CHRISTELIKE LEWENSWANDEL

Hannes Ollewagen

Efesiërs 4:17-32

God het ons uit genade vrygekoop van die slawerny van sonde, daarom moet ons nie langer diensknegte van sonde wees nie, want die prys wat betaal is vir ons vryheid was ongelooflik duur.

Ons, as God se kinders, is vrygekoop van die sonde.  Dit bring egter die verantwoordelikheid mee dat ons lewens moet getuig van mense wat vrygekoop is van die sonde, maar ook die verantwoordelikheid om te stry daarteen om nie weer deur sonde verkneg te word nie.  Hierdie is die rede waarom ons gemaan word om daarna te streef om ‘n heilige lewe te lei, aangesien die duiwel uitgeslape is en stadig maar seker klein dingetjies in ons lewens gebruik om ons van voor af te verkneg.  Die satan sal bv. ‘n slegte gewoonte van jou vir homself omskep in ‘n geleentheid wat kan lei tot verslawing en wat dan in ‘n reuse stryd kan ontaard vir enige gelowige om weer daarvan ontslae te raak.  Dit is waarom Paulus ons maan in die gelese gedeelte om vir die duiwel geen plek te gee in ons lewens nie. (Vers 27)  Wanneer die duiwel net ‘n klein plekkie in ons lewens kry, sal hy dit inneem en homself stewig daar vestig waarna hy soos ‘n kanker sal versprei indien ons nie waak daarteen en die verkeerde in ons lewens beveg nie.

Ons word in hierdie gedeelte ook deur Paulus aanbeveel om enige lewenswandel van sonde af te lê en vernuwe te word – ons moet dus nie streef na die onverganklike, begeerlike en aardse dinge nie, want dit is waar die duiwel vinnig ‘n intreeplek in ons lewens kan kry.  Ons moet eerder onsself met die nuwe mens beklee, die vrygemaakte mens, wat na die beeld van God geskape is.  Aangesien ons na die beeld van God geskape is, is dit dan ook ons verantwoordelikheid om daarna te streef om elke dag al meer te word soos ons Vader.  Dit beteken nie dat ek skynheilig ‘n filantropiese lewe moet leef waain mense my elke dag prys en ophemel en ek die eer van my goeie dade verkry nie.  Inteendeel, ons as kinders van God, weet dat al die eer aan Hom alleen toekom; daarom sal ek dit wat ek doen op so ‘n wyse probeer  doen dat Hy daardeur verheerlik sal word.

Ek en God alleen weet wat in my hart aangaan.  Wanneer ek dus daagliks streef om al meer soos Hy te word, kan ek begin by daardie dinge wat verkeerd is in my lewe, dinge waaroor ek selfs te skaam is om te bid en waarvan niemand anders weet nie.  Gelukkig hoef ons nie voor mense te gaan bieg alvorens ons vergifnis ontvang nie.  God verwag egter dat daardie dinge wat verkeerd is in my lewe, reggestel en afgelê moet word.  Ek moenie volhard in sonde nie, want Hy het my reeds daarvan verlos, maar as ek verkies om in die hardheid van my hard nie die sonde af te lê nie, kies ek mos om nie God se verlossing van sonde te aanvaar nie?  Wanneer ek weier om die sonde in my lewe af te lê, loop ek die gevaar dat ek ongevoelig sal raak vir die verkeerde in my lewe en kort voor lank leef ek ‘n algehele onrein lewe – so verduister die verharding van my hart my verstand en in die proses sal ek ook van God vervreem raak.  (Verse 18&19).

Ons Vader ken ons soveel beter as wat ons onsself ken.  Selfs die hare van ons hoof is almal deur Hom getel (weet ek self hoeveel hare op my hoof is?).  Dit is juis omdat Hy die mens gemaak het en groot begrip het vir die feit dat ons uit stof gemaak is en geneig is om te doen wat verkeerd is, dat Hy dan ook ná Christus se hemelvaart vir ons die Heilige Gees as Leidsman in ons harte en lewens gestuur het.  Hy het geweet ons sal leiding nodig hê in hierdie bose wêreld waarin ons leef om vir ons rigting aan te dui.  Hierdie is dan ook ‘n duidelike bewys dat ons nie kan reken dat God my op ‘n bepaalde (sondige) gemaak het en ek nou maar só kan leef nie – God weet dat Hy ook ‘n sterk gees in elkeen van ons gegee het wat teen die sonde kan stry en dit oorwin aangesien Christus reeds die sonde en die dood oorwin het.  Wanneer ek dus kies om daardie verlossing te aanvaar, kies ek om nie ‘n dienskneg van sonde te wees nie en die verkeerde uit my lewe te verwyder en daarteen te bly stry.

Die Heilige Gees in ons lewens oortuig ons van sonde in ons lewens sodat ons daarmee na die Vader kan gaan om dit reg te stel.  Wanneer ek verkies om nie na die stem van die Heilige Gees te luister nie, bedroef ek Hom deur my ongehoorsaamheid. (Vers 30).  Indien ek die Heilige Gees aanhoudend bedroef,  sal  Hy nie dalk van my weggaan nie?  Daar is tog nie plek vir God (of die Heilige Gees) saam met afgode (sonde wat vir my so belangrik is dat ek nie daarmee kan breek nie)in my lewe nie.

God het ons uit genade en liefde vrygekoop van die slawerny van sonde, daarom moet ons nie langer diensknegte van sonde wees nie, want die prys wat betaal is vir ons vryheid was ongelooflik duur.  Elkeen wat egter waarlik in Christus glo, kan elke dag met ‘n blye gemoed die stryd teen sonde in hierdie wêreld voortsit, aangesien ons vyande is van satan, maar nie sy (of sonde s'n) diensknegte nie.  Ons hoef ook nie te vrees nie, want al is satan ons vyand, God is ons Vader en Hy alleen is Almagtig.   Selfs satan kan net dít doen wat God hom toelaat.