Hannes Ollewagen
Psalm 139:1-24
In verse 1 – 6 van hierdie gedeelte beskryf die psalmdigter vir ons hoe naby God aan elkeen van sy kinders is wat Hom waarlik liefhet en in wie se harte sy Gees woon. Veral in vers 3 sê die psalmdigter dan ook dat God deurgaans bewus is van waarmee ons besig is – “… en U is met al my weë goed bekend.”
Almal van ons voel soms asof God daar ver in die hemel op sy troon sit en vandaar regeer oor die aarde. Hierdie grote heelal met sy warboel en bedrywighede is volgens ons genoeg om Hom só besig te hou, dat Hy nie veel erg het aan dit wat ons doen nie. Dit is egter nie waar nie aangesien ons weet dat Hy met al ons weë goed bekend is.
God sit nie daar ver op sy hemeltroon en wag net dat ons iets verkeerd doen sodat Hy ons kan straf nie! Hy het nie sy wette en verorderinge gegee om ons lewens ‘n swaar las op te lê nie, maar juis omdat Hy vir ons omgee. Hy weet wat goed is vir die mensdom terwyl ons uit onself niks goeds kan bedink nie. Hy het ons immers geskape en ken ons beter as wat ons onsself ken. Hy het nie hierdie wette vir ons gegee sodat ons dit kan oortree en Hy ons kan straf nie, want as Hy ons vergeld na ons werke, wie sou dan op aarde kon bestaan?Dit beteken egter nie dat God nié die sonde en ongeregtighede straf nie. Hy is en bly ‘n heilige God wat die sonde haat, maar sy liefde vir sy kinders oorskadu ons ongeregtighede. Sy liefde het Hy aan ons bewys deur self ‘n Volmaakte Offer as losprys vir ons wat waarlik in Hom glo se siele, te stuur sodat ons vry van die sonde kan wees. Dit beteken nie dat ons sondeloos leef nie, maar dat ons nie meer slawe van die sonde is of wil wees nie. Dit veroorsaak dat ons in dankbaarheid aan Hom sy gebooie en verordeninge wil nakom en die sonde wil haat, soos wat Dawid die vyande van God haat (vers.21&22). Ons vrywees van die sondelas laat al meer en meer ruimte in ons harte vir God se Gees. Daar is dan nie meer die plek vir sonde nie maar wel vir God se Gees – ek moet kies of ek die sonde wil vertroetel en sy Gees in my wil bedroef, of wil ek teen die sonde stry en sodoende deur sy genade en krag, al meer plek vir sy Gees in my lewe maak? Indien ek kies dat sy Gees in my hart die heersende rol moet vervul, sal ek ‘n lewe begin leef waarin my besluite gerig word volgens God se wil in my lewe en kan ek met reg begin sê dat ek ‘n dienskneg van Hom is. Ek doen dan nie meer my eie wil nie, maar die wil van my Vader wat in die hemel troon.
Alvorens ek enige besluite neem, is ek daarvan bewus dat God van die besluit wat ek moet neem bewus is. Ek probeer nie my besluite vir Hom wegsteek of regverdiging vir verkeerde besluite soek nie, want ek ken Hom in al my weë alvorens ek enige besluite neem, aangesien ek weet dat ek vir Hom niks kan wegsteek nie, maar ook vir Hom niks wil wegsteek nie! Hierdie groterwordende teenwoordigheid van God se Gees in my lewe sal tot gevolg hê dat ek nie meer regverdiging vir die sonde in my lewe soek nie, maar die sonde begin verafsku en uit my lewe WIL uitroei. Dit sal tot gevolg hê dat ek God sal raadpleeg en sal vra om my op die verkeerde dinge in my lewe te wys, sodat ek dit kan regmaak om onberispelik voor Hom te leef, aangesien ek weet dat hoe meer gehoorsaam ek aan Hom leef, hoe duideliker sal ek sy Stem in my lewe hoor.
Die pad van genesing wat ons volksgenote elkeen sal moet stap, is die pad van verootmoediging. Om in ootmoed voor God te leef, beteken om jou eie wil en lewe ondergeskik te stel aan God se Wil vir jou lewe. ‘n Mens kan egter nie jou lewe ondergeskik aan Hom stel, as jy nie weet wat sy Wil vir jou is nie. En ‘n mens kan nie weet wat sy Wil vir jou lewe is as jy nie luister nie. ‘n Mens kan ook nie luister as jy nie hoor nie. En ‘n mens hoor niks wanneer die gedruis en verleiding van sonde die klank van God se Gees in jou hart verdoof nie. Ons moet elkeen m.a.w. stry teen die verkeerde in ons lewens en die onkruid met wortel en tak uitroei sodat daar meer plek vir Hom binne ons sal wees.
Die pad van herstel in ons land begin dus by ons eie lewens waar elkeen van ons ook stil raak voor Hom en vra: “Deurgrond my, o God, en ken my hart; toets my en ken my gedagtes; en kyk of daar by my ‘n weg is van smart, en lei my op die ewige weg!”