Hannes Ollewagen
Psalm 1:1-6
Vers 1: "WELGELUKSALIG is die man wat nie wandel in die raad van die goddelose en nie staan op die weg van die sondaars en nie sit in die kring van die spotters nie;”
Dit is interessant om die (inverse) progressie te sien in hierdie gedeelte wat vir ons mooi illustreer hoe stelselmatig Satan ons dan ook verlei en uitlok om die sonde in ons lewens in te voer. Eers wandel jy in die raad van die goddelose, m.a.w. jy luister na die menings van mense wat nie vir God ken nie. Dit gee aanleiding daartoe dat jy dit begin oordink (i.p.v. die wet van God, soos ons sien in vers 2) en dit verwek twyfel in jou lewe oor wat reg en wat verkeerd is, terwyl God se Woord die enigste ware maatstaf van reg en verkeerd in enige Godsvresende mens se lewe behoort te wees.
Hierdie vertwyfeling veroorsaak dat jy dan maar gaan staan op die weg van die sondaars. Jy moet immers darem bietjie kyk of hulle nie in sekere opsigte dalk reg het nie. Jy het reeds afgewyk van die regte weg, want jy staan nou op die weg van sondaars en nou raak jy baie onseker aangesien daar twyfel in jou hart is en jy nou vir God wil aanroep, maar sal jy Hom daar vind? Het Hy jou verlaat of het jy Hom verlaat deur af te draai na die weg van die sondaars. Aan die begin sal baie dinge vir jou walglik wees om te aanskou en jou siel sal dit verafsku aangesien jy uit God se Woord weet dat dit verkeerd is. Die psige van ‘n mens werk egter só, dat jy gewoond sal raak aan hierdie afskuwelikhede, mits jy dit genoeg aanskou. Daarom dat geweld, hoerery en ander dergelikhede vir die samelewing totaal en al aanvaarbaar geword het, aangesien ons die afgodsaltaar (die televisie) in ons huise inneem om daardie dinge daagliks te aanskou en ook ons kinders daaraan bloot te stel! Hulle raak daaraan gewoond en wanneer daardie verkeerde gedagtes waarmee hulle besoedel is hulle hartseer en ellende besorg , wil ons God blameer en vra waarom Hy dan só met ons handel? Hy wat ‘n God van liefde is! Hy is ‘n God van liefde, daarom dat Hy sy Woord, wette en verordeninge vir ons gegee het om trou te onderhou om ons te bewaar van die verkeerde weë van smarte. As ons nie wil luister nie, durf ons nie die onheil wat ons oor onsself bring voor sy deur lê nie.
Sou jy lank genoeg op die weg van die sondaars staan, sal jy gewoond raak aan die verkeerde wat daar gebeur en jou siel sal al minder ‘n afsku daaraan hê. Jy sal daaraan gewoond raak, gemaklik raak daarmee en voor jy weet, sit jy in die kring van die spotters. . . Jy aanskou nie net meer die onreg wat hulle bewerk nie, maar jy deel daarin. Hierdie is die presiese rede waarom God ons waarsku om onsself eerder af te sonder van goddelose mense, want dit is makliker om die sonde te vermy as om daarteen te stry wanneer jy in die middel daarvan verkeer. Jy gaan tog nie in die middel van die nag na ‘n gevaarlike woonbuurt ry en verwag dat jy veilig na jou huis moet terugkeer nie. Jy sluit jouself eerder vroegtydig in jou huis toe en tref die nodige maatreëls om jou teen moontlike onheil te beveilig. Waarom nie dieselfde met jou geestelike lewe nie? Waarom wil ons dit blootstel aan gevaar en roekeloos met ons geestelike lewens omgaan terwyl ons so besorgd oor die stoflike is?
Dit is soms moeilik om vir die behoud van beginsels en die reg en verkeerd in ‘n samelewing wat toenemend goddeloos raak te stry. Die aantal mense wat in die kring van die spotters sit groei daagliks met rasseskrede en vandaar bespot en hoon hulle diegene wat probeer om hul geloof en waardes te behou. Wanneer ons egter op God met ons hele wese vertrou, weet ons dat Hy self in ons lewens sal ingryp en ons weë voorspoedig sal maak(vers 3) om sodoende self die spotters se monde te stop. Daardie spotters sal moet erken dat daar ‘n Ewig-lewende God is wat die ongeregtigheid nie ongesiens laat verbygaan nie. Ons moet egter nie verwag dat ons lewensreis sonder teëspoed sal wees nie, want selfs die mooiste boom by die mooiste waterstrome het snoeiwerk nodig sodat dit selfs meer vrug kan dra en nóg mooier kan word.
Wanneer ons egter op ons pad met ons Leidsman sien hoe min van ons daarop bly stap, is dit nie rede tot kommer nie maar word ons genoegsaam bemoedig deur die wete dat Hy saam met ons op daardie weg wandel. Dan kan ons kop omhoog ons oë na Hom ophef en die pad enduit loop, want Hy ken ons weg (vers 6) en sal ons dus langs die regte pad lei.