GOD SE BELOFTES

Hannes Ollewagen

Jes. 62:1-12

Vers 6&7:  “…O Julle wat die HERE herinner aan sy beloftes – moenie rus nie en laat Hom nie met rus nie, totdat Hy Jerusalem bevestig en maak tot ‘n lof op aarde!”

Om moedeloos te raak, is menslik.  Dit is egter bitter belangrik om te waak daarteen dat moedeloosheid nie lei tot ongeloof nie, want laasgenoemde is sonde!  In Hebreërs lees ons dat dit onmoontlik is om God te behaag sonder geloof.

Geloof is veronderstel om die anker van elke gereformeerde Boere-Afrikaner mens se lewe te wees.  Dit laat ons hoop op ‘n toekoms terwyl die hede rondom ons stikdonker is.  Dit laat ons vashou aan God se beloftes in tye van nood en beproewing.  Dit is egter nie genoeg om net daaraan vas te hou en daarvan bewus te wees nie. Ons lees in hierdie gedeelte dat ons ook aktief moet wees en God moet herinner aan sy beloftes.

Ons as volk het gruwelooslik gehandel deur God te verag en Hom die rug te keer ter wille van aardse roem, genot en gemak.  Ons het verkies om Mammon, die sport- en vermaaklikheidsgode meer lief te kry as vir Hom en dan raak ons moedeloos wanneer dinge in ons land nie volgens plan verloop nie.  Ons raak moedeloos wanneer ons nog ‘n “sirkus-verkiesing-klug-affêre” moet aanskou en steeds is daar vir ons nie redding in sig nie.  Nie een party by die stembus wat ons belange op die hart dra nie?  Is daar dan vir ons geen heil nie?  Ons sal geen heil vind as ons dit op die verkeerde plekke gaan soek nie.  ‘n Mens gaan soek tog nie na geestelike voeding by ‘n nagklub of bordeel nie?  Ons sal ons heil nie by mense vind nie.  Ons enigste heil sal kom van Hom wat ook ons vryheid van ons weggeneem het in ons Vaderland deur die mag uit ons hande te neem en dit te plaas in die hande van uitlanders wat die werk van ons hande verorber (verwys na vers 8) omdat ons Hom mishaag het met ons lewens.

God sal egter nie nalaat om vir ons verlossing te bewerkstellig nie, aangesien Hy nie beloftes maak soos wat mense dit maak nie.  Wat Hy beloof, dit doen Hy, maar wel op sy tyd.  Soos wat Hy gewaarsku het dat Hy ons vryheid van ons sou wegneem, mits ons na Hom terugkeer met hart en siel, so het Hy beloof om aan die getroue oorblyfsel redding te gee op die REGTE TYD, sodat sy grote Naam daardeur verheerlik kan word.  Hy is ‘n God wat nie sy beloftes breek nie.  Daar is egter ‘n voorwaarde aan verbonde vir die vervulling van ons belofte van verlossing – ons moet ons voor Hom verootmoedig, Hom herinner aan sy beloftes en om redding smeek.  Miga 6:8:  “…en wat vra die HERE van jou anders as om reg te doen en liefde te betrag en ootmoedig te wandel met jou God?”

Om in ootmoed te leef beteken om daagliks bewus te wees van jou afhanklikheid van Hom en met ‘n blye gevoel van onderdanigheid jou lewe aan Hom te wy.  Dit beteken dat jy uit dankbaarheid aan Hom gehoorsaam wil wees en ‘n lewe nastreef wat Hom welbehaaglik is.  Hoe lank sal ons aanhou om ons eie nietighede na te jaag aangesien ons moed opgegee het vir vryheid in ons land.  Ons glo dat dit nie meer haalbaar is nie.  Dinge het te ver agteruitgegaan en daar is nie meer hoop nie.  Laasgenoemde is om te insinueer dat iets vir God onmoontlik is en dit is heeltemal van die waarheid ontbloot.  Ons kan gestroop word van ons eie huise, plase, besighede, kerke, skole, kultuurbyeenkomste, verkiesingsregte, “menseregte”, ja selfs ongelukkig ook van geliefdes, maar ons volk mag nooit sy geloof in die Almagtige verloor nie.  Ons leer in Heb. 11:6 dat dit onmoontlik is om God sonder geloof te behaag.  Hebreërs 11:1:  “Die geloof dan is ‘n vaste vertroue op die dinge wat ons hoop, ‘n bewys van die dinge wat ons nie sien nie.” Deur geloof het Noag sy huisgesin gered terwyl die mensdom in die wêreldvloed omgekom het.  Deur geloof het Abraham & Sara op hul rype leeftyd hul eersgeborene ontvang wat die vader van ‘n menigte sou word.  Deur geloof was Abraham selfs bereid om sy seun, in wie die belofte van ‘n nageslag opgesluit was, aan God te oofer.  Deur geloof het Moses die Israeliete op droë grond deur die Rooi see laat trek, water uit die rots laat drink asook met kwartels en manna gevoed.  Deur die geloof is koninkryke oorweldig, geregtigheid uitgeoefen, beloftes verkry, die krag van vuur uitgeblus, die skerpte van die swaard ontvlug.  In geloof het ons voorouers uit Europa gevlug ter wille van hulle geloof en is daar jare later ‘n nuwe volk hieruit gebore – Die Boere-Afrikanervolk.  ‘n Volk wat die krag van God regdeur sy geskiedenis kon beleef en dit aan sy nageslag kon oorvertel maar tog van Hom vervreemd geraak het.

Geagte volksgenote, dit is vir ons tyd om te buig.  Ons moet bitter laag buig om weer te gaan soek na ons wortels, m.a.w. dit wat ons hier aan die suidpunt van Afrika help plant en anker het, nl.  ons geloof in die Almagtige Drie-Enige God van hemel en aarde om vandaar ons Vader te herinner aan sy beloftes aan ons.  Voordat ons nie voor Hom buig nie, sal ons nie weer kan opstaan nie.  Onthou, ons kan Hom getrou ag wat dit beloof het. (Verw. Heb. 11:11).