Hannes Ollewagen
Matt. 6:19-34
Vers 33: “Maar soek eers die koninkryk van God en sy geregtigheid, en al hierdie dinge sal vir julle bygevoeg word.” Begin m.a.w. by die logiese en belangrikste punt: die begin. Wanneer ‘n mens ‘n lang reis aanpak, maak jy tog seker dat jy die basiese benodighede inpak, jou voertuig nagaan, seker maak jy het genoeg brandstof, indien nodig jou GPS instel en inpak, maar alvorens al hierdie dinge afgehandel word, moet jy tog weet waarheen jy oppad is.
Ons leef in ‘n wêreld waarin daar so baie verwarde mense is wat nie weet waar hulle hulself bevind nie. Die rede daarvoor is eenvoudig: hulle weet nie waarheen hulle in die lewe oppad is nie.
Die grondliggende oorsaak waarom die jeug vandag nie weet waarheen hulle oppad is nie, is grotendeels te wyte aan die feit dat hulle nie eers weet vanwaar hulle kom nie en selfs nog erger, sommige nie eers weet wie hulle is nie (alles weens ‘n gebrek aan kennis van hul geskiedenis). Die rede waarom ouer mense nie weet waar hulle hulself bevind nie, kan nie aan dieselfde redes toegeskryf word nie, want hierdie mense is immers vanaf hul kinderdae tot vervelens toe in die Bybel en Geskiedenis onderrig. Hulle verwardheid is eerder toe te skryf aan die feit dat hulle verdwaal het. Nou moet mens vra hoe verdwaal ‘n mens op jou lewensreis? Die antwoord is meestal dat jy só selfversekerd raak dat nie meer jou padkaart/navigasiestelsel gebruik om jou rigting te bepaal nie. Jy sal dit mos op jou eie regkry, so reken jy. Dit is hartseer dat soveel mense in hul lewens ook tot die verwaande punt gekom het dat hulle dink hulle God nie meer nodig het nie. Dus reken hulle ook dat hulle nie meer sy Woord as rigtingwyser nodig het nie. In die proses het hulle so verdwaald geraak dat hulle ook nie meer vir hulle kinders die rigting kon aanwys nie, want hulle was self nie meer seker waar hulle hulself bevind nie.
Afdraaipaaie na wêreldse dinge soos geld, genot, sport en dies meer het vir mense só belangrik geraak dat hulle nie meer die rigting wou volg wat die Rigtingwyser in hul lewens aangedui het nie - die ander paaie het tog so aanloklik gelyk. Dit was beter om die “Navigasiesisteem” af te skakel en ver weg te bêre, want dan kan ek nie heeltyd herrinner word dat ek die verkeerde roete ingeslaan het nie. Hierdie gedurige herrinnering laat my tog net onnodig skuldig voel omdat ek my lewe geniet, daarom wil ek eerder niks daarmee te doen hê nie.
Dit is egter nooit te laat om te erken dat jy verdwaal het nie. Om foute te maak, is menslik. Maar om daarin te volhard nadat jy tot die besef gekom het dat jy fouteer het, is DWAASHEID en sal daartoe lei dat jy jouself (en moontlik baie mense rondom jou) groot skade berokken. Sou ons vandag erken dat ons so rigtingloos en verdwaald geraak het dat ons nie meer weet waar ons onsself bevind nie en dalk ook so vervaard dat ons nie eers kan onthou hoe ons hier beland het nie, is dit steeds nie te laat om terug te draai weg van die verkeerde paaie nie. Dit is nie te laat om die Rigtingwyser weer te gaan opsoek en terug te keer na die regte pad waar ons ons Leidsman weer sal vind nie!! Sou ons egter volhard in ons verwaandheid en hardnekkigheid om te glo dat ons sterk genoeg is om onsself uit ons ellendige toestand te navigeer, moet ons nie verwonderd wees as daar nog baie hartseer en swaarkry vir ons lê en loer langs hierdie verdwaalde paaie nie.
Ons word nie in die Woord van God gevrywaar van hindernisse langs die regte pad nie, maar ons word verseker dat ons hierdie pad nie alleen hoef te loop nie. Christus het dit vooruit vir ons geloop, Hy ken die regte pad na die Ewige Saligheid en is dus ‘n (die Enigste) geloofwaardige Leidsman om ons die regte pad aan te wys. Kom ons rig ons oë op Hom en volg Hom in geloof as ‘n volk uitverkore om te leef tot sy Heerlikheid!