GODVRESEND OF GODLOëNAAR?

Hannes Ollewagen

KEER JOU OOK VAN HIERDIE MENSE AF!

2 Tim. 3:1-9

In vers 2 tot 4 van die gelese gedeelte word ons op ‘n mooi manier ook deur Paulus gewaarsku op sekere gevaartekens in ons eie lewens om daarteen te waak om te word soos hierdie afvallige mense.  Hierdie karaktertrekke is dinge waarteen elke kind van God veronderstel is om te waak en te veg gedurende sy/haar lewe.

Ongelukkig skep dwaalleringe die indruk wanneer jy tot bekering kom, jou ewige saligheid vir ewig verseël is en dat jou pad na die hemel uitgeteer is!  Wanneer ons egter God se Woord lees, weet ons dat dit ‘n blye dag in die hemel is vir elke siel wat tot bekering kom, maar dat bekering slegs die begin van jou pad as gelowige dienskneg van God is!

  Dit is maar net die begin van die stryd teen sonde om nie alleen te waak om staande te bly teen die aanslae van Satan nie, maar om later, wanneer jy geestelik meer volwasse en sterk is, ook teenaanvalle teen Satan te loods om God se Koninkrykswerk te bevorder en te beskerm waar dit vir moontlik is.

Wanneer ek tot die besef kom dat ware bekering en aanneming van Christus as my Verlosser ook van my ‘n dienskneg van God maak, sal my lewensuitkyk in die lewe  handomkeer verander.  Ek sal die groter prentjie begin insien dat God my nie net gemaak het en op aarde geplaas het om in my eie stoflike en selfsugtige behoeftes te voorsien nie, maar dat Hy my deel gemaak het van ‘n groter Raadsplan.  Hy het my met ‘n doel deel gemaak van ‘n klein en geringe volkie wie se eintlike doel met ons “planting” aan die Suidpunt van Afrika was om afgesonderd as ‘n heilige volk vir Hom te leef sodat ons ‘n getuienis vir die res van die wêreld kan wees!  Die geringste, dog magtigste volkie op aarde – knegte van die Allerhoogste, teen die hele wêreld vry!!

God het egter lankal vir ons die waarskuwing gegee dat mense, insluitend ons “volksleiers” die huidige wêreld meer lief sal hê as vir Hom.  Dat hulle verraad sal pleeg en roekeloos met hul volk se toekoms handel en daardeur nie hul pligte as knegte van Hom nakom nie, maar eerder hul volk mislei weg van Hom af!!  Deur laasgenoemde te doen het hierdie verleiers Godloënaars geword omdat hulle gekies het om hul aangesig van God af te keer om agter die wêreld aan te loop.  Mense wat lyk soos ek en u, maar wat die krag van God in hulle verloën, omdat hulle kies om die wêreld meer lief te hê. (Vers 5).  Omdat hulle hul eie eer soek en nie die eer van Hom nie wat, ironies genoeg, hul toegelaat het om hul magsposisie te beklee.

Dit is maklik vir elkeen van ons om vinger te wys na mense wat nie net ons volk nie, maar ook ons God verloën het.  Tog waarsku die Woord ons dat elkeen van ons wat staan, moet oppas dat ons nie val nie.  In verse 2 tot 4 word daar 17 eienskappe genoem wat in “afvallige” mense te bespeur sal wees en as ons nadere ondersoek in ons eie lewens instel, sal ons dalk vind dat een of twee van hierdie eienskappe in my eie lewe te bespeur is.  Dit beteken nie dat jy nou ‘n sondaar is wat God wil verloën nie, maar wanneer u nie bekommerd is daaroor nie, moet die gevaarligte ernstig flikker, aangesien die sonde soos ‘n kanker is wat stilletjies begin en eindelik die hele liggaam deurtrek en plattrek indien dit nie betyds aangespreek word nie.  Wanneer ek met veragting dink aan die mense wat ons volk doelbewus van God af weggelei het, kan ek nie anders as om NIKS in gemeen met só ‘n mens  te wil hê nie.  Ek wil nie dat ander na my kyk en  eers oorweeg om my met misleiers te vergelyk nie.  En ek beskou hierdie nie as geestelike hoogmoed nie, maar as ‘n groot stap op my geloofspad aangesien Christus self gevra het watter ooreenkoms is daar tussen lig en duisternis (goed en kwaad)?  As Christen is daar vir my 'n baie duidelike opdrag in die Woord:
"Maar weet dit, dat daar in die laaste dae swaar tye sal kom; want mense sal liefhebbers van hulleself wees, geldgieriges, grootpraters, trotsaards, lasteraars, ongehoorsaam aan hulle ouers, ondankbaar, onheilig, sonder natuurlike liefde, onversoenlik, kwaadsprekers, bandeloos, wreed, sonder liefde vir die goeie, verraaiers, roekeloos, verwaand, meer liefhebbers van genot as liefhebbers van God;  mense wat 'n gedaante van Godsaligheid het maar die krag daarvan verloën het. Keer jou ook van hierdie mense af. " – II Tim 3.

Dank die Vader vandag dat Hy ook reguit met ons deur sy Woord praat om ons duidelik te kenne te gee waarvan Hy nie hou nie oor eienskappe in ons lewens wat nie sy goedkeuring wegdra nie en reggestel moet word.

Roekeloosheid is een van daardie eienskappe – laat ons dus nie roekeloos met ons geestelike lewe omgaan deur nie selfondersoek te doen om te weet of ek dalk die Bose oor my laat heers nie; dat ek seker sal maak dat ek God liefhet bo die hele wêreld en bo alle ander dinge in my lewe – dat ek ‘n volwaardige dienskneg vir Hom kan wees, ‘n Godvresende dienskneg van die Allerhoogste, teen die hele wêreld vry!!