GOD 'N PRIORITEIT IN JOU LEWE?

Hannes Ollewagen

Johannes 14:1-31

Jesus sê vir ons in vers 3 dat Hy weggegaan het om vir ons plek te berei sodat ons ook kan wees waar Hy is.  Dit is immers die rede waarom Hy aarde toe gekom het; om ons te verlos van sonde sodat ons vir ewig saam met Hom kan wees waar Hy nou is.

Eerstens het Christus gekom om ons van die sonde te verlos en nou is Hy besig om ons plekke in gereedheid te bring vir wanneer ons aardse tentwoning afgebreek word en ons verheerlikte liggame na Hom vertrek.  Ons sien hierin dat sy kinders vir Hom deurentyd belangrik is.

Nou is die vraag: as Hy vandag ondersoek kom instel in my en u lewe, sal Hy vind dat Hy ook ‘n prioriteit in ons lewens is?

  Is ek en u besig om sy gebooie in ons harte te bewaar soos wat Hy van ons vra?  (Vers 15.)  Waarmee hou ek myself elke dag besig?  Is daar plek en tyd vir Christus in my lewe – of nog beter: is Hy netso belangrik in my lewe as wat ek vir Hom is?  As ons Hom liefhet en sy gebooie bewaar, sal ons veral besef dat ons in die huidige moderne en humanistiese wêreld onsself geroepe moet voel om vir die eer van God se Naam asook vir die waarheid op te staan. Ons sien hoe Satan met sy leuendienaars besig is om mense in hulle duisende te mislei.  Al wat die Bose nodig het om te seëvier, is dat goeie mense niks moet doen nie!  Aan die ander kant is bloot ons optrede soms die mees kragtige getuienisse wat ons kan lewer. Ek kan met my leefwyse ‘n ander persoon só beïnvloed dat hy genoodsaak voel om my te beledig of te spot, om homself daardeur te probeer verdedig – en dit slegs deur my voorbeeld.

God het ons as oorblyfsel van sy volk só begenadig om ons nie alleen as wese agter te laat om in die stryd ten gronde te gaan nie.  Hy het ons die Gees van die waarheid gestuur om ons in ons stryd op aarde te lei.  Dit, nie omdat ons die grootste, magtigste of heiligste mense op aarde is nie, maar omdat daar iets anders aan ons is as aan die res van die wêreld, nl. dat God ons waarlik liefhet.  En ook oor ons Hom liefhet, het Hy vir ons die Gees van die waarheid gestuur wat die wêreld nie kan ontvang nie, omdat die wêreld Hom nie waarlik liefhet en Hom nie ken nie.  Dit is nog ‘n bewys dat mense wat Hom net ken wanneer dit hulle pas, nie aanspraak kan maak dat hulle Hom opreg liefhet nie.  Wanneer ek Hom waarlik liefhet, sal ek Hom voortdurend in my lewe erken en sal sy Gees in my woon; daarom sal ek deurgaans daarna streef om Hom nie te bedroef nie en elke minuut van elke dag probeer om Hom te behaag.

Ons leef in ‘n wêreld wat gekenmerk word aan dinge wat voortdurend verander en daar is glo nie plek vir "verkramptes" wat nie met verandering kan byhou nie.  Ek is oortuig dit is waarom Jesus ook nie “welkom” was in hierdie wêreld nie, aangesien Hy ook die onveranderlike gebooie van sy Vader  uit liefde bewaar het. Diegene wat Hom waarlik liefhet, ken Hom ook omdat Hy Homself deur sy Gees bekend maak aan diegene wat Hom met ‘n volkome hart volg.  (Vers 17).   Indien ons Meester nie in hierdie wêreld welkom was nie, en ek ook nie baie welkom voel in hierdie wêreld nie, kan dit seker vir my ‘n aanduiding wees dat ek dieselfde pad as Hy stap en in sy voetspore volg!  Hoe wonderlik is hierdie gedagte nie, want elkeen van ons weet waarheen die pad wat Hy gestap het, gelei het!

Christus het op aarde vir ons die pad van gehoorsaamheid aan ons Hemelse Vader en liefde vir ons naaste aangedui , waarna Hy verhoog is om aan die regterhand van God te sit.  Daarom weet ons dat daar loon vir die arbeid is wat ons in God se diens hier op aarde verrig, hoewel ons voor die aanvang van ons diens reeds die grootste deel van ons loon ontvang het, nl. die ewige lewe!

Sal dit nie wonderlik wees as Hy sou terugkom om ons te kom haal en ons besig vind met sy werk nie?  Sal ek nie graag wil hê dat my Meester hierdeur kan sien dat Hy ‘n prioriteit in my lewe is nie?  Laat elkeen van ons dan só leef dat die wêreld kan sien en weet dat ons ons hemelse Vader liefhet en aan Hom gehoorsaam wil bly tot Hy ons kom haal.  (Vers 31)