Hannes Ollewagen
2 Sam. 12:1-31
Vers 5: “En Dawid het baie kwaad geword vir die man en aan Natan gesê: So waar as die Here leef, die man wat dit gedoen het, moet sterwe!”
Vers 7: “Toe sê Natan vir Dawid: U is die man! So sê die Here, die God van Israel: Ék het jou as koning gesalf oor Israel, en Ék het jou gered uit die hand van Saul;”
Ons leer twee uiters belangrike lesse uit hierdie gedeelte – dat ons stadig moet wees om ons medemens te oordeel tewyl ons self nie sonder sonde is nie en ook dat God ongeregtigheid nie ongesiens laat verbygaan nie, dit maak nie saak wie jy is nie!
In hierdie gedeelte, veral in verse 7 -12 sien ons hoedat God vir Dawid dit baie duidelik stel dat Hy hom hard gaan straf vir die sonde wat hy begaan het, ongeag of hy koning van die hele Israel is. Voor God is hy net maar ‘n asemtog (Ps. 38:12) en beteken sy koningskap niks. Inteendeel, dit is immers God wat hom as koning gesalf het en kan hom ter enige tyd van sy troon verwyder.
Dit is alles goed en wel dat ons baie entoesiasties en geesdriftig oor ons Godsdiens is, maar ons moet tog erken dat ons nie altyd reg kan wees nie. Ons is só vinnig om ‘n oordeel te fel oor ander mense se manier van dinge doen en optrede wat veel te wense oorlaat, maar as ek begin selfondersoek instel, lyk my lewe nie veel beter nie. Ek hou my so besig om ander mense se lewens te takseer en te oordeel, dat ek verby my eie foute kyk. Ek raak so kwaad en ontsteld oor die verkeerde wat ek van my broer hoor, dat ek nie eers agterkom dat die man van wie daar gepraat word ekself is nie. Hoe hard ons ookal probeer om heilig te wees, soos wat ons Vader heilig is, moet ons deurgaans besef dat ons sondige mense is en deurentyd genoodsaak is om ons eie lewens te ondersoek om daardie plekkies in ons lewens waar die sonde dalk ‘n vatplek kon kry, uit te stryk. So keer ons betyds dat die sonde ons nie tot ‘n val bring nie.
Ek moet deurgaans teen sonde wat so aanloklik lê en loer op my hoede wees, soos wat dit vir Dawid geloer het, ongeag watter gesagsposisie ek in die samelewing beklee. Geen mens of selfs kind en dienskneg van God is gevrywaar teen versoekings nie – inteendeel, Satan se aanvalle op sulke mense is soveel feller aangesien hy hul wil stuit in die vernietiging wat hulle aan sy verderflike werk saai en die goeie wat hulle opbou, sal wil afbreek.
Wanneer jy jou gereeld met die Woord en werke van jou Vader besig hou, sal Satan ook eiewaan gebruik om jou tot stryk te bring. Hy sal jou wysmaak dat jy so heilig en belangrik is dat God jou nie sal straf vir jou ongeregtighede nie, want jy is te goed en dierbaar. Ons kan baie duidelik in hierdie gedeelte sien dat laasgenoemde nie waar is nie – watter belangrike werk ek ookal vir God verrig, ek bly net ‘n intrument in sy Hande en moet in dankbaarheid toelaat dat Hy my gebruik. Die feit dat Hy my gebruik, maak my nie beter as ander mense en vrywaar my nie van sy regverdige straf vir die verkeerde in my eie lewe nie. Inteendeel, dit plaas ‘n nog groter verantwoordelikheid op my skouers om nog meer teen die sonde te waak en te stry om dit nie te doen nie, aangesien ek ‘n voorbeeld moet stel vir ander gelowiges in woord en in wandel.
Mag elke volkgenoot en broeder in Christus vandag opnuut selfondersoek instel in hul eie lewens om te bepaal of daar nie dinge in sy lewe is waaroor hy geskok sal wees om tereg gewys te word nie. Is jou lewe skoon en rein voor God of is daar dringende aandag te skenk? Bedrieg jy jouself dalk so dat jy al van jou sondes vergeet het? Wel, Hy het nie! Dit help nie ons ontken ons sondes en swakhede nie – ons moet dit veel eerder in nederigheid en opregte eerlikheid voor Hom erken wat getrou en regverdig is om ons daardie sondes te vergewe wanneer ons dit voor Hom erken en bely.
Erkenning is die eerste stap na genesig. Mag ons elkeen vandag ons swakhede en sondes voor ons Vader erken, dit bely en laat staan en mag die pad van genesing vir ons volk sodoende by elkeen se eie lewe begin. Mag elke volksgenoot verantwoordelikheid neem vir sy plig om homself voor God te verootmoedig en ‘n lewe van ootmoed voor Hom te lei.