Hannes Ollewagen
1 Kor. 12:12-31
Vers 27: “Maar julle is die liggaam van Christus en lede afsonderlik.” Soos ‘n liggaam nie uit net arms of bene of selfs net harte en verstande kan bestaan nie, so kan ‘n gesin, gemeente, gemeenskap of volk nie uit dieselfde mense en lede bestaan nie. Daar is ‘n verskeidenheid van lede en elkeen het inderdaad sy rol om te vervul aan die liggaam waaraan hy behoort.
Ons moet daarteen waak om nie Christus te wil dien op ons voorwaardes nie!! Paulus waarsku ons juis hierteen in verse 15 – 18. Net omdat dinge nie na my sin gaan nie, wil ek nie vir Christus volg nie. Ek wil my eie kop volg, ongeag waarheen die Hoof van die liggaam waaraan ek behoort, my lei. Durf ek dan sê dat ek ‘n dienskneg van Christus is of probeer ek sy raadgewer wees? Het Hy my nie geskape en die asem van die lewe in my neus geblaas en daarom kan Hy my lei waarheen Hy wil nie?
Hoe lyk ons gemeente vanoggend? Wie is die Hoof daarvan? Christus, wat veronderstel is om die Hoof te wees, of het ons ook op die wêreldse pad gevorder tot daar waar daar dalk ‘n ouderling/predikant of een of ander gesiene lid van die samelewing die hoof van die gemeente geword het? Daar is nie meer plek vir Christus nie, maar ons is verbaas wanneer ons Hom aanroep in gebed en Hy nie hoor nie? Ons is verstom wanneer ons die verkeerde leiding kry, maar die Hoof is dan deur ons verwyder om plek te maak vir ‘n hoof wat ons kan manipuleer om ons in die rigting te lei wat ons pas, al is dit dan die verkeerde rigting!
Wanneer ons deel is van ‘n liggaam waarin elkeen sy deel bydrae wat van hom/haar verwag word, is ons deel van ‘n gesonde liggaam wat gaan waarheen die Hoof ons lei, omdat selfs die ledemate wat die geringste lyk, nl. die voete, ons daarheen neem. Sou die voete nie bereid wees om te loop nie, sou dit ‘n gesukkel afgee om op die pad te vorder waarheen die Hoof ons lei. (Vers 22). Dus is dit fataal om te dink dat jy te gering is om iets te beteken in jou gemeente, gemeenskap of selfs vir jou volksaak. Indien jy jou offer na God bring met die regte gesindheid, sal Hy dit in genade aansien en aanvaar.
Waar Christus die Hoof van ‘n liggaam is, word die regte leiding gevolg. Wanneer Hy aan die Hoof van ‘n huishouding/gemeente/volk staan, trek elkeen nie in sy eie rigting om selfsugtig sy eie belang na te streef nie. Elkeen het wel sy eie doel/funksie om te verrig en dit mag op die oog af lyk asof een lid ‘n belangriker rol het om te vervul as die ander lid, maar tog weet ons dat min/geen vordering gemaak sal word indien daar nie saamgewerk word nie. Voordat hierdie volk van ons nie Christus as Hoof van ons liggaam sal erken nie, sal weinig/geen vordering gemaak word op ons pad na vryheid nie!!
Laat nie een van ons egter dink dat ons te gering is om ‘n verskil te maak nie. Jy kan dalk net daardie voet wees wat nodig is om die eerste tree te gee in die regte rigting of selfs net daardie “onbenullige” knieskyf wat nodig is om hierdie liggaam van ons volk te laat buig in verootmoediging voor Hom!