WAAR IS JY, MY KIND?

Hannes Ollewagen

Gen. 3:1 – 24

In vers 1 van die gelese gedeelte is dit die eerste keer dat ons met die duiwel in die Woord kennis maak. Ons sien hoedat sy taktiek nog nooit verander het nie.  Net soos in ons hedendaagse bestaan, verdraai die duiwel die waarheid sodat dit hom pas en wek hy twyfel en agterdog by die mens.  Hy weet dat die mens bewus is van die waarheid, maar nou het dit reggekry dat die mens aan hom aandag gee en sy versoeking deurdink.

Wanneer die sonde eers in oorweging gebring word, hou hy dit as iets mooi en skadeloos voor en sodoende word die mens in die versoeking gebring om tog maar self te beproef dít waarteen sy Skepper hom gewaarsku het.  Nooit is dit ook anders nie, dat die satan dan ewe skielik verdwyn (wel, so dink ons), maar dan kan ons sy gevolge duidelik in ons lewens sien - waar dit hartseer en verwoesting saai.

Menslik gesproke sal dit ons verdiende loon wees dat ons daarna die straf as gevolg moet dra, maar net soos in hierdie gedeelte, kom soek God ons ook telkens op wanneer ons verkeerd gehandel en van Hom afgedwaal het.  Ons voel dan gewoonlik skaam oor wat ons verkeerd gedoen het, omdat ons geweet het wat die gevolge sou wees.  Die feit dat God ons in liefde kom opsoek maak dit nog meer ongemaklik.  Gedagtig daaraan dat ek my verdiende loon vir my verkeerde optrede ontvang, weet ons wanneer ons Hom hoor soek na ons; wanneer Hy ons weereens uit liefde soek om ons te help om ons sondes te bely en te laat staan.

Meestal is hierdie nederige gesindheid nie in ons te bespeur nie maar wil ons ook gewoonlik die skuld na iemand anders verskuif.  Net soos wat Adam die vrou, en selfs vir God blameer het vir sy verkeerde optrede, probeer ons ook skuil agter hartseer kinderjare, of mense wat ons in die verlede te nagekom het, of omstandighede in ons land of by die werk en nog ander verskonings.  Met hierdie gesindheid sal ons geen vordering maak nie, want as ons nie ons skuld erken nie sal God ons nie help om die foute in ons lewens reg te stel en te laat staan nie.  Wanneer ons egter ons sondes bely, weet ons is Hy getrou en regverdig om ons daardie sondes te vergewe en van alle ongeregtighede te reinig.

Ons moet egter daarteen waak om nie ‘n gesindheid aan te neem waarin ons begin dink dat ons net ligsinnig ‘n gebedjie van vergifnis kan uiter en God my sal vergewe nie. Op hierdie wyse sus ek maar net my gewete om dieselfde sondes keer op keer te herhaal.  Die sonde het verreikende gevolge en ons moet gedurig daarteen waak.  Kyk tot in hoeveel geslagte strek die gevolge van Adam en Eva se ongehoorsaamheid vandag.  Dit is nie net die individu se sondige optrede wat gestraf word nie, dit strek  tot in die verre nageslagte.

Vir diegene wat God waarlik liefhet en en met erns teen die sonde probeer waak, is daar vergifnis vir ons oortredinge wanneer ons dit waarlik berou en voor ons Vader bely.  Dan sal Hy ook (ten spyte daarvan dat die sonde nie ongestraf bly nie want Hy is immers ‘n regverdige God) ons weer in liefde aanvaar en nie weer aan daardie sondes dink nie.  Soos wat Hy in vers 21 die mens se nood (aan klere) raaksien en daarin voorsien, so weet ons Vader van elkeen wat Hom liefhet en getuig sy dade waarlik van sy liefde en besorgdheid oor ons.

Mag ons nooit agter verskonings wegkruip wanneer ons in swakke menswees struikel en God ons kom opsoek nie, maar eerder ons swakhede bely om sodoende elke keer meer bewus te raak van sy oneindigende liefde - daardie liefde wat ons sal dryf om Hom ook lief te hê, omdat dit só allesoorheersend  is.