Hannes Ollewagen
Matt. 14:22-36
Wanneer ons hierdie gedeelte lees en in eerlikheid ook ons eie geloof moet beoordeel, waar sal ons dit op die weegskaal plaas? Is my geloof so sterk soos dié van Petrus? Dalk is my geloof volgens my ‘n bietjie sterker as wat syne was en reken ek dat ek nie bang sou geraak het en begin twyfel het soos hy nie? Dalk is ek eerlik genoeg om te erken dat ek só kleingelowig is dat ek nie eers my voete op die water sou gewaag het nie.
Wanneer ons ‘n ware verhouding met God Drie-enig het en in liefde sy Woord bestudeer om Hom beter te leer ken, sal ons weet dat een van die eienskappe waarvan Hy niks hou nie, ongeloof of selfs net kleingelowigheid is. Waarom sal ons dan aanhoudend aanhou twyfel in plaas daarvan om te glo? God openbaar Homself en sy Grootheid en Almag aan ons in die natuur rondom ons wat ons elke dag met ons eie oë kan aanskou; in sy Woord openbaar Hy Hom aan ons asook in wonderwerke in ons lewens asook profesieë wat in vervulling gaan. Maar steeds sal ons soos Petrus soms angstig rondkyk en twyfel?
Petrus beleef eerstehands Jesus se Almag deur sy uitnodiging te aanvaar om op die water na Hom te loop, maar dit is asof die situasie vir hom te oorweldigend raak; dan begin hy twyfel en sink dan weg in die onstuimige waters van die see. Hoe dikwels kyk ons ook so angstig na die hopelose situasies en bedreigings in ons lewens dat ons wegsink in die kommer wat ons omring? In plaas daarvan dat ons ons oë gevestig hou op Jesus, staar ons onsself blind teen ons probleme wat menslik onoorkombaar lyk en dalk bes moontlik is. Dit is egter menslik onmoontlik om op water te loop ook. . .
Ons kan onsself nou weer die vraag afvra: Hoe lyk my geloof vandag? Waarop fokus ek op die oomblik? Op my onoorkombare probleme, of op Jesus Christus by wie niks onmoontlik is nie omdat my hoop op Hom alleen is en ek weet Hy my kan help? Hy kan ons land se wanhopige situasie in ‘n oogwink verander; Hy kan die hartseer wat so diep in my hart lê, gesond maak; Hy kan vir my wat sy kind is enigiets doen wat Hy goeddunk. Hy het my selfs van die sonde en dood verlos want Hy kon - niks is vir Hom onmoontlik is nie.
Waarom is geloof vir God só belangrik? Ek glo dat die toets van jou geloof in jou lewe uitgeleef sal word. Wanneer ek WAARLIK glo in Jesus Christus wat my só liefgehad het om my sondes op Hom te neem en my van die ewige verderf te verlos omdat ek te swak en onmagtig is om my eie verlossing te bewerkstellig, sal ek mos ‘n lewe leef wat van daardie ware geloof getuig. ‘n Lewe wat getuig van my besef dat ek niks besitt om God as dankoffer aan te bied nie, en daarom my lewe uit liefde en dankbaarheid aan Hom wy. Ek kan vir Hom wys dat ek Hom só liefhet dat ek Hom sal volg, waar Hy my ookal lei, sou dit selfs wees in stormwinde en waters in die middel van die oseaan.
Terwyl ons in ‘n land woon waar ek van niks seker kan wees nie – nie van my werk, inkomste en besittings nie, selfs nie van my lewe en veiligheid nie, het ons ten minste ons geloof. Dit word egter so deur die bose magte aangeval, dat ek sukkel om staande te bly teen die storms wat rondom my woed as ek my fokus verskuif vanaf my Leidsman na die probleme en aanslae rondom my. Wanneer ons God liefhet en in waarheid aanbid, kan ons egter seker wees dat Hy ons ook sal vang wanneer ons struikel soos wat met Petrus gebeur het.
Mag dit nie vir Hom nodig wees om vir my en u te vra: “…Kleingelowige, waarom het jy getwyfel?” nie, maar dat ons lewens sal getuig van ‘n hart wat werklik glo en kan bely dat Hy waarlik die Seun van God is!