Hannes Ollewagen
Judas 1:3-16
Een van die mooiste eienskappe wat ‘n mens kan besit, is om positief te wees. Dit is egter uiters belangrik om die verskil tussen positiwiteit en naïwiteit te onderskei. Om positief te wees, beteken om uitkoms te sien en hoop en geloof te behou in selfs die moeilikste omstandighede. Om naïef te wees daarteenoor, sal moontlik die rede wees waarom jy in ongemaklike situasies beland, want jy ontken die dreigende werklikheid daarvan. Hoewel jy gevaar sien naderkom, wil jy wegkruip sodat jy nie negatief hoef te voel nie en vermy jy doodeenvoudig die dreigende gevaar – wat nie gaan verdwyn bloot omdat jy jou oë daarvoor sluit nie.
Hierdie naïwiteit het veroorsaak dat soveel mense agter die verskoning wegkruip: “Alles is in God se Hande en dinge sal reg uitwerk.” Dit is onbetwisbaar waar dat geen plan op hierdie aarde sonder God se wete tot uitvoer gebring word nie en dat Hy in beheer is van die ganse skepping. Indien God die stryd op aarde alleen wou stry, sou Hy ons nie as sy diensknegte op aarde geplaas het nie. Hy sou die vyand self vernietig en alles self gedoen het wat gedoen moet word, want Hy kan. Met laasgenoemde in gedagte kan ek tot die besef kom dat om ‘n dienskneg van God hier op aarde te wees nie ‘n verskriklike vermoeiende verantwoordelikheid is nie, maar ‘n ontsaglike groot voorreg. Ek staan in diens van die Almagtige God van hemel en aarde en moet verantwoordelik in sy diens optree. Daarom geliefdes, voel ek ook vandag die noodsaaklikheid om elkeen wat hierdie boodskap lees, te vermaan om kragtig te stry vir die geloof wat eenmaal aan die heiliges oorgelewer is. (Verw. vers 3). Daardie geloof wat deur goddelose mense verloën is ter wille van geld en roem; hulle wat die genade van onse Here Jesus Christus met dwaalleer en leuens in ongebondenheid verander het en sodoende die enigste Heerser, God, en Here Jesus Christus verloën het. (Vers 4). Hierdie mense, wat leiers van ons volk was, het nie net ‘n volk ten gronde gerig en ‘n volksgenote mislei en verloën nie, maar hulle het ons Meester verloën. En as ek en u wat vandag bely dat ons Hom liefhet staan en toekyk hoe Godswater oor Godsakker loop, hoe hard is ons besig om te stry en hoeveel beter is ek as hierdie Godsloënaars?
In magteloosheid sal u vraag wees: “Nou wat moet ek doen?” Nié niks nie! In die eerste plek moet jy hard werk om jou eie geloof te behou en die mense rondom jou te versterk en te bemoedig. Hoeveel mense is nie besig om die geloof te verloor (en dan dalk te verloën), bloot omdat hulle maar net rondstaan en wag vir beter dae nie? Hulle ag dit nie noodsaaklik om in hul eie lewens weerstand te bied teen Satan se aanvalle van magteloosheid en moedeloosheid nie. Hulle dink dat hulle ook nou uit Egipte gelei is en wag dat God hulle in die beloofde land sal indra. Hy sal jou wel daarheen lei, maar jy moet self loop!! Hy sal jou ook optel as jy val, maar jy moet self stap. Hy sal kwartels en manna voorsien as jy honger het, maar jy sal dit self moet bymekaarmaak en eet! Hy sal water uit die rots laat vloei, maar jy moet self drink!!
Elkeen van ons het ‘n rol om te vervul en daardie rol begin nêrens anders as in jou eie hart nie. Maak seker dat jou verhouding met God reg is en dat jy ‘n opregte, nederige, ootmoedige verhouding met Hom het. Moenie langer jou sondes ontken nie, want dit maak jou nie vlekkeloos nie!! Dit is beter om jou sondes voor Hom te bely en die pad met Hom te begin stap om daardie sondes een vir een te oorwin! Dit is die begin van ‘n lewe van verootmoediging voor God waarin jy kinderlik afhanklik van Hom leef en dan verstaan waarom Christus gesê het dat ons moet word soos die kindertjies as ons sy Koninkryk wil binnegaan. Wanneer elke individu verantwoordelikheid neem om te verootmoedig, sal hy kort voor lank die Godgegewe verantwoordelikheid om Godsvresend oor sy gesin te heers raaksien, en kort voor lank is daar ‘n hele gesin wat in ootmoed voor God leef. Wanneer ‘n gemeenskap met ‘n paar gesinne in ootmoed voor God leef, ontstaan daar ‘n hele volk wat homself verootmoedig voor sy God!! Wanneer ons ‘n volk kry wat homself verootmoedig voor sy God, sal ons ‘n volk sien wie se gebede sal opstyg na die Almagtige God van hemel en aarde en sal ons ons God se Reddende Regterhand as ‘n lewende werklikheid ervaar!!
Ons sien in vers 5 van hierdie gedeelte hoe mense omgebring is deur God nadat hulle uit Egipteland verlos is, maar voordat hul die beloofde land kon beêrwe omdat hulle ongelowig geword het. Hulle het gedink dat hulle stryd verby was. . . Dit het daartoe gelei dat hul in ‘n nuwe stryd betrokke geraak het, ‘n stryd waarin hul gedurig met God getwis het – asof Hy die skuldige party is. Hoeveel medevolksgenote het nie dieselfde verwaandheid nie? Moenie dieselfde fout maak nie. Indien jy nie in ootmoed met God leef nie, het jy nog nie jou stryd voluit gestry nie – nie jou eie stryd nie en ook nie die stryd vir jou volk en vir God se koninkryk op aarde nie. Besef vandag jou verantwoordelikheid om in ootmoed met God te leef en ook seker te maak dat jou huismense jou voorbeeld nastreef, sou jy deur God geseën wees met die verantwoordelikheid van huisgenote. Hulle ewige saligheid is netsoveel werd dat jy jou daaraan moet wy.
Hou op om ‘n lewe te leef waarin jy ander mense probeer tevrede stel of beïndruk en begin om ‘n Godsvresende lewe te leef waarin jy mense positief beïnvloed. Jy is aan ander mense geen verduideliking of verskoning verskuldig nie, maar ons is uit dankbaarheid aan ons Meester en Verlosser ons lewens verskuldig!
Die keuse is joune – naïewe passifis of positiewe, Godvresende dienskneg van die Allerhoogste? Sou jy kies om jou oë toe te hou vir die werklikheid, moenie verbaas wees as die poorte na die ewige lewe ongesiens by jou verbygaan nie. . .