Hannes Ollewagen
Psalm 106:1-48
In vers 3 van hierdie Psalm sien ons dat dit goed is voor Hom om die reg te bewaar en altyd geregtigheid te doen. Maar hoeveel mense is nie daarop uit om net “geregtigheid” te doen en “reg” te doen wanneer hulle deur ander mense gesien en dus geprys kan word nie? Dit laat my dink aan die opdrag dat ‘n mens nie jou liefdadigheid voor die mense moet bewys om deur hulle gesien te word nie of dat jou linkerhand nie moet weet wat jou regterhand doen nie.
Tog is daar so baie mense wat in hul wese dwaal wanneer hulle organisasies wat hul oënskynlik beywer vir liefdadigheidswerk maar in wese bedorwe is, ondersteun. Ja, maar dit gaan vir ‘n goeie doel, sal die verskoning wees! ‘n Goeie doel met ‘n verkeerde en geveinsde gesindheid is nie vir God aanvaarbaar nie.
Deur dit te doen, dink jy dat jy God kan bedrieg of kan manipuleer terwyl Hy ons elkeen se diepste wese ken en ons geken het nog voordat ons in ons moederskoot geweef is!Dis ook vir ons duidelik dat ons die reg moet bewaar, en altyd geregtigheid moet doen. Dit is dus ons verantwoordelikheid om die waarheid en reg te bewaar en te verkondig, selfs wanneer dit teen die politieke atmosfeer/rigting ingaan en selfs wanneer die kerk die reg verlaat. Die enigste maatstaf van reg is die onfeilbare Woord van God. Dit is waarom dwaalgeeste en misleiers hul beywer om gedurig aan die Woord van God te verander en dit te oor te veraal; hul dink in hul dwaasheid dat hul die “reg” op hierdie manier sal kan verdraai sodat dit hulle sal pas. Hulle probeer die Woord van God aanpas om by hul verkronkelde en dwalende lewenswyse aan te pas i.p.v. om die Woord as hul Rigtingwyser te gebruik om hul te bewaar of selfs terug te bring van die verkeerde en dwalende paaie in die lewe!
Hoe kan ons nie saam met die Psalmdigter in verse 6-14 getuig hoe ons volk ook telke male die wonderdade van God in ons geskiedenis aanskou het net om gou weer van Hom te vergeet nie? Hoeveel keer het Hy nie al vir ons gewys dat die enigste betroubare rigtingwyser en die enigste betroubare maatstaf vir ons lewens sy onfeilbare Woord is nie? Tog dwaal ons keer op keer af en het Hy dan ook vir ons volk gegee wat ons gevra het! (Vers 15). Hy het ons oorgelewer aan ‘n heidense meerderheidsregering, want dit is dan wat ons gevra het! Ter wille van sport, genot en ter wille van die vermyding van bloedvergieting het ons gevra om deur ‘n heidense regering oorheers te word en het Hy dit toegelaat, maar nou weet ons nie waar die maerte in ons volk se siel vandaan kom nie? Het ons nie ook ons Heerlikheid verruil vir ‘n nietigheid van wêreldse aanvaarding, genietinge en ‘n doellose gejaag na wind nie? (Vers 20). Het ons nie ons Verlosser vergeet wat ons aan die suidpunt van Afrika geplant het nadat Hy enkelinge verlos het van die Roomse vervolging in Europa en op hierdie manier ‘n nuwe “wingerd” op ‘n vrugbare heuwel geplant het met die hoop dat dit vir Hom sou vrug dra nie? Dieselfde God wat ons verlos het by Bloedrivier, dieselfde God wat ons verlos het van die ewige verderf!! Het ons nie ook ons kosbare land, wat Hy deur soveel genade en troue sorg aan ons gegee het, versmaai nie? (Vers 24). Het ons nie toegelaat dat ons met die heidene (van verskeie rasse en volke, ook Amerikaanse en Europese) vermeng raak en sodoende hul werke aangeleer sodat hulle afgodediens en verkeerde handel vir ons ‘n strik geraak het nie?
As die antwoord op bogenoemde vra nie “ja” is nie, waarom sien ons dan hoe Hy sy hand teen ons opgehef het sodat ons land in ellende wegsak? Ons sien hoe mede-Afrikaners daagliks beroof, aangerand, gemartel en vermoor word, maar ons mag nie weerstand bied nie. Diegene wie se moed hul begewe gaan soek toevlug oorsee en sodoende word ons en ons nageslag onder die nasies verstrooi. (Vers27).
Hoe diep ons volk onrein geword het deur ons dade, is vir my as mens onmeetbaar. God het my gelukkig nie as regter aangestel om te oordeel nie, maar het wel ‘n brandende begeerte in my hart gewek om elkeen wat waarlik in Hom glo, te vermaan om te luister na die roepstem van Hom wat ons terugroep na Hom. Daar is vir ons geen ander heil as om ons voor Hom te verootmoedig en sy aangesig te soek en te smeek om genade vir verlossing nie. Dit is waar dat die laaste een van ons teen Hom gesondig het (vers 6), maar dit is ook waar dat Hy getrou bly, al is ons ontrou, omdat Hy nie ‘n mens is nie en omdat sy goedertierenheid ongelooflik is vir diè wat Hom vrees. (Vers 45).
Mag Hy elkeen wat steeds geroepe voel om tot eer van sy Naam hier aan die suidpunt van Afrika te leef, sodoende louter en folter, dat ons Hom met die suiwere gesindheid sal nader om verlossing, soos waarvan ons lees in vers 47: “Verlos ons, HERE onse God, en versamel ons uit die nasies, dat ons u heilige Naam kan loof en ons beroem in u lof!”