Hannes Ollewagen
Matt. 11:25-30
Vers 30: “…want my juk is sag en my las is lig.”
In ‘n wêreld waarin dit soms moeilik voel om reg te doen, klink bogenoemde versie nie heeltemal van toepassing in die tydsbestek waarin ons leef nie. Wanneer ons heeltyd mense probeer behaag, sal dit nie vir ons na die waarheid voel nie. Wanneer ek egter aan God gehoorsaam is omdat ek Hom liefhet en te behaag, ongeag mense se reaksie en opinie, verander die situasie handomkeer.
In vers 25 praat Jesus eintlik namens elkeen van ons wat die Evangelie ontvang het. Ons moet saam met Christus vir God dank dat Hy die Evangelie aan ons, eenvoudige mense, gegee het. Hy het dit gedoen nie omdat daar enige verdienste van ons kant af is nie, maar bloot omdat dit sy welbehae was. Hoe maklik kon ek nie ingesluit gewees het by die groep mense vir wie hierdie dinge verborge is nie? Vir hierdie onverdiende genade vra God doodeenvoudig waardering en dankbaarheid. Ons moet dan ook leef soos mense vir wie die Evangelie nie verborge is nie.
Ek kan my dankbaarheid aan God betoon deur gehoorsaam aan Hom te leef. Ek moet streef om te wees soos Christus, maar hoe kan ek dit doen as ek Hom nie van harte ken nie? Daarom dat Jesus ons in vers 29 nooi:
“Neem my juk op julle en leer van My, want Ek is sagmoedig en nederig van hart, en julle sal rus vind vir julle siele;”
Hy nooi ons om van Hom te leer sodat ons daarna kan streef om soos Hy te wees. Hy is sagmoedig en nederig van hart. Daarby was Jesus tydens sy tydperk op aarde altyd besig om sy Vader in gehoorsaamheid te behaag. Hy het die juk wat Hy op aarde moes dra, opgeneem en enduit gedra.
Hy nooi dan ook vanoggend vir my en u uit om meer gereeld van Hom in sy Woord te leer. Hy nooi ons ook om die juk van gehoorsaamheid en getrouheid aan God op te neem en die pad na ons eindbestemming te loop. Daarby is die juk van gehoorsaamheid aan God is ligter as die juk van gehoorsaamheid aan die wêreld en om aan wêreldse standaarde te probeer te voldoen – al lyk die teendeel vir ons waar in ons menslike swakheid. Ons kan kies om voor ons juk op die smal pad weg te draai en ‘n ander weg te kies, of ons kan kies om ons juk op te neem en saam met Hom te stap. Wanneer ons juk te swaar raak, is Christus neffens ons, mits ons die lewenspad bewandel wat Hy vir ons aanwys – daar sal Hy wees om ons te ondersteun en op te tel wanneer ons val. Wanneer ons egter afwyk van sy weë en verdwaal en seerkry langs die verkeerde weë, onthou dan dat ons Hom nie daarvoor kan verkwalik nie, want Hy het vir ons die regte weg aangewys en genooi om die pad saam met Hom te stap.
Dit is my opregte wens vanoggend dat elkeen vir wie die Evangelie nie verborge is nie, sal neerbuig voor Hom, ons Koning en Leidsman, om elkeen ons juk op te neem en sodoende as ‘n gedugte span saam te trek in hierdie wêreld waarin ons leef in die rigting wat Hy vir ons aanwys.