Hannes Ollewagen
Psalm 44
Vers 2 – 4: “O God, met ons ore het ons dit gehoor, ons vaders het ons dit vertel: ‘n werk het U gedoen in hulle dae, in die dae van die voortyd. U self het met u hand nasies verdrywe, maar húlle geplant; U het volke kwaad aangedoen, hulle daarenteen laat uitspruit. Want hulle het die land nie deur hul swaard in besit geneem nie, en hul arm het hulle nie die oorwinning gegee nie, maar u regterhand en u arm en die lig van u aangesig, omdat U ‘n welbehae in hulle gehad het.”
Hierdie gedeelte was vir die kinders van Korag waar, duisende jare gelede. Dieselfde woorde was waar vir ons voorouers toe hulle hulself aan die suidpunt van Afrika kom vestig het. Hierdie woorde was ook waar vir die Voortrekkers wat gedurig teen inheemse stamme oorlog moes voer om hul lewens te beskerm. Hierdie woorde was ook waar vir ons voorouers wat ons land teen Britse oorheersing verdedig het. Hierdie woorde is egter nog nie bewaarheid vir diegene wat met hart en siel gestry het om ‘n magsoorname deur ‘n swart meerderheidsregering te probeer stuit nie.
God het toegelaat dat ons huidige geslag wel van hierdie roemryke oorwinnings hoor en lees, maar ons het dit tog nie self beleef nie. Dit wil blyk asof Hy ons verstoot en tot skande maak en toelaat dat ons geplunder word. (Verw. verse 10&12). Dit alles omdat ons Hom vergeet het en nie meer dag en nag in Hom roem en die eer van ons handewerk aan Hom laat toekom nie. (Verw. na vers 9).
Ons het in onsself en op onsself begin roem en op mense begin vertrou. Ons het van onse God vergeet en die woorde in sy Heilige Skrif het vir ons fabelagtig geword. Sou iemand my bedrieg in ‘n saketransaksie, sal ek die duurste regsverteenwoordiger se raad bekom en ten duurste kundiges inkry om saam met my te baklei vir wat ek as reg en geregtigheid beskou. Sou iemand my goeie naam in die gemeenskap belaster, sal ek nie huiwer om die persoon hof toe te sleep om die saak reg te stel en my naam in ere te herstel nie. Maar, sou mense my God openlik belaster, leuens verkondig, selfs aan sy heilige, onfeilbare Woord verander om by mense te pas, het ek allerhande verskonings waarom ek nie daarteen in opstand kan kom nie. Ek bely dat ek God bo alles in my lewe liefhet, maar is dít wat my lewe weerspieël? Weerspieël my lewe iemand wat God as ‘n lewende werklikheid ervaar of ook maar net daardie “Liewe Jesus” van wie ek in die Bybel lees omdat ek daarmee grootgeword het?
God het nog nooit verander nie. Deur die eeue heen is Hy nog altyd dieselfde en dit kan ons met sekerheid daaruit aflei dat Hy eeue uitmekaar vir mense op dieselfde wyse ‘n Hulp was in tye van groot benoudheid. Hy sal sy Aangesig vir ons bly verberg totdat ons onsself voor Hom voorootmoedig en Hom om genade gaan smeek.
Hy sal egter nie vir ewig verstoot nie, want Hy is ‘n getroue en barmhartige God. Die Bybel is nie net ‘n Boek met mooi stories van bemoediging nie – dit is veel meer! Dit is die lewende Woord van God. Dit is veronderstel om God se stem in my lewe te wees, maar hoe kan ek sy Stem hoor as ek Hom nie ken nie; as Hy vir my niks meer as ‘n “superhero” is nie? En dit sê ek met alle respek en probeer nie eers ‘n vergelyking tussen God en mensgemaakte intellektuele eiendom stel nie, maar met gelyktydig weersin om te dink dat daar mense is wat waarlik nie kan onderskei tussen die ware God van hemel en aarde en mensgemaakte helde nie.
My wens vandag is dat elke volkgenoot God as ‘n werklikheid in sy/haar lewe sal ervaar, want dit sal daardie hoop van verlossing uit ons ellende opnuut in ons harte laat opvlam, aangesien ons opnuut tot die besef sal kom dat geen situasie vir ons lewende God onmoontlik of hopeloos is nie. Hoe donker ons toestand, hoe pateties ookal ons eie vermoëns, hoe groot ookal ons swakhede, hoe sterk ookal die oormag oor ons –God plus een bly die wenspan!!
Vers 27: ”Staan op tot ons hulp en verlos ons om u goedertierenheid ontwil!”