WEES ‘N REGVERDIGE ONDER JOU TYDGENOTE
Hannes Ollewagen
Gen. 6:1-22
Dit voel baie maal vir ons asof die wederkoms van Christus al op hande is en die einde van alle dinge eersdaags sal aanbreek wanneer ons na die afvalligheid van die mense in die samelewing rondom ons kyk en die sedelike en morele verval in oënskou neem. Wanneer ons hierdie gedeelte lees, wat maar die sesde hoofstuk in die Woord van God is, sien ons dat die afvalligheid en onheiligheid van ons tyd, niks nuuts is nie.
Alreeds in hierdie dae, wat maar nog as die begintye van die huidige skepping, soos wat ons dit ken, beskou kan word, was die mense al baie afvallig van God en was die boosheid van die mense groot en die versinsels van hul harte altyddeur sleg. (Vers 5). Die mense het soveel boosheid bedrywe en hul handelinge só sleg gemaak, dat dit God selfs berou het dat Hy die mens op die aarde gemaak het.
(Vers 6). God het die mens dan gemaak en sy Gees in die mens geplaas sodat Hy in hul harte kan heers, maar die vleeslike sinlikheid het die oorhand gekry en die wêreldse begeerlikhede het uiteindelik die liefde van God en dus ook die nabyheid van sy Gees uit die mens se hart verdryf (vers 3).Aangesien die mens nie meer voor God geleef het soos wat Hy van die mens verwag het nie, en hulle slegs daarop uit was om hul menslike, vleeslike en sinlike begeertes te bevredig, het God besluit om ‘n einde te maak aan die lewe van alle vlees hier op aarde. Omdat God egter regverdig is, sien Hy vir Noag, wat ‘n regverdige en opregte man onder sy tydgenote was, in genade aan. (Vers8&9). God laat nie vir Noag saam met die goddelose mense omkom nie, maar waarsku hom betyds om sodoende sy en ook die lewens van sy familie te spaar.
Ons lees in vers 9 dat Noag met God gewandel het, daarom kon Noag ook sy leiding volg. Hy het nie afgedwaal van die regte pad om sy eie kop te volg nie, maar hy het eerder in geloof God se leiding gevolg en met Hom gewandel - kyk wat was die doel en uiteinde daarvan! Raak ons nie ook gereeld moedeloos wanneer dit vir ons voel dat ons die laaste handjievol “regverdige” mense in ons land of op aarde is nie? Wat baat dit my dat ek ‘n regverdige lewe lei, terwyl die hele mensdom hul bandelose lewens geniet en altyddeur vrolik en kommervry leef terwyl ek my siel kwel oor die verkeerde en myself soveel “geluk” ontneem deur behoudend te leef?
Maar: om behoudend en verantwoordelik te leef ontneem jou alles behalwe geluk; inteendeel, dit beskerm jou teen lewensterreine waar jy jouself onbeskermd sal vind, daar waar die satan met al sy mag op jou kan losbars om hartseer en verwoesting in jou lewe te saai. Om behoudend en verantwoordelik te leef en om gedurigdeur na God te soek, is mos om met Hom te probeer wandel om sodoende na sy Stem te luister en sy leiding te volg want Hy sal jou nie langs die verkeerde weg lei nie! Hy sal ook nie die goeie dinge van dié wat in opregtheid voor Hom wandel weghou nie, maar sal jou wel beskerm teen onheil wat soms deur die verderwer (die satan) voorgehou word as geluk.
Wanneer ons na God se stem luister en in gehoorsaamheid aan Hom probeer leef, mag dit soms vir ons ook na ‘n nodelose stryd voel, soos om ‘n ark te begin bou terwyl daar dalk nie eers ‘n teken van ‘n wolkie in die lug is nie. Dit is egter waar ons geloof ter sprake kom. Is ons geloof nie ‘n vaste vertroue in dit wat ons nie kan sien nie? Mag ek eerder vra: is ons geloof nie veronderstel om ‘n vaste vertroue te wees in Hom wat ons nie fisies sien nie? Ons moet egter leef as mense wat die Onsienlike gesien het!
Hierdie is ‘n uitdaging vir elkeen van ons om in ware geloof ons waardes te behou in ‘n samelewing waar mense leef om ander mense en die wêreld ter wille te wees en waar mense liefhebbers van hulself en genot geword het en van God vergeet het. Laat ons leef as mense wat van ons eie vleeslike behoeftes vergeet en voluit vir Hom leef. Kom laat ons lewe ‘n srtyd word vir Christus, ‘n stryd vir die behoud van ons taal, ons kultuur, ons volk, ons vaderland, maar bo alles, ‘n stryd vir die behoud van die ware Christelike geloof in die land wat Hy aan ons toevertrou het.
Al is my lewe ‘n stryd van begin tot einde, van my eerste tot my laaste asemteug, weet ek dat wanneer ek met Hom wandel, ek nooit alleen stry nie en boonop altyd aan die Oorwinnaarskant stry, want – een plus God, is die wenspan!