Hannes Ollewagen
Matt. 5:13-16
Vers 13: “Julle is die sout van die aarde, maar as die sout laf geword het, waarmee sal dit gesout word?...” Ons lees hierdie verse só dikwels, maar omdat dit so ‘n kort gedeelte is wat hoofsaaklik uit beeldspraak bestaan, neem ons dit dalk nie ernstig of letterlik genoeg op nie.
Christus sê vir ons in hierdie gedeelte dat óns, wat sy kinders is, die sout van die aarde is! Ons is dus veronderstel om dinge rondom ons en in ons gemeenskap 'beter' te maak. Anders gestel, ons moet ander mense met ons lewenswandel oortuig dat dit wél reg en belangrik is om God lief te hê en te dien. Ons is veronderstel om op so ‘n wyse te leef dat selfs heidene op ons lewenswandel ag gee en daardeur geraak sal word. Ons moet m.a.w. ongelowiges met ons lewenswyse 'aankla' en tot beter insigte bring wat tot hul bekering kan lei. En wat ons EIE betref, moet ons mekaar vurig liefhê en mekaar se laste help dra sodat ons Vader se Naam in beide sitasies verheerlik word! As ons hierdie dinge nie doen nie, wat is dan eintlik ons doel op aarde? “…maar as die sout laf geword het, waarmee sal dit gesout word?...”As die sout dus sy doel waarvoor dit gemaak is verloor, het dit geen verdere nut nie en word dit buite gegooi om deur die mense vertrap te word.
God sal tog nie sy kinders buite gooi om vertrap te word nie? Hy is dan ‘n God van liefde! Ja, dit is waar, maar daar is ooreenkomste aan verbonde. As ons nie aan God gehoorsaam wil wees nie en aanhou om troueloos teenoor Hom te handel, durf ons sê dat Hy ons ongeregtighede ongesiens vir ewig verby sal laat gaan? Ons durf nie sy genade goedkoop maak om verskonings te probeer soek om ongehoorsaam aan Hom te wees nie. As ek dit probeer doen, moet ek dringend ondersoek in my lewe instel of ek God waarlik liefhet en aanbid, en of ek Hom nie bloot probeer misbruik tot my eie persoonlike voordeel nie. Ons volk het die wêreld liefgekry en bo God gekies. Ons gee nie meer ag op sy waarskuwings in die Woord nie. Dit het tot gevolg dat die geur van ons volk laf geword het en dat Hy toelaat dat ons neergewerp word om deur ‘n heidense regering vertrap te word. Ons wou die wêreld kies en het toe ons sin gekry deurdat God ons uitgelewer het aan die wêreld waarin ons nou moet aanskou hoe ons daagliks vertrap en ons land ten gronde gerig word. Dit was ons keuse!
Dit is egter onteenseglik waar dat God se genade en goedertierenheid oneindig groot is, daarom dat Hy nie sy hele volk weggewerp het nie, maar dat Hy die klein oorblyfsel wat in diepe afhanklikheid en nederigheid voor Hom aanhou pleit, aansien en met hul ‘n belofte gemaak het om hul nie te begewe of te verlaat nie. Weereens, hoe groter die genade, hoe groter die verantwoordelikheid!! As ‘n baie geringe groepie knegte van die Allerhoogste, het ons elkeen die opdrag om al meer die sout van die aarde te wees. Ons moet deur die toenemende verval van die wêreld aangespoor word om toenemend Godvresend en welbehaaglik voor Hom te leef. Hoe donkerder die nag, hoe helderder die lig! Hoe meer afvallig die wêreld word, hoe meer kragtig sal my lewe as getuienis kan dien. Hoe meer ek aan God gehoorsaam is, hoe kragtiger kan Hy deur my lewe werk.
Terwyl ons as oorblyfsel van God se volk met reikhalsende verlange uitsien en wag op die verlossing wat Hy vir ons in ons mooi land gaan bring, durf ons nie passief agteroor sit en wag nie. Ons het elkeen ‘n groot opdrag om intussen te vervul! Die opdrag uit Christus, ons Meester se mond: “Laat julle lig só skyn voor die mense, dat hulle julle goeie werke kan sien en julle Vader wat in die hemele is, verheerlik.” (Vers 16)