DIE AARD VAN ONS GELOOF

Hannes Ollewagen

Hebreërs 11:1-40

Hoe lyk my en u geloof vandag?   Is dit ‘n vaste vertroue op die dinge wat ons hoop en dan ook ‘n bewys van wat ons nie sien nie?  (Vers 1).  Glo ek wat ek glo omdat ek myself probeer bevoordeel of glo ek wat ek glo omdat ek dit uit God se suiwer Woord geleer het - soos goud wat sewe maal in ‘n smeltkroes gelouter is?  Is my geloof ‘n bewys van dit wat ek nie kan sien nie?

In hierdie gedeelte lees ons van mense soos Abel, Henog, Noag, Abraham en Moses, almal mense wat deur die geloof geleef het.  Hierdie mense het toegelaat dat God uitsonderlike kragtige werke deur hulle lewens verrig omdat hulle waarlik in Hom geglo het. Ook het hulle ‘n vaste vertroue gehad dat wat Hy in hul lewens doen, alles ten goede sal meewerk presies soos wat Hy dit beplan het!  Daarom was hulle bereid om die feitlik ondenkbare te doen soos om ‘n ark te bou, en in die proses deur al die ander mense as waansinnig bestempel te word.

Abraham was bereid om sy woonplekke te verlaat en weg te trek sonder om te weet waarheen hy trek. Hy was ook bereid om sy enigste seun (waaruit God vir hom ‘n nageslag beloof het) op 'n altaar te offer omdat hy ‘n vaste vertroue gehad het dat God nie op sy Woord sal teruggaan nie. Hy het vas geglo God het die mag om sy seun uit die dood uit op te wek.   (Verse 17&18).

Moses was bereid om sy rug op ‘n lewe van weelde en gemak te draai en het verkies om liewer saam met die volk van God sleg behandel te word as ‘n tyd lank die genot van die wêreld te geniet.  Sy geloof in God het hom oortuig dat die lyding van die teenswoordige wêreld nie kan  opweeg teen die heerlikheid wat aan hom geopenbaar sou word in die lewe hierna nie!  Nie net was hy bereid om ter wille van sy geloof uit ‘n koningshuis weg te loop nie, hy het ook nie die  toorn van die Farao gevrees nie. Dít, oor sy geloof so groot was soos iemand wat God reeds aanskou het!!  (Vers 27).  Sou ‘n mens enigsins kan sê dat hierdie man nié ‘n vaste vertroue in God gehad het nie?  Sy lewe, besluite en optrede het getuig van iemand wat ‘n onwrikbare geloof in die Onsienlike waarop hy hoop het!!

Hoeveel van ons volksgenote het onwetend ook die laaste paar dekades voor die keuse te staan gekom om die genot van die wêreld en sonde te beleef? En hoeveel van ons het verkies om deur die wêreld geminag te word?  Hoeveel van ons sal die smaad van Christus en van die waarheid groter rykdom ag as die genot en gerief van die teenswoordige wêreld?  Wanneer ons kyk hoeveel mense maar net met die hoofstroom saamgaan om nie deur hul vriende gesmaad te word nie, wonder mens waarom hulle ander mense wil behaag.  Ons sien hoe mense op ‘n daaglikse basis beginsels oorboord gooi wanneer daar aardse dinge soos geld ter sprake is. Ons sien hoe mense nie meer glo in regverdigheid, eerlikheid, integriteit, dapperheid, standvastigheid, getrouheid en ander voortreflike eienskappe nie, omdat dit nie sigbaar is nie.  Mense kies om ander te beoordeel aan die motor wat hy ry, die huis waarin hy bly of die klere wat hy dra omdat hierdie dinge sigbaar is.

Dit mag vir ons as behoudende Christen-nasionaliste ook soms voel dat die stryd om te glo in die Onsienlike al hoe groter word in ‘n wêreld waarin daar al minder plek vir ware geloof is.  Die feit van die saak is dat daar feitlik nog nooit plek daarvoor was nie, want Satan was nog altyd besig om ware geloof te probeer vernietig.  Daarom dat mense reeds in die Ou Testamentiese tyd selfs meer lyding as ons ter wille van hulle geloof moes verduur.  (Vers 36&37).  Hulle het hul geloof egter nie versaak nie en ons wat onsself kinders van God noem durf ons geloof ook nooit versaak of ooit in der ewigheid daarvoor skaam word nie, want ons weet dat sonder geloof, ons God nie kan behaag nie.  (Vers 6).

Die troos vir elkeen van ons wat waarlik glo, is dat nie een van die geloofshelde in die gelese gedeelte ooit aan die verloorkant was nie.  Hulle was beslis by verre in die minderheid, maar onthou, 1 + God = Oorwinning!!  Laat ons leef en stry soos knegte van die Allerhoogste wat die teenswoordige wêreld nie werd is nie!! (Vers 38).