Hannes Ollewagen
Efesiërs 5:1-21
In vers 1 van die gelese gedeelte word ons daaraan herrinner dat ons navolgers van God en nié sy raadgewers is nie. Dit is veral omdat ons in ‘n wêreld leef waarin die mens as wese bo sy Maker verhef word en dit dan vir ons voel asof ons die reg het om Hom voor te skryf of sy weë te bevraagteken.
Daarmee saam word die gesindheid waarin ons Hom moet navolg ook vir ons verduidelik. Ons moet nie ons Vader uit dwang navolg nie, maar soos geliefde kinders. Ons moet Hom volg omdat ons liefde vir Hom ons daartoe dryf en nie om iets van Hom terug te verwag of omdat ons daartoe gedwing word nie – God is nie verleë oor ons om Hom te dien nie, daarom sal Hy niemand dwing om Hom lief te hê en te volg nie. Hy is egter lief vir elkeen van sy geliefde kinders en sal ons tugtig wanneer ons van Hom afdwaal. Daarom moet ons ook bereid wees om saam met die versorging wat ons daagliks uit sy Hand ontvang, die beproewinge en die tugtiging aan te neem en steeds in stille vertroue op Hom te hoop, ongeag ons omstandighede. Dit is mos wat ‘n kind sal doen wanneer sy pa hom iets beloof – hy sal rustig raak en vol vertroue op sy vader se woord en beloftes wag. Hoeveel te meer kan ons Vader in die Hemel nie sy beloftes aan ons nakom nie?
Ons word in vers 2 daaraan herrinner dat Christus reeds vir ons die voorbeeld op aarde gestel het oor die wyse waarop Hy wil hê ons moet wandel. Hoewel ons nooit volmaak soos Christus kan wees nie, omdat ons in sonde ontvang en gebore is, kan ons elke dag daarna streef om te word soos wat Hy is. Wanneer my oë op Christus gerig is en ek daarna streef om Hom te behaag, sal my lewe vaste rigting aanneem, aangesien die Woord van God en God self die enigste onveranderlikes is in ‘n deurgaans veranderende samelewing!! Dit beteken dat ek my naaste lief sal hê ongeag sy optrede teenoor my, want ek het hom nie lief omdat hy my liefhet of omdat hy aan my goed doen nie – nee, ek het my naaste lief omdat ek weet dat God dit van my vra en ek Hom gehoorsaam wil wees. Dit alles omdat ek Hom liefhet. Hierdie is die volmaakte liefde wat God van ons vra, want dit is ‘n liefde wat niks in ruil terug verwag nie! Dit is ‘n liefde wat my bereidwillig sal maak om aan my naaste onderdanig te wees in die vrees van God. Hierdie is die liefde wat my daartoe in staat kan stel om my eie belange opsy te skuif terwille van my naaste (maar eintlik God se) belange, omdat dit vir my belangriker is as my eie. Sou ek in opregtheid my “eie belange” afskeep omdat God se belange vir my belangriker is, glo ek dat Hy in sy oorvloed steeds vir my sal voorsien in wat ek nodig het. Hierdie liefde vir God sal my daartoe dryf om deurgaans te probeer doen wat Hom behaag. (Vers 10).
Wanneer ek myself en my eie belange ondergeskik stel aan dié van my Vader, is ek mos inderwaarheid besig om die voorbeeld wat Christus vir my gestel het na te kom, nl. om myself oor te gee as ‘n gawe en offer aan God tot ‘n lieflike geur (vers 2). Met hierdie gesindheid kan ek mos nie anders as om daarna uit te sien om my Vader van aangesig tot aangesig te ontmoet nie, die Een Wie ek liefgehad het deur my hele leeftyd op aarde! Ek sal hartstogtelik verlang om te sien hoe lyk my Vader op wie ek my lewe lank in stille en gehoorsame vertroue gewag het, en om dan vir ewig met Hom te wees!!