LOOF DIE GENADIGE EN BARMHARTIGE GOD
Hannes Ollewagen
Psalm 103:1-22
Dawid, die psalmdigter, is seker een van dié mense in die Ou Testamentiese tyd wat die omvang van God se genade en barmhartigheid as ‘n groot werklikheid ervaar het. Laasgenoemde nie omdat hy so uiters vroom en opreg was nie, maar juis omdat hy ook maar net ‘n mens met ‘n sondige natuur was. Hy het nie doelbewus en moedswillig teen God gesondig en daarin volhard nie, maar hy het wel voor die sonde geval terwyl hy geweet het dat hy verkeerd handel.
Voordat Dawid as koning gesalf is, was hy geen vooraanstaande in die samelewing nie. Inteendeel, hy was besig om sy vader se skape op te pas toe die profeet gegaan het om hom as koning te salf. God bewys genade aan hom en laat hom uit die veld as skaapwagter haal om hom te verhef tot koning van God se volk!
‘n Mens sou dink dat sy lewe sou oorloop van dankbaarheid en ons weet dat Dawid God wel baie liefgehad het, maar ons weet ook dat Satan se aanslae teen diegene wat God vrees en Hom waarlik liefhet soveel feller is. Daarom probeer hy hard om hulle tot ‘n val te bring.
Die groot geheim wat Dawid besef het toe sy sonde voor die HERE onbloot is, was dat dit nie sou help om dit te ontken en daardeur verder teen God te sondig nie. Hy het, nadat hy tot die besef gekom het hoe verkeerd hy gehandel het, sy sonde voor God bely en het beleef dat God al sy ongeregtighede vergewe het (vers3), omdat hy opreg berou daaroor gehad en dit bely en laat staan het.
Dit is soms moeilik om altyd te probeer reg doen (bedoelende, wat reg is in God se oë is - daar is geen ander maatstaf nie), terwyl die wêreld al hoe verderfliker handel. Soms voel dit selfs vir ons dat wanneer ons doen wat reg is, dit tot ons nadeel is, maar juis dan moet ons met soveel meer entoesiasme doen wat reg is, want ons weet dat God dit raaksien en Hy sal reg doen aan diegene wat verdruk word. (Vers6) Dit beteken dat Hy my sal beskerm in wat reg doen.
Hoewel God ons straf vir die hardnekkige sondes in ons lewens, weet ons dat Hy nie vir altyd vir ons kwaad bly oor die sonde nie en boonop kry ons nie naastenby die straf wat ons verdien nie (vers9&10), want dan sou nie een van ons in sy Heerlikheid kon ingaan nie. Hy straf ons juis omdat Hy vir ons omgee en ons liefhet, en ontferm Hom oor ons omdat Hy nie vir ons kwaad wil wees nie.(Vers13) Dit opsigself is mos vir ons ‘n duidelike bewys dat Hy waarlik vir ons ‘n Vader is. Is dit nie presies hoe ‘n vader wat sy kinders liefhet, hulle gewoonlik behandel nie?
Dit is so dat God die ongeregtigheid nie kan verdra nie en dat ons verseker sy toorn teen ons sal opwek as ons moedswillig in sonde volhard teenoor Hom. Wat die mistastings in ons daaglikse bestaan betref, God het begrip daarvoor. Ons moet egter strewe om heilig en sonder gebrek te wees soos Hy, maar ons is en bly mense wat tot die dag van ons dood sal bly sondig, omdat ons nietige, stoflike wesens is. (Vers14). Ons mag dit egter nie as verskoning gebruik om te sondig nie. Ons kan God nie bedrieg nie. Hy ken ons harte en ons lewens.
Die feit dat Hy ons só goed ken, beteken ook dat ons die verkeerde in ons lewens teenoor Hom moet bely en opreg vergifnis daarvoor vra. Hy is reeds bewus van die sonde in my lewe. Ek kan net sowel ophou om myself te mislei en my sonde voor Hom gaan neerlê om vergifnis daarvoor te ontvang. Daardeur sal ek ook die grootheid van God se genade en barmhartigheid as ‘n werklikheid in my lewe ervaar!