godsvresende mense op aarde is, moet ons net nooit voel dat dit tevergeefs is om aan God se beloftes vas te hou nie!!  Ons moet nooit voel dat sy beloftes nie bewaarheid sal word nie, want Hy IS waarheid en sal nie beloftes maak wat Hy nie kan nakom nie!  Ons moet onthou dat sy beloftes en sy Woord onfeilbaar is.  Vers 7:  “Die woorde van die Here is rein woorde, silwer wat gelouter is in ‘n smeltkroes in die aarde, gesuiwer sewe maal.”

As ons nie enduit volhard saam met ons Leidsman nie, het ons dan deel in sy oorwinning?  Ons weet dat ongeag hoe fel die aanslag van die Bose in ons tyd mag raak, die Here ons sal bewaar, want ons het die belofte daarvan in vers 8:  “U, o Here, sal hulle bewaar, U sal ons bewaar van hierdie geslag vir ewig.”  Hy sal ons bewaar van hierdie (goddelose) geslag sodat ons nie gelykvormig aan hulle sal raak nie.  Hy sal ons bewaar van ‘n leuenagtige en bedrieglike geslag, sodat ons nie word soos hulle nie.

Al lyk die situasie in u persoonlike lewe, in ons volkslewe of selfs in die wêreld op hierdie oomblik vir Godsvresende mense nie baie rooskleurig nie, weet ons dat ons ‘n God het wat ons sal bewaar van die Bose, wat nie sal toelaat dat ons bo ons kragte versoek word nie, maar saam met die versoeking ook die uitkoms sal gee.  ‘n God wat WAARHEID IS en wat altyd as oorwinnaar uit die stryd tree.  ‘n God wat ons beloof met rein woorde wat gelouter is in ‘n smeltkroes van die aarde, dat Hy ons nie in die stryd sal begewe nie, maar dat ons ook nie ons rug in die stryd op Hom moet draai of ons geloof ons moet versaak sodat ons van Hom sal wegdraai nie.

Mag elke Godsvresende gelowige in die stryd volhard sodat ons saam met Hom mag stry om sodoende God se heil te mag aanskou wanneer ons eendag saam met Hom regeer!!  2 Tim. 2:12:  “As ons verdra, sal ons met Hom regeer…”