Hannes Ollewagen
Mal. 2:17 – 4:3
Hoe dikwels maak ons as kinders van God onsself nie ook skuldig aan hierdie aanklag van twyfel in God se regverdigheid waaroor Hy sy volk aanspreek in hoofstuk 2:17 nie? Alhoewel dit soms vir ons voel asof die goddelose voorspoed sonder einde beleef hier op aarde, durf ons nie so vermetel raak om God se regverdigheid te betwyfel nie!
Genadiglik dat God ons verseker dat Hy die Engel van die verbond na ons sal stuur om ons, wat Hom liefhet, dog nie ‘n vlekkelose lewe leef nie maar tog die goddelose wil veroordeel oor hul verkeerdheid, te reinig van ons ongeregtigheid. Hierdie reiniging gaan dalk nie lekker of maklik wees nie, maar wel baie, baie deeglik (hoofstuk 3:2&3). Hoe dikwels betrap ek myself nie peinsende oor “slegte” dinge wat gedurig die “goeie” mense in die lewe oorkom nie? Laasgenoemde nie met ‘n gees van veroordeling of twyfelagtigheid aan God se regverdigheid nie, maar eerder met ‘n gees van verwondering oor wat sy doel dan daarmee kan wees. ‘n Gees van medelye oor my broeders en susters in Christus wat dan soveel leed moet verduur? Dan kom ek tot die besef dat hierdie sienswyse ‘n gevolg van ‘n lewensuitkyk is wat grootliks deur ‘n wêreldse perspektief beïnvloed is. Hierdie is nie ‘n straf om God se kinders onnodig leed te laat verduur nie, veel eerder ‘n reiniging en loutering om ons voor te berei vir die dag van die Here wat kom so seker as wat ek nou hier skryf! Die dag van die Here wat kom waarin daar onderskeid getref sal word tussen die regverdige en die goddelose (hoofstuk 3:18). Die dag van die Here wat kom waarin die goddelose soos stoppels deur vuur verslind sal word (hoofstuk 4:1), maar die kinders van die Here wat deeglik gelouter is nie sal smelt nie!!
Die kinders en diensknegte van God wat vooraf deeglik deur Hom gereining en gelouter is, sal deur sy genade “sterk” genoeg wees op die dag waarop Hy sal besluit om die goddelose met wortel en tak uit te roei (hoofstuk 4:1). In hierdie dag sal die diensknegte van God sterk werktuie in sy Hand wees waarmee Hy die goddelose ten gronde sal rig en soos stof onder die regverdiges se voete sal maak (hoofstuk 4:3). En dít nie omdat Hy ons nodig het nie, maar juis om ons opnuut tot die besef te bring hoe groot sy genade vir ons is! Ons kon aan die vergeldingskant gestaan het as Hy ons nie deur sy liefde en genade getrek het nie!! In hierdie dag wat ons God se liefdevolle genade as ‘n lewende werklikheid ervaar sal ons elkeen wat sy Naam vrees oormoedig kan jubel omdat ons die son van geregtigheid sal sien opgaan (hoofstuk 4:2) hoewel dit nou in ons swakheid voel of hierdie geregtigheid slegs deurskemer in hierdie goddelose wêreld waarin ons leef.
Dank die Vader ons aanbid ‘n onveranderlike God (hoofstuk 3:6) wat nie sal toelaat dat die boosheid seëvier nie! In hul dwaasheid sal die goddelose hoogstens vir ‘n wyle dink dat die wêreld aan hulle behoort, maar dit sal ook net duur tot daardie dag van die Here aanbreek en sal brand soos ‘n oond, wanneer Hy die Engel van die verbond na wie elkeen wat God vrees ‘n begeerte het, stuur. Daarom kan ons gerus kan wees, veral in die wete dat ons sy eiendom is! (hoofstuk 3:2&17).